Leser vertel: As die modder jou insluk

akkreditasie
Die Nissan Pathfinder en die Toyota Hilux.
Die Nissan Pathfinder en die Toyota Hilux.
Uit die argief: Johan Coetzer van Moreletapark en sy familie het ’n vakansie met 4x4’s aangedurf en ’n paar keer op dié reis tot ander se redding gekom, al het hulle self teëspoed gehad. Hy vertel.

Ek en my vrou, Drienie, reis een April saam met my swaer-hulle, Daan en Linda Botha, noordwaarts.

Die Kgalagadi-oorgrenspark is ons eerste bestemming en die eerste drie nagte in die Nossob-kamp vlieg verby.

Van hier af ry ons die Nossob-4x4-ekoroete en slaap die eerste nag in die Swartbas-kamp. Die aand ontaard in ’n lang nag van vrees, want ’n trop leeus keer ons 12 uur lank in ons daktente vas.

Daarna kamp ons in Twee Rivieren en toe is ons na Botswana oor Matopi en die Bosobogolopan tot in die Moremi-reservaat.

Ons besoek onder meer die Khwairivier asook die Savutistreek en Linyanti.

Lekker kamp
Johan Coetzer

Die reis staan einde se kant toe en ons wil ons voorlaaste nag op Kubu-eiland in die Makgadikgadipanne deurbring.

Teen laatmiddag is ons amper daar en sien ’n Nissan Pathfinder wat in die modder vasgeval het.

Dis ’n Franse ouerpaar met hulle drie jong kinders, en Ouma en Oupa is ook saam.

Die Ventertjie wat hulle sleep, is omtrent ingesluk deur die modder. Hulle was op pad na die dorpie Gweta, maar het die afdraai gemis en hier sit hulle.

Ewe voorbarig bied ek aan om hulle met my Toyota Hilux uit die gemors te kry, maar vinnig word ek ook ’n slagoffer van die panne.

Daan het ewe slim sy Ford Ranger uit die modder gehou, juis ingeval dinge nog verder skeef loop.

Met ’n paar grawe en ’n wenas is ons almal net ná sononder uit die modder en ons besluit om vir die nag sommer net hier kamp op te slaan.

Die Franse besluit hulle pak eerder die pad na Letlhakane in die donker aan.

Vroegoggend val ons weer in die pad – ook na Letlhakane  – en skaars 5 km verder sien ons die Pathfinder weer tot op sy maag in die modder!

Die Franse het hier vasgeval vir die nag. Hulle was nie voorbereid om langs die pad te slaap nie en het nie tente, komberse of kos by hulle gehad nie; net hulle klere en warm bier.

Ons is spyt ons het hulle die vorige dag alleen verder laat ry, maar twee uur later is hulle darem weer uit die modder uit.

Die ouma het hartprobleme, en dit laat my terugdink aan 2009 toe ek ’n hartaanval hier op die Makgadikgadipanne gehad het.

Hoe sou ons met onsself kon saamleef as dié mense iets oorgekom het?

Hulle het gesê hulle maak in weer ’n draai in Suid-Afrika, en het ons ’n braai met Franse sjampanje belowe!


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy & Sleep #1 (Augustus 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.