Wanneer ek uiteindelik in die spieël kyk, moet ek maar lag: Die muskiete het gisteraand my hele gesig met akupunktuur bespikkel. Dit lyk asof ek waterpokkies het. Dis nou ondanks die muggienet wat ek oor my kop getrek het toe ek gaan slaap het.
Ek het besluit om nie my tent op te slaan nie, want by Sossus Oasis, Sesriem, het elke staanplekkie ’n afdak waaronder jy sommer jou matras kan oopgooi.
Ek het my oorpluisies ingesit om kampgedruis uit te doof en daarmee saam ook die muskiete se gezoem. Ek pak my slaapgoed weg, haal die Cadac uit, sit koffiewater op. Dis al amper kwart oor sewe – hekoopmaaktyd indien jy wil inry na die Sossusvlei-deel van die Namib Naukluft- nasionale park.