Rubriek Die rus is elders

akkreditasie
Fred Mouton
Uit die argief: Regulasies is nie die antwoord op elemente wat jou swaarverdiende vakansie bederf nie. Daar’s ’n ander, minder onaangename manier om van hulle ontslae te raak, sê Kobus Prinsloo.

In die eensame veld

staan ’n tentjie klein,

en daarnaas in die skeemring

skuif die ligtende trein;

ek sien in die tentjie,

deur die oop gordyn,

’n tafel met bordjies

en glasies fyn,

wat sag in die lig

van die kersie skyn,

en ek dag: “Was ek net

in die tentjie klein,

ek sou tog so gelukkig syn.”

– Totius

Soms kan ek as ’n kampeerder nie anders as om oor my eie sielsgesondheid te wonder nie.

Die doel van ’n kampvakansie is mos eerstens om ’n vorm van rus en ontspanning te wees.

En gewoonlik besef mense wat met vakansie gaan, hulle het rus nodig – of dis die teorie.

Deesdae is die wêreld ekonomies só in sy peetjie in dat dit al hoe meer kos en ’n al hoe groter uitdaging raak om ordentlik vakansie te hou.

Want sien, jy moet wérk vir jou vakansie, en teen die tyd wat jy wel die pad vat see toe, is jy só uitgemergel jy moet eerder reguit hospitaal toe ry.

Om die waarheid te sê as jy teen einde November se kant nog nie een keer snikkend by die dominee of dokter gesit en vroetel het met jou sneesdoekie nie, dan moet jy sekerlik die hoof van ’n groot bank of kettingwinkelgroep wees.

Die eerste kwartaal van 2012 is skaars verby of alledaagse irritasies soos spitsverkeer is al klaar besig om ’n mens te verniel.

Net nou die dag het ek gesien hoe ’n vaal, skugter mannetjie in ’n Datsun iemand met ’n vol koppie McDonald’s-koffie probeer raakgooi – uit sy kar terwyl hy om halfsewe op die Ben Schoeman vassit.

Hier teen die laaste draai voor die kantoor is daar ’n leegheid op mense se gesig wat ’n mens gewoonlik net in tronke sien.

Dié soort spanning gaan lê iewers in ’n donker hoekie van jou gemoed en ophoop, en teen die tyd wat jy in die kampplek aanland, is jou spanningsreserwes vol en die uitlaatklep vasgeroes.

Dit wat dan voorlê, is nie noodwendig die beste ding vir jou geestestoestand nie.

Ná ’n klomp ure van woonwasleep teen ongeveer ’n derde van die spoed waarteen 12 taxi’s jou almal op ’n blinde hoogte – oor ’n dubbele sperstreep – verbygesteek het, is jou laaste senuwee in sy kanon.

Dis dié dat tien sekondes van onskuldige doef-doef-musiek uit jou buurman se laer uitloop op ’n vuisgeveg.

Dit gaan nie oor die musiek nie – dit kon net sowel die Carpenters of Cora Marie gewees het, maar jou verdraagsaamheid het opgedroog.

Dit is ook nié nou die tyd vir iemand wat die heelpad hierheen geslaap het, om hardop te kom staan en wonder of dáárdie stukkie skaduwee dalk ’n beter plek sou wees om die wa te trek nie...

’n Vakansieoord se bydrae tot jou privaatheid en sielerus is ook min of meer dieselfde as dié van die pretpark by Gold Reef City.

As jy gedurende ’n skoolvakansie by ’n gewilde oord na stilte gaan soek, kan jy dit net sowel gaan soek op Loftus terwyl die Curriebeker-eindstryd gespeel word.

’n Mens wonder hoe dit gebeur dat die oordbestuurder se hoërskoollaaitie in die skoolvakansie, sonder enige sigbare kwalifikasie of aanleg vir openbare kommunikasie, vrye teuels gegee word om ’n mikrofoon en luidsprekerstelsel langs die hoofswembad te beman.

Dis genoeg om jou nogal vroeg op dag een te laat rondkrap in jou koelboks vir iets wat die pyn kan verdoof.

Die oplettende leser sou ook dan opmerk dat daar gewoonlik nogal baie koelbokse op ’n kampterrein as ’n noodapteek diens doen. Dus, teen laataand se kant is baie mense só bevry van pyn dat die vreugdekrete van verligting deur die hele terrein weerklink.

