Leser vertel: 46 dae, 14 800 km, 5 lande...

akkreditasie
Saligheid
Saligheid
Uit die argief: Georganiseerde selfrysafari’s met ’n toerleier is ’n goeie manier om wonderlike plekke soos die Serengeti te sien. Hans von Gordon van Port Elizabeth het ’n paar jaar gelede vertel hoekom hy en sy vrou hierdie opsie gekies het vir hulle toer.

Ons wou Serengeti toe gaan, maar hoe gemaak met die reëlings, papierwerk en al daardie grensposte wat oorgesteek moet word? Toe bespreek ons plek op ’n selfrysafari en het ek en my vrou, Erina, en nog sewe paartjies in konvooi deur Botswana en Zambië tot in Tanzanië en die Serengeti gereis.

Ons het die wildebeesmigrasie op sy beste beleef, aan die voet van Kilimandjaro gekamp, die Ngorongorokrater gesien, in die Ruahariviervallei gery en toe ook in Zanzibar by wyle Freddie Mercury, sanger van die rockgroep Queen, se geboortehuis ’n draai gaan maak.

Daarna is ons al langs die Malawimeer en deur Mosambiek terug huis toe.

Olifante
Olifante is volop by Botswana se Elephant Sands-kampplek. Jy sien hulle in die kampplek, en ook op ’n skemerkelkievaart op die Choberivier dobber en speel hulle vlak voor jou in die water.

BOTSWANA

Ons sluit by ons medereisigers aan op Modimolle. Dis net vinnig hand skud en inval, ons is agt pare in die konvooi.

Ons vat die pad na Lephalale en die Groblersbrug-Martinsdrif-grenspos. Dis laatmiddag toe ons die Kwa Nokeng-lodge se kampplek net duskant die grens binnery. Ons toergidse maak ook vir ons twee etes per dag: ’n groot ontbyt met enigiets van graanontbyt tot spek, wors en eiers; en dan saans heerlike kos soos braaivleis, vis, pasta en hoender met bykosse. Dis saam met die park- en kampgeld ingesluit by die prys vir die selfrytoer. Jy bring net jou eie peusel- en drinkgoed saam.

Ná ete is dit vroeg bed toe. Almal is moeg en ons moet vroegdag vertrek na ons volgende bestemming – die Elephant Sands-kampplek naby Nata. Hier is die olifante volop en hulle loop vlak by ons waens en tente verby. ’n Befoeterde bul maak of hy van die mense op die lodge se stoep gaan bestorm en een skuur sy lyf teen een van ons waens.

Dan is dit Kasane toe. Ons slaan kamp op by Thebe River Safaris langs die Choberivier. Die paaie in hierdie Afrika-geweste is sleg en vol slaggate, en by elke dorpie is spoedbultjies in die pad. As toeris word jy geteiken, en amper al die bestuurders in ons konvooi moet op die plek ’n stewige boete betaal omdat hulle in een stadium sowat 2 km/h vinniger as 50 km/h gery het.

Dis ’n gelol om hier waar ons gaan kamp, ’n dieselpomp te kry wat nie droog is nie, maar eind goed alles goed. Ons skemerkelkievaart op die Chobe is vier uur lank.

ZAMBIË

Ons vat vroegdag die veerboot Zambië toe, gaan kyk die Victoriawaterval en slaan vir die nag kamp op in die Moorings-plaaskampplek tussen Monze en Mazabuka.

Ons volgende staanplek is die Forest Inn langs die Lusaka-Tanzanië-pad, ongeveer 70 km van Kapiri Mposhi af. Daarna draai ons van die hoofpad af en vat die grondpad van sowat 30 km na die Kapishya-warmwaterbron.

Ons drink skemerkelkies in die warm, swaelvrye water wat uit die aarde uit borrel en lawe ons lywe. Ons eet ouder gewoonte so teen agtuur en kuier weer vir ’n uur of twee om die kampvuur voor ons gaan inkruip.

Vroegoggend mik ons Isoka toe, na die King’s Highway-ruskamp. Sendelinge het dié plek ontwikkel en dis ’n mooi kamp.

Die Zambiese kant van die Vicoriawaterval.
Die Zambiese kant van die Vicoriawaterval.

TANZANIË

Dis ’n nagmerrie om by Tunduma die grens na Tanzanië oor te steek. Vragmotors staan in kilometer lange rye en wag, en van hulle staan glo dae lank voor hulle kan deurgaan.

Gelukkig doen ons toergids hierdie ding al jare. Hy het gesorg dat ons vroeg en voor al die busse met die hordes mense daar stilhou. Hy is ook ferm met mense wat voor in die ry wil indruk. Dit vat ons so vier uur om deur te kom. Dis vinnig, want ander ouens sukkel agt uur of langer.

