RUBRIEK: Die ablusieblok: Senusentrum van die kampterrein

akkreditasie
Skets Fred Mouton
Skets Fred Mouton
Uit die argief: As jy gedink het ’n ablusieblok is net daar vir stort en ’n draai loop, dan skat jy dié vierkantige wit geboutjies maar laag, skryf Albertus van Wyk in dié rubriek, wat in die heel eerste uitgawe van WegSleep verskyn het.

Ek het oor die jare eintlik net een probleem met ablusieblokke in kampeerterreine gehad: Die manskant het nie plek om ’n haardroër in te prop nie. 

Gedurende my haardroër-fase, as tiener in die 1980’s, was dit ’n probleem – ’n gróót probleem. Dis nie asof die karavaanpark-eienaars ’n verskoning gehad het dat daar nie 220 V krag in hierdie ablusieblokkie was nie. Wat van daai proppe wat sê: “220 V Slegs Skeerders”? Is daar al ooit ’n man opgemerk wat so ’n kragpunt gebruik? 

Kyk, ek weet, daar was ’n tyd wat net vlugkelners en Cupido hul hare ge-blow wave het, maar in die vroeë tagtigerjare het haardroëry skielik gewild geword onder jong mans. As jy toe ’n tienerseun was met selfs net die vaagste sin vir styl, dan’t jy ’n haardroër gehad. 

Daar was ’n paar ouens in my skool wat kon toor met ’n haardroër. 

Die snedige opmerkings wat houtwerkonderwysers en kadetpeloton-leiers in hierdie haarpioniers se rigting geslinger het, was ’n prys wat hulle bereid was om te betaal, want die beloning was groot. 

Vat nou ’n ou soos Pieter van Deventer. 

Toe ek hoërskool toe is, was hy ’n matriek met ’n spykerkop wat hom tussen die sedige kantpaadjies laat uitstaan het soos ’n kuifkoptarentaal in ’n hoenderhok. 

Dié haarstyl was destyds besonder gewild, danksy rolmodelle soos Rod Stewart, MacGyver en plaaslik Alex Jay. 

Jy kon die spyker-effek net regkry met ’n haardroër en ’n pot helder groen jel wat jy by plekke soos Kasoojees Algemene Handelaar moes koop. Anders moes jy ten bes te met ’n Heyneke Meyer-middelpaadjie tevrede wees.

Pieter van Deventer kon nie eens die tweede rugbyspan of die leerlingraad haal, of “Bulawayo” burp nie – maar danksy sy spykerhaarstyl kon hy kies om langs Yolandi Bosse of Vicki Harper agter in die skoolbus te sit. 

Yolandi en Vicki was nie meisies wat eintlik in skoolseuns belanggestel het nie. Nee. Dit was meisies wat hulle lang, bruingebrande bene (Vicki se een been het ’n oulike littekentjie van ’n warm motorfietsuitlaatpyp gehad) Saterdagaande in disko’s in Brakpan gewikkel het saam met werkende jong mans met name soos Shaun, Grant en Brent. 

Toe ék uiteindelik ’n haardroër in die hande gekry het, was die mode reeds ’n moderne James Dean-kapsel, ’n soort haar-helmet wat baie kort bo die ore en in die nek gesny is, maar dan in terasse, genaamd steps, langer geword het om bo te klimaks in ’n swierige pluim. 

En as jy eers die haar-Rubicon oorgesteek het, kon jy nooit weer terugkeer na plat hare nie – nie eers in die wildtuin nie. 

Ek het dus vakansietye in karavaanparke gevrees soos die pes. Doerietyd was daar nog nie kragpunte by staanplekke nie en die enigste plek waar ’n laaitie ’n haardroër kon inprop, was in die openbare waskamer, agter ’n industriële tuimeldroër. 

Daar het jy in vrees en bewing jou hare drooggeblaas, want ’n oom met Grasshoppers en rugbykouse kon enige oomblik instap en jou “uitvang”. (Nou dat ek daaraan dink: Jy sou presies om daai rede nooit jou hare in die ablusieblok kon droogblaas nie, al was daar ’n kragpunt.) 

Maar die meeste van ons oorleef die waansin van adolessensie. Ablusieblokke is nogal bruikbaar, het ek weldra agtergekom en nie net vir stort nie. Dis eintlik die senusentrum van enige ordentlike kampeerplek. 

En as jy eers die haar-Rubicon oorgesteek het, kon jy nooit weer terugkeer na plat hare nie – nie eers in die wildtuin nie.

As jy in die wildtuin wil uitvind waar die trop leeus, wat in die omgewing is, omtrent nou lê, dan moet jy vroegoggend in die ablusieblok gaan skeer. Ek het al honderde gesprekke soos dié gehoor: “Bietjie uit gewees om te ry?”

“Ja, altyd, man, altyd.”

“Enigiets gesien?”

