Só maak jy die langpad korter

akkreditasie
Dis tyd vir toer, maar die N1 het nie einde nie. Die kinders begin skop aan die agterkant van jou sitplek, een vra “hoe ver nog” en iewers in die kar rattle daar iets wat jy net nie kan opspoor nie...

Hier is ’n paar wenke om seker te maak dat die langpad jou nie onderkry nie. 

Rybewys. Maak seker jou rybewys is in orde, veral as jy iets sleep. As dit nie ’n kode-EB lisensie is nie, mag jy nie sleep nie.

Panic mechanic. As jy op pad is na die diep boendoes toe, skryf die telefoonnommer van die plaaslike mechanic en die polisiekantoor in die laaste groot dorp neer. Dit kan jou bas red.

Hou hom laag, Louis. Pak swaar goed soos die blikkieskos en meel so laag as moontlik, om die swaartepunt van jou vrag laer te hou.

Los ’n kopflits in jou paneelkissie. Op hierdie manier kan jy dadelik tot aksie oorgaan wanneer jy in die donker ’n pap wiel moet regmaak.

Hou dit los. Baie mense raak hardlywig as hulle twee dae aaneen ry. Maak ’n plastiekbak vol vars goed soos kersietamaties, mangetout-ertjies, babawortels, appels en pere en stuur dit gereeld in die kar rond. Wees versigtig met die grondboontjies…

Musiek vir almal. Dink só daaraan as jy op jou tande kners terwyl jou 12-jarige meisiekind se Justin Bieber-CD deur die kar se luidsprekers blêr: Iemand gaan eendag vir jou moet sorg as jy bejaard en verswak is. Laat elke lid van die gesin ’n paar padmusiek-CD’s maak. Só kry elkeen se musieksmaak ’n bietjie lugtyd.

Snoepgoed. Sorg dat daar altyd droëvrugte en biltong voor in die voertuig is, want dit gebeur soms dat ’n mens nie tyd het om stil te hou vir vir middagete of piekniek nie.

‘That’s Amore…’ Bestel die aand voor julle vertrek pizza vir almal sodat jy nie hoef kos te maak terwyl jy pak nie. Bestel sommer twee ekstra grotes, dan hoef jy ook nie ontbyt te pak nie…

Ken die aksynsreëls. Maak seker jy weet wat die grensposvoorskrifte oor kos en drank is, sodat jy nie jou tien jaar oue KWV moet oorhandig nie.

Jou noedel! As jy daai twee verbleikte swembadnoedels wat in jou swembad ronddryf met kabelstroppe tussen die fietse op die fietsrak vasmaak, sal die fietse mekaar nie stukkend skuur nie.