Ons volgende oornagstop is die Old Farm House-kampplek in Iringa. Ons gaan drink wyn en eet in dié oornagplek se kroeg en restaurant. Dié kuierplek is wat mense rustic noem, en die kos is basies.

Op pad na die Crocodile-kamp stop ons by die naaste dorpie vir bier en iets te ete. Ons gaan draai ook by die kremetartwoud naby die kampplek. Hier staan meer as ’n honderd kremetarte per hektaar en dis iets om te sien.

Vroegoggend ry ons met die Ruahariviervallei langs na Arusha om te gaan dollars omruil.

Die kwik staan ver bo 30 ºC en koue roomys gaan goed af.

Die Tembo-kampplek naby Same is nie ’n lekker plek nie. Dis ’n ou saagmeulterrein.

Teen donker sak daar ’n reëntjie uit, en die aand is lekker en jolig – met goeie kos, golden oldies en ’n paar dansdraaie.

Kilimandjaro, Serengeti, Ngorongoro

Die Coffee Tree-kampplek in Marangu is aan die voet van Kilimandjaro. Die weer speel nie lekker saam nie en met baie wolke en mis kan ons nie die kruin van Kilimandjaro sien nie.

Ons volgende stop is die Meserani Snake Park-lodge se kampplek by Arusha en van hier af ry ons deur Karatu na die Serengeti en kry ons staan in die Tumbili-kamp. Ons staan vir sewe dae in die Serengeti en was maar dankbaar ná die dosyne keer se op- en afslaan tot hier. Met opstaantyd is ons bekaf om by die kampmense te hoor ons moet na ’n ander kamp skuif, maar die Ngiri-kamp is toe wel ’n beter en netjieser kamp.

Ons sien nie minder nie as sowat twee derdes van die 1,5 miljoen wildebeeste wat in dié tyd migreer. Dis iets wat jy moet beleef en moeilik is om te beskryf. Ons sien ook baie olifante en leeus. Interessant genoeg is die meeste leeus wat ons sien, iewers in ’n koppie of boom waar hulle hulle prooi kan dophou en glo die vlieë kan ontduik.

Ons besoek die Ngorongorokrater en kamp weer by Arusha en Tembo, en dan vat ons die pad na Dar es Salaam.

Laatmiddag vleg ons deur die nagmerrie verkeer en vat die veerboot na die Mikadi-kampplek langs die see. Dis ’n lekker aand met skemerkelkies en goeie seekos onder die palmbome van die lodge se strandrestaurant.

Freddie se huis

Vroegoggend vat ons toek-toeks vir die veerboot na Zanzibar, waar ons vir ’n aand in die Mtoni Marine-lodge buite Stone Town gaan oorslaap. Ons besoek die speseryplaas en leer alles en nog wat oor die kweek van spesery. En ons proe.

Die volgende oggend besoek ons Stone Town se kleurryke mark waar jy enigiets van ’n lewendige hoender tot sandale kan koop. Ons besoek die geboortehuis van Freddie Mercury, hoofsanger Queen. En dan gaan eet ons by ’n restaurant met sy naam.

wildebeesmigrasie op sy beste
Hulle ervaar die wildebeesmigrasie op sy beste.

MALAWI (EN DIE MEER)

Ons vat vroegoggend die veerboot terug Dar es Salaam toe om die lang terugtog huis toe te begin. Dit mag vroeg wees, maar die verkeer is al klaar woes.

Nou mik ons vir Mbeya en die grenspos na Malawi. Ons eerste aand kamp ons by die Chintheche Inn langs die meer. Ons ry al met die meer af en staan oor by Sengabaai, en dan steek ons die grens oor vir die laaste trek Suid-Afrika toe.

MOSAMBIEK EN HUIS TOE

Ons kamp onder meer by Tete – in ’n klein en netjiese kampplek langs die Zambesi – en by die Buffalo-kampplek langs die EN1 in die distrik Machanga. Daarna ry ons kuslangs. Vilankulos, Inhambane, Inharrime en verby Maputo...

Ons ry sowat meer as ’n maand later teen laatskemer deur die Komatipoort-grenspos huiswaarts. Dan kom ons uiteindelik, ná 46 dae en amper 15 000 km, veilig terug by die huis.

Interessante brokkie

Die groep se gemiddelde spoed vir die reis was volgens die GPS 47 km/h en dit kan jy toeskryf aan die slegte paaie, al die busse en vragmotors op die pad.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #98 (April 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.