Deel

Stap kuslangs deur Harkerville

akkreditasie
Die Harkerville-roete tussen Plettenbergbaai en Knysna (26 km) is ’n korter weergawe van die bekende Otterstaproete. Maar dit beteken nie jy hoef nie fiks te wees nie!

Die Harkerville-kusstaproete tussen Plettenbergbaai en Knysna is ’n korter weergawe van die bekende Otterstaproete. Maar hoewel dié 26 km lange roete nie naby die Otter se 43 km kom nie, beteken dit nie dat jy sommer lag-lag Harkerville se kuslyn gaan kafdraf nie.


DAG EEN (14 km)

Hoewel die Harkerville-kusstaproete oor net twee dae strek, is dit nie kinderspeletjies nie… 


Hoe lank stap ek? 5-6 uur (as jy rustig stap)

Wat kan ek verwag? Jy spring weg met ’n paadjie wat jou deur ’n inheemse woud neem, maar voor jy té gemaklik raak, moet jy oor ’n paar stroompies klipspring en dan wag die kuslyn doer onder vir jou. Die kuslyn hier is anders… skerp, skurf en klipperig met kranse wat in die agtergrond tot in die see wegval. Dis hiér waar jy die roete begin voel. Kyk mooi waar jy trap, stap stadig en geniet dit.

Hoogtepunte? Trek die koel lug van die woud tot diep in jou longe wanneer jy onderdeur die hemelhoë geelhoutbome stap en luister na die fluitgesang van die wielewaal. Verder op die roete is daar ’n oopte in die woud waar die departement van bosbou in die jare twintig Kaliforniese rooihoutbome as deel van ’n proeflopie aangeplant het.

Vat ’n blaaskans nes jy uit die woud beweeg en verkyk jou aan die uitsig na die weste oor Noetzie en Buffelsbaai en na die ooste oor die Robberg-skiereiland.

As jy die kus bereik (ná die kettings), loop jy verby ’n grot. Klim in en gaan loer ’n bietjie rond. Hope skulpe en bene dui daarop dat dié grot op ’n tyd deur die nomadiese Khoi gebruik is vir skuiling. 

En as jy tussen September en November hier stap, het jy ’n goeie kans om suidelike noorkapperwalvisse te sien wanneer hulle uit die water spring, hulle stertvinne teen die water klap en selfs die wind vang met hulle sterte – nes ’n seil!

En die swaarkry? Op een plek lyk dit asof jy moet terugdraai, want die roete word blokkeer deur ’n klompie kranse wat tot in die see loop. Bedaar. Wees net op die uitkyk vir die kettings wat teen die roste vasgebout is. Moenie te veel ondertoe kyk waar die golwe teen die kranse breek nie… skuifel net vorentoe, hou styf vas en alles sal oukei wees.

Die klim tot bo waar die oornaghut wag, is ook nie vir papbroeke nie: Hier brand jou bene nét so erg soos teen van die Otter se steilste bulte. Maar, net soos op die Otter, wag daar ’n indrukwekkende gesig om elke hoek en draai.

Onthou jou swembroek. Daar is heelwat rotspoele langs die roete waar jy kan swem én snorkel, veral as jy tydens laaggety stap. Jy gaan dalk aan die begin van die roete effens verspot lyk met ’n paar paddavoete wat op jou rugsak vasgemaak is, maar jou stapmaats gaan groen van jaloesie wees wanneer julle by die eerste poele aankom.

Verblyf. Die Sinclair-houthut is tipies staphut: Twee kamers met vier stapelbedjies elk, spoeltoilette, ’n braaiplek en ’n gróót blikketel wat al ’n hele paar koppies koffie vir moeë stappers gekook het.

Die hut kyk uit oor net ’n kaal plantasie omring deur ’n bloekombome – maar dit pla maar min as jy eers jou stapstewels eenkant gegooi het en jou moeë lyf neerlê.


DAG TWEE (12 km)

Op dag twee voel jy ekstra-spesiaal as jy langs ’n stuk ongerepte kuslyn  stap wat nog geen tekens van beskawing toon nie (en dít tussen die woelige Knysna en Plet). Stap rustig en waardeer die natuurskoon.

