RUBRIEK: Braai is nie vir Britte nie

akkreditasie
Fred Mouton
Uit die argief: Cyril Klopper is in 1998 met ’n tweejaarwerkpermit in die gatsak Engeland toe. Hier het die jolige gebraaiery van hom en ’n huis vol vriende nie juis goeie buurmanskap bevorder nie.

Soos baie ander verloopte Suid-Afrikaners het ek destyds in Londen as sekerheidswag in winkelsentrums of kantoorgeboue diens gedoen.

Saans, op die moltrein terug na ons onderskeie skakelhuisies, het ons die Southern Cross-koerant gefynkam vir die soort werk waarvoor ons ouers ons laat studeer het: ingenieur, ouditeur, daai soort ding. Eintlik enigiets waar jy ’n pak moes dra sonder die woord “Security” op die baadjiesak. 

My moltrein het na die voorstad Leyton – oftewel “Ley’un” – doer in die werkersklas-ooste van  Londen gekruip. Daar waar die Essex-meisies jou vriendelike aanbod van ’n glas wyn aflag en eerder ’n halfdosyn shooters afsluk – vóórdat hulle jou afjak. Ja, boerseuns soos ek het maar swaargekry.

Buiten die platvloerse meisies en ’n ooraanbod van vis-en-tjipswinkels, was Leyton bekend vir twee dinge: die oefenveld van die sokkerspan Arsenal, en ook die wortels van die rockgroep Iron Maiden. 

O, en dan is Leyton berug vir nog ’n ding: die skakelhuise vol jong Suid-Afrikaners soos ek. “Saffers,” het die Engelse ons genoem. En hier in Leyton was omtrent een uit elke tien huise ’n kommune vol Saffers.

Die emosionele bloukolle van die sieldodende werk moes naweke gedokter word. Want dan was ons vry. Op Saterdae was die buurt eiesoortig danksy tientalle kolomme rook wat hemelwaarts styg. Saterdae het die seuns en dogters van die Suidelike Halfrond vure aangesteek.

Die emosionele bloukolle van die sieldodende werk moes naweke gedokter word. Want dan was ons vry.

Ja, Saterdae het ons gebraai.

Ons was agt Suid-Afrikaners wat die vierslaapkamerhuis by 73 Crownfield Road gedeel het – een van twintig skakelhuise styf teen mekaar. Saans kon jy hoor hoe jou buurman sy stoel uitskuif. Hoe hy sy toilet spoel. Hoes. En dies meer. 

Soos baie Saffer-kommunes was ons ook ’n half wegstasie vir daai verlangse neef van Boshof of Roossenekal wat pas op Heathrow geland het en nou vir ’n week of drie ’n heenkome soek. Dis waarvoor die matras in die kelder daar was.

Die kombuis was ruim en het as kuierplek gedien wanneer dit buite triestig was – en dís mos maar die meeste van die tyd. Dan was daar ons agterplaas, ’n plaveisteenheiligdom waar ons gebraai het. Dit was ’n smal strook met ’n braaiskottel as die fokuspunt waarom plastiekstoele en ’n ou rusbank gerangskik was.

Die skouerhoogte muur het die bure teen ons boeremaniere beskerm, en eenkant in die verste hoek van die erf het ’n brandnetelbos stadig nader gesluip.

Ondanks al die Suid-Afrikaners in die omgewing was dit egter nie maklik om in Leyton te braai nie. Die plaaslike slagters weet niks van skaaptjops nie, en selfs ’n lekker dik steak is iets wat jy eerder in ’n restaurant sal kry. As die slagter op die hoek jou goedgesind was, kon jy oor die blokman se skouer loer en in ’n gebroke Engels neul: “No. Fiekker, fiekker dan dat...”


Die plaaslike slagters weet niks van skaaptjops nie, en selfs ’n lekker dik steak is iets wat jy eerder in ’n restaurant sal kry...

Boerewors was skaarser as Essex-meisies wat kruisbeen sit. Daarom dat vindingryke Suid-Afrikaners vleismeultjies in hulle koffer oorgevlieg en dan met tuisgemaakte wors gesmokkel het. 

Toeknypbraairoosters was besonder gesog, en as ’n braaimeester ná sy twee jaar na die republiek moes terugkeer, is die rooster in ’n gewigtige seremonie aan ’n volgende braaier oorhandig. En die opvolger moes plegtig belowe dat hy nooit die rooster buite in die reën sou vergeet nie.

Huismaats het gekom en gegaan, maar die rooster was ’n blywende ampsteken vir ons ambassade in die vreemde.