“Ja, vier.”

“Vier wat?”

“Vier van die Groot Vyf, man.”

Ek het altyd gedink ons moet ge-jinx wees, as ek so in die ablusieblokke na die ooms se stories geluister het, want ons het wragtig nooit vier van die Groot Vyf gesien nie. Nie op een dag nie. Ons sou gelukkig wees om drie van die Groot Vyf in ’n hele vakansie te sien. 

“Waar het Oom die leeus gesien?”

“Op die Nwanetsi-pad, daar waar die boonste en die onderste pad bymekaarkom. Daar was sewentien grotes wat onder ’n mopanie lê en slaap het: Elf wyfies, twee swart maanhare en vier jongmannetjies.” 

Dis die ander ding. Hierdie gelukkige wildkykers sien altyd leeus in onewe getalle tussen elf en vyf-en-twintig. Groepe van elf, vyftien, of een-en-twintig leeus is skynbaar algemeen, maar jy hoor nooit van agt leeus, of veertien nie. 

Ek weet nie hoe dit werk nie. 

As jy wil weet wat jy kan doen aan jou V6 wat warm loop, hoe om boomgom van jou tent af te kry, of waar jy ’n elektriese verlengdraad kan leen, moet jy nie by ontvangs of by die petrolpompe gaan vra nie; daar sal altyd ’n ou in die ablusieblok wees wat jou kan help. Of ’n ou wat ’n ander ou ken, wat jou sal kan help. 

Die ander groot onderwerp wat ek onthou, is karavane wat swaai op die pad.

“Daai Jurgens van jou, swaai hy?”

“Jip. En jy weet, ek het ’n nuwe Sno-Sway opgesit wat g’n verskil maak nie.”

“Nee, my vriend, dis sommer gemors daai. Daar’s hierdie nuwe ding, Trapezium. Jy moet dit probeer. Dis deur ’n Suid-Afrikaner ontwerp, ’n ingenieur wat eers by Krygkor gewerk het.” 

Dit was bemoedigend om te weet ons manne praat saam met die wêreldleiers in karavaan-stabilisering. 

Jou tydsberekening is belangrik as jy wil saamgesels in die ablusieblok. Jy moet vroeg gaan, want hier teen elfuur die oggend of aand is ’n ablusieblok net ’n geboutjie met koue storte en ’n nat vloer. 

In die ou dae was daar ’n waardige ou Swazi-man in elke ablusieblok in die wildtuin wat dag in en dag uit skoongemaak het. Die wildtuin se ablusieblokke was skoner as die meeste mense se badkamers tuis. 

Ou wildtuinmense raak nostalgies oor die witgekalkte grasdakgeboutjies met blinkgepoetste krane, wit sepies met die koedoekop op en die enkele gloeilamp aan ’n balk. Nes hulle verlang na die groot swart houtketels in die kampe met kookwater en die gemeenskaplike kampvure. Deesdae se ablusieblokke met ligbruin badkamerteëls en teëldakke is net nie dieselfde nie. 

Die ablusieblok was ook ’n plek waar seuntjies buite spitstyd kon gaan nonsens aanjaag. Ek bedoel, jy kon net soveel trampolienspring, putt-putt speel, roomys eet en bommies maak in die swembad voor jou geld of lus op was. 

Dan was dit tyd vir speletjies wat hoër risiko inhou, soos om tuisgemaak te vuurpyltjies van vuurhoutjieswael en foelie van die wasbakke af te lanseer. Of om onaardse tuba-note te blaas op die ventilasiepype wat agter die toilethokkies uitsteek, nadat ’n niksvermoedende tannie binne haar sit gekry het. Of om nat toiletpapierballe teen die plafon te gooi. 

Ek was wel betrokke by ’n liloresies in ’n ablusieblok. Dit werk só: Jy moet ’n ablusieblok kry met ’n badkamer waarvan die deur na buite oopmaak en wat ’n lang gang het wat reguit op ’n buitedeur uitloop. 

Twee lummels maak hulself in die badkamer toe met hulle lilo’s, druk handdoeke onder die deur in en maak die bad se krane oop en wag. Dan ruk jy die deur oop... 

My nefie het eerste by die deur uitgespoel. Ek onthou ’n briesende oom wie se voete onder hom uitgespoel is. Toe ek by die deur kom, het die water min geraak en ek het net daar op die trappe bly lê. 

Maar my nefie het onderdeur ’n Gypsey gespoel en binne die tent teen ’n groenterak tot stilstand gekom. Gelukkig was die eienaar iewers op die Nwanetsi-pad.

Toe my nefie bedremmeld voor by die tent uitkruip, toe wag die ablusieblok se Swazi-man vir hom. Nie meer so waardig nie. Met ’n besemstok. 

Ek is regtig jammer vandag, madala. ’n Ablusieblok verdien meer respek. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep # 1 (Januarie 2007) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.