Enige kamp het sy stil oomblikke, daai tyd wat jy net in die kole sit en staar, maar gits, ’n braai wat in totale stilte plaasvind, is niks meer as brandstigting met die doel om ’n skaaptjop ernstig te beseer nie.

Dis nie almal se manier van ontspan nie, nee, maar vir baie mense is dit nodig om ontspanning te vier met dieselfde benadering as die Israeliete by die mure van Jerigo.

As ek dink aan Vaal Mannetjie en die spitsverkeer-voorval, dan wonder ek hoe lank dit gaan wees voor iemand op ’n kampterrein ten diepste gaan swig voor sy oer-instink om die buurman se Binneboud Skoffel Treffers #40 met die Fortuner te gaan stil ry... meedoënloos, met diepe, waansinnige genot, in low range.

Miskien is die antwoord om te maak soos Europa. Daar word woonwaparke só erg gereguleer dat jy omtrent net mag sit. En jy moet stilsit.

Vuurmaak, byvoorbeeld, is verbode.

En kyk, sonder vuurmaak is kamp nie eens die definisie werd nie, dit weet ons almal.

In Engeland word geraas ook baie streng beheer, soveel so dat daar op party plekke desibel-meters is. As jy oortree, is jy uit.

Omdat almal daar so min mag doen, word hulle verveeld.

Vir sulkes is die enigste interessante uitweg om polisieman te speel oor ander mense se geraasvlakke – dis ongeveer dieselfde situasie as in die ouetehuis waar jy vir jou ouma gaan kuier. 

Baie van die kampterreine aan daai kant van die ewenaar gaan so ver as om ouderdomsbeperkings in te stel.

Nou kyk, met die soort Britse jong mens wat ’n mens daar raakloop, kan jy dit goed verstaan – ’n groot klomp van hulle hoort nie eens buite ’n voerkraal nie.

Maar ons is tog ’n joviale lotjie, ’n goeie grap is vir ons snaaks, en ons hou van kuier, speel, lag, eet en allerhande dinge wat ’n mens nie in stilte kan of wil doen nie. 

Enige kamp het sy stil oomblikke, daai tyd wat jy net in die kole sit en staar, maar gits, ’n braai wat in totale stilte plaasvind, is niks meer as brandstigting met die doel om ’n skaaptjop ernstig te beseer nie.

Hoe gemaak, dus?

Chalets en vakansiewoonstelle en allerhande ander goed is nie ’n opsie nie, omdat jou kinders dan die vreugde van kampvakansies ontneem word.

Deesdae is die wêreld ekonomies só in sy peetjie in dat dit al hoe meer kos en ’n al hoe groter uitdaging raak om ordentlik vakansie te hou.

Dalk is die antwoord ’n nuwe klassifikasiestelsel.

’n Stelsel wat geriewe en luukshede aandui, is goed en wel, maar ek sal baie meer waarde heg aan ’n embleempie wat aandui die staanplekke is rêrig gerieflik ver uitmekaar en die plek lyk nie oor Kersfees soos ’n kettingbotsing van ’n spul bont woonwaens nie.

Ek sou ook ag slaan op ’n teken of prentjie wat wys mense wat stormdronk word, word uit bemande wagtorings met verdoofpyle geskiet. (Baie terreine kan ook maar ’n verbod plaas op saamsing wanneer liedjies soos “Ou ryperd” gespeel word, maar oortreders moet ook uit die wagtorings gestraf word...)

Tog is ek nie ’n voorstander van regulering nie. Ek wil aanhou glo dat ons die persoonlike dissipline het om onsself te beheer.

Ek weet een aap kan ’n hele komp lekker mense ’n slegte naam gee, maar wat ek bedoel, is dat ons sal ophou wag vir daardie magiese oordbestuurder wat al die ongure elemente op sy eie gaan uitroei.

Ek sê ook nie jy moet nou regtig die Fortuner in low range sit op pad buurman se radio toe nie. Stem met jou geld.

Daar is meer as genoeg maniere om ’n verskil te maak sonder om soos ’n buffel op te tree.

Die kragtigste manier van alles is jou vermoë om te kies waar jy volgende keer gaan kamp en waar nie.

Miskien eendag is al die mal, drinkende, fuifende kampeerders op een terrein en die rustiges op ’n ander en almal is tevrede. 

As dit nie werk nie, probeer high range.


Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2012 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.