Maar dis hout wat die moeilikste was om in die hande te kry. Hoewel sakkies houtskool in die winkels te koop is, het ons regte hout gesoek sodat daar darem ’n vlammetjie kon brand.

Soos in baie Europese lande plaas die Engelse dikwels afgeleefde meubels op die sypaadjie sodat ’n buurman of verbyganger dit kan vat as hy nut daarvoor kan vind.

Die Saffers van Leyton het soos hiënas daarop toegesak en die houtmeubels na hulle agterplaas weggesleep waar dit opgebreek kon word vir vuurmaakhout.  Dit was nie vreemd om twee Suid-Afrikaanse meisies op pad terug van die werk af ’n lendelam hangkas twee blokke ver te sien sleep nie. 

Ons huis het ’n voordeel bo ander Saffer-huise gehad: Ons het geweet waar skaflike vuurmaakhout in groot maat beskikbaar was. Skaars 2 km weg was daar ’n ou pakhuis waarin torings vragpalette rondgestaan het. As ons ’n braai beplan het, is twee manne oor die muur gestuur om ’n palet te gaan vaslê.

Die planke was nou nie hardekool-gehalte nie – nie eens rooikransstandaard nie – maar dit kon darem genoeg vlamme maak vir ’n gesellige kuiertjie.

Een loom naweek in Augustus het ons ’n Aussie-huis in die nabygeleë Leytonstone oorgenooi om die Drienasies-rugbyeindstryd by ons te kom kyk – dit  was die Bokke teen die Wallabies daai jaar.  

Die Aussies het ook ’n voorliefde vir vuurmaak, en dit was hulle wat voorgestel het ons dra die TV uit in die agterplaas. Ons gaste was beïndruk met die stapel tafelpote en paletplanke onder die afdakkie en ons was op ons beurt beïndruk met hulle indrukwekkende voorraad bier. Die Aussies het eenkant gestaan en grinnik terwyl ons die hout pak. Die groot toets is om hout wat met vernis en allerlei brandbestande chemikalieë behandel is, aan te steek.

Die Aussies het eenkant gestaan en grinnik terwyl ons die hout pak...

Teen afskoptyd het die vuur wel sterk gebrand en die grou rook dik oor die buurt gedwarrel. ’n Paar van die aangrensende skakelhuise het begin vensters toeklap en ons kon hoor hoe ons (Engelse) buurvrou op haar man skel dat hy ons moet kom stilmaak.

Teen halftyd het die Bokke net-net voorgeloop, en die Aussies het al meer as die helfte van hulle proviand opgedrink. Hulle het gesien wat kom. 

Toe meer as een Engelsman uit hulle agterdeur op ons skree om ons vuur te blus het ons dit ámper oorweeg, maar dis mos tradisie om die vuur aan die gang te hou tot nadat die rugby verby is. Jy braai nie jou vleis terwyl die game nog aan die gang is nie!

Skielik het ons bewus geraak van ’n gehamer aan die voordeur. Een van ons huismaats was versigtig vir die ontstoke bure en ’n paar van ons ouens volg haar toe deur die huis.

Op pad voordeur toe merk ons flitsende rooi ligte deur die venster. Toe ek die deur oopmaak, het dit gelyk soos toneel uit ’n Bar One-advertensie.

Op die sypaadjie staan daar ’n span brandweermanne met brandslange en brandblussers in hulle hande. In die middel van die straat het ’n brandweerwa ongeduldig geluier. Hulle het die buurt van ’n hellevuur kom red.

Dit het mooipraat gekos om die brandslange slap te hou – die manne wou net spúít! Nadat die brandweerhoof ons brandstapel ondersoek het, het hy ingestem om ons met rus te laat.

Ons is egter streng gewaarsku om die vleis dadelik op die kole te sit en klaar te braai. G’n niks “ons gaan ná die game braai” nie. Hy het duidelik al tevore met Suid-Afrikaners te doen gekry.

Ons was skaars terug in die agterplaas toe daar weer ’n gehamer aan die voordeur is. Dié slag was dit die omgekrapte buurvrou, wat teen vieruur die middag steeds in haar japon was.

“Look what you did!” het sy gegil. Daar in die straat staan toe ’n ambulans en ’n paar noodhulpwerkers wat die vrou se bleek man hoes-hoes inlaai. Blykbaar was die rook van ons vuur een te veel vir die Engelse. 

Die Bokke het die wedstryd gewen, maar ons kon ongelukkig nie ’n vreugdesvuur aansteek nie.

Die buurman het darem oorleef – toe ek laataand in die bed lê, kon ek hom deur die muur hoor hoes...