Rubriek: As trots jou begin aftrek...

akkreditasie
Trots is ’n nare ding – dit maak ’n mens hardkoppig en laat jou simpel dinge doen.

Elkeen van ons het dit, en die meeste van ons sal heftig ontken dat dit ooit ’n struikelblok is.

Ek praat nou van trots. Kyk, trots is mos maar eintlik net die neiging om jouself te oortuig jy’s reg, al is daar oorweldigende bewyse tot die teendeel.

Dit kan die enigste verklaring wees vir Bennie se gedrag.

Dis knap voor agtuur die aand, en op die staanplek langs ons staan Bennie gebukkend met sy hande op sy knieë en hyg. Truida, sy vrou, sit op haar kampstoel.

Sy laat sak haar hekelwerk en loer onsimpatiek oor haar bril: “Gebeur daar al iets?” vra sy. “Nog nie,” hyg Bennie net voor die aamborstigheid die oorhand kry en hy weer begin roggel soos ’n Bedfordlorrie met ’n vuil dieselfilter.

Dan sak hy weer af tot hy handeviervoet staan, en blaas stadig oor die smeulende hopie stokkies in die middel van die klipsirkel wat hy as ’n tydelike braaiplek gepak het.

“Gaan help tog die man,” sê Mevrou terwyl ons staan en skottelgoed was en die dinge op die staanplek langsaan van ’n beleefde afstand af dophou. Nee, ek het al twee keer aangebied, maar Bennie wil nie hulp hê nie. Bennie het mos sy trots.

Wat hy nie meer het nie, is die boksie vuuraanstekers wat ek vroeër aangebied het. Dié het hy ’n halfuur gelede al opgebruik – saam met die laaste bietjie geduld en simpatie van Truida se kant af.

Bennie is nou ’n desperate man, want trots is mos ’n eenrigtingstraat wat jou net al hoe dieper in die moeilikheid inlei. Daar’s niks plek vir omdraai sonder om jou trots in jou sak te steek nie, en dít is Bennie nie van plan om te doen nie. Vanaand gaan hy vuurmaak en klaar! 

Bennie is mos  ’n man, en ’n man kán ’n tent opslaan sonder om die instruksies te lees en ’n man kán ’n GPS gebruik en ’n kaart lees en langs die modderige agterpaaie in die Oos-Kaapse berge navigeer sonder om aanwysings te vra. En ’n man kán vuurmaak – enige man. Ook ’n pasafgetrede rekenmeester van Oos-Londen.

BENNIE EN TRUIDA is op hulle aftreetoer. Hulle is eintlik met ’n ompad deur die binneland op pad Mosselbaai toe waar Bennie sy neef se viswinkel gaan bestuur.

Hulle het ’n bietjie laat by die kampplek aangekom, want daar was ’n gesukkel by die grenspos. “Truida meen ek moes nie met die man gestry het nie, maar dit was regtig nie my skuld nie. Die paaie in dié geweste is nie ordentlik gemerk nie,” het Bennie verduidelik.

“Hulle stem nie ooreen met die kaart nie, sien, en toe ons ons weer kom kry, toe staan ons voor ’n grenspos – aan die verkeerde kant van Lesotho. Die man wou toe weet waar ons in die eerste plek oor die grens gekom het, en waar ons papiere is en so.

“Hy wou nog by my weet of ek dan nie een van daai anties saamry wat vir ’n mens beduie hoe jy moet ry nie. Toe seg ek vir hom: ‘Maar man, kan jy dan nie sien hier sit sy hier langs my nie? Sy beduie heelpad ry doer en ry daar!’ ” Bennie het half oordrewe gelag vir sy eie grappie, maar Truida het nie saam gelag nie.

DIT HET UITEINDELIK glo mooipraat en twee blikke van haar karringmelkbeskuit gekos voor die doeanebeampte Bennie se punt oor die deurmekaar kaart ingesien het. Dis dié dat dit al sterk skemer was toe Bennie eers met die vuurmakery begin het. (Dit het ook langer geneem om die tent op te slaan as waarop Bennie gereken het...)

Hy’t die wattelstompies wat hy by die man langs die pad gekoop het, eers mooi gestapel soos ’n wigwam, daardie tentjies waarin die inheemse Amerikaners in die cowboyflieks woon. Dit verg fyn werk om hulle so te laat staan, maar ná die vyfde probeerslag het die torinkie darem mooi gestaan, al het die spulletjie so effens na links oorgeleun.

Toe hy die laaste stompie stadig en sorgvuldig op sy plek sit soos iemand wat ’n tydbom moet ontlont, toe vra Truida: “Moes jy nie eers Blitz en koerantpapier onder gesit het nie? My pa het die hout altyd so dwars gepak, twee stompies so en dan twee stompies só,” beduie sy. (Dis soos die houtforte waarin die cowboys gebly het.) Maar Bennie bou weer ’n spits tent.

Drie wigwams en ’n hele pakkie Blitz later lyk die wattelstompies steeds brandbestand. Truida het al ’n paar keer iets gesê oor mense wat in die reënseisoen hout koop langs die pad, maar Bennie laat nie blyk dat hy dit gehoor het nie. Hy het wel oorgeskakel na die fort-metode, met ’n paar gefrommelde sakebladsye van die Daily Despatch. 

“Ag toe,” por Mevrou weer. “Gaan sê hy kan die gasbraaier kom gebruik; ons is mos nou klaar geëet. Jy kan nie dat die man so op sy eie aansukkel nie. Teen dié tempo gaan hulle nooit vanaand tot ete kom nie.”

Bennie wys die aanbod weer van die hand, effens meer kortaf as voorheen, maar Truida staan nader met ’n paar mielies in ’n kastrolletjie. “Dalk kan ons solank begin met die bykos,” sê sy. “Ek sal solank ’n broodjie smeer.” 

Die koerantpapier in Bennie se vuur is intussen al ou nuus. Die strokiesprente, doodsberigte, snuffelkolom en die perderesiesuitslae het almal al verkool, maar die vuurmaakhout is ongeskonde. ’n Versekeringsassessor sal reken daar’s “geringe rookskade”.

’n Mens sukkel nie met ’n trotse man nie, en ek staan maar half verleë nader om geselsies te maak terwyl Bennie weer begin blaas asof  hy van plan is om die houtstapel om te blaas, amper soos die wolf in die storie van die drie varkies.

Dis ’n verlore stryd, en soos twee cowboys wat pas ’n geliefde perd moes begrawe, staan ons in ’n ongemaklike stilte en staar na die halsstarrige hopie hout wat weier om ’n braaivuur te word. “Ek sal maar die tjops los vir ’n ander aand en net die wors braai,” sê Bennie uiteindelik.

“Ek dink jou hout is te nat,” sê ek.

“Ja, Truida meen ook so,” sê hy.

“Wat gaan jy doen?” vra ek.

“Mag ek jou gasbraaier leen?” vra hy.

Nadat hulle klaar geëet en opgewas het, stap Bennie weer oor. Dié slag het hy ’n bottel rooiwyn in hand. “Hoe lyk dit met ’n glasie?” vra hy. Voor ek my kan keer, slaan die Bolander in my deur en ek vra: “Wat het jy daar?” 

“KWV, natuurlik,” sê hy. “ ’n Man het mos jou trots!”

Dis toe eers dat Bennie se vuurtjie vlam vat.