Die Helsrivier vorm deel van die Olifantsrivier-opvangsgebied tussen Middelburg en die Loskopdam in Mpumalanga. Die omgewing bestaan uit ’n netwerk dramatiese klowe wat uitgekerf is tussen rooi sandsteenheuwels.
Die roete strek deur ongerepte klowe waar min mense kom – die soort plek waar jy hééltemal van PowerPoint-voorleggings en begrotings vergeet!
Die staptog begin by Loskop Adventures se kantoor op die rantjie van ’n welige kloof van een van die Helsrivier se sytakke. Jy stap vir ’n kilometer op ’n grondpad al langs dié rantjie en daal sowat 130 m tot waar die grondpad aan die bopunt van ’n abseilterrein doodloop.