Hoe lank stap ek? 5-6 uur

Wat kan ek verwag? Die tweede dag begin met ’n steil afdraande tot by die seevlak. As jy rustig ontbyt eet en by een of twee poele swem, sal jy die laaste stuk klipperige strand teen die middag bereik.

Die strand eindig by ’n natuurlike boog in die rotse waardeur jy afkyk op die baai onder die bekende Kranshoek-uitkykpunt wat die kusgedeelte van die staproete op ’n dramatiese noot afsluit.

Teen dié tyd behoort jy al effens onrustig te raak as jy opkyk na die paadjie wat sigsag tot bo-op die plato – ongelukkig is dit die enigste pad tot bo.

Ná dié klim loop jy 5 km teen ’n mak helling deur die koel skadu van die woud terug tot by die Harkerville-bosboustasie waar jy die vorige dag begin het.

Hoogtepunte? Hier is so baie plekke om te snorkel dat jy skoon kieskeurig kan raak. Vat beslis jou duikbril, paddavoete en snorkel, want daar’s heelwat wat onder die water in dié poele gebeur.

Daar is ook nóg twee grotte wat uitloop op die klipperige strande langs die roete. Uit pure nuuskierigheid het ons een grot se dieptes ingevaar. Ons het ons sakke by die opening gelos en met koplampies dieper en dieper inbeweeg. Dieper in die grot het nou gange in alle rigtings vertak na ander dele van die grotstelsel. Toe ons op een plek moes leopard crawl om deur ’n gaping te pas, het ons maar liefs teruggedraai…

En die swaarkry? Op dag twee is jou sak al ligter, en jy sal gemakliker stap. Ek kon natuurlik nóg gemakliker gestap het as ek beter beplan en ingepak het… laat weet dus as iemand lus is vir ’n kilogram tweeminuutnoedels. 

Met die ekstra gewig het dit later gevoel asof ek vir Schalk Burger abba!


WEET VOOR JY WAAI


Waar begin die staproete? Ry met die N2 van Knysna af Plettenbergbaai se kant toe. Sowat 20 km buite Knysna ry jy verby The Garden of Eden. Draai regs by die Sasol-vulstasie, volg die grondpad vir sowat 2 km en draai dan weer regs. Die Harkerville-bosboustasie is aan die einde van dié pad. Jy kan jou motor daar los of by die Harkerville-hut sowat 500 m verder. Dis relatief veilig – moet net nie waardevolle artikels in jou kar laat rondlê nie.

Wenke. Dit raak koud en nat in die winter, vat dus warm klere en goeie stapstewels. Die see raak ook onstuimig en jy moet versigtig wees vir fratsgolwe. Vat genoeg water, want daar is nie vars water langs die kuslyn nie. En dink mooi voordat jy dié roete aanpak as jy bang is vir hoogtes: Daar is party dele waar die pad langs steil rotskranse loop (maar daar is wel kettings en leertjies om aan vas te klou).

Die Harkerville-hut. Verblyf by dié ou huisie van die departement van bosbou is ingesluit in die prys van die staproete. Heelwat mense bly hier oor die aand voordat hulle begin stap (wat veral ’n goeie plan is as jy van ver af reis), maar dis nie die beste of gemaklikste hut nie.

Die Sinclair-hut. Hierdie basiese hut het genoeg slaapplek vir 16 mense. Daar is twee kamers met stapelbedjies en matrasse. Daar is ’n braaiplek, asook braaihout, ’n rooster en kampketel. Spoeltoilette en watertenks vang reënwater op vir drinkwater. Die hut het nie storte nie en pak jou eie beddegoed in. Maak seker die hut is skoon en netjies, en die deur deeglik toe voordat jy waai.

Besprekings: Skakel Sanparke se streekkantoor in Knysna by 044 302 5606, stuur ’n e-pos na * reservations@sanparks.org of besoek www.sanparks.org. Meld by die Sanparke se kantoor in Harkerville (044 532 7770) aan om jou permit af te haal voordat jy gaan stap.

Prys: ’n Permit vir die roete kos R300 p.p. (R240 as jy ’n Wild Card het) Jy móét ten alle tye jou permit by jou dra. 

Stoor dié noodnommers op jou selfoon. Harkerville-bosboustasie: 044 532 7770 en die NSRI (Plettenbergbaai): 082 990 5975