Rubriek: In die ‘bar’ op Bray

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Uit die argief: Ná ’n lang, warm dag op stowwerige Kalaharipaaie het Toast Coetzer gaan keel natmaak in die kroeg op Bray – en ’n paar mense en stories raakgeloop.

Die R375 tussen Sannieshof en Bray is baie langer as wat ’n mens dink. Dis slaggate in die teerpad tot by Mareetsane en dan, waar jy die N18 sny, is hy gedaan.

Die son sak en ek probeer mooi ry, oor die sanderige kolle, deur die nukke en droë modderspore van anderweek se lekker reën.

Reën. Dit het goed gereën hier, die gras staan geil langs die pad en diep in die veld tussen die bome in waar beeste wei – en soms perde. Die geel blommetjies ook.

Ek parkeer en stap in by die lodge op Bray. Die son sak teen my rug. Ja, dis ’n lodge.

Hotelle is mos deesdae lodges, soms selfs “manors”.

In die bar sit die eienaars, Annemarie en Gerhard. Oom Johan is die klant. Sy keps sê hy is “100% Boer” en sy hemp is mooi netjies – anders, sê Annemarie, as die hemde vol verfspatsels of olievlekke wat hy gewoonlik dra.

Verder is dit kortbroek, fris arms, lang kouse.

Oom Johan moet loop, want sy vrou is by die huis, op die plaas so ’n ent buite die dorp.

Hy het paar weke gelede die naambordjie afgehaal en weggesteek, want die arbeidsinspekteur was in die omtrek.

Hy’t dit nog nie weer opgesit nie.

Hy koop vir my ’n dop en ek wil vir hom ook een kry, maar hy sê nee, dis tyd.

Twee ander mans kom in vir ’n dubbel; want enkels is iets wat ’n mens op die rugbyveld breek.

Oom Johan vertel dat Johnny op sy kop kan staan en ’n bier onderstebo drink. Ek, Gerhard en Annemarie dring daarop aan om dit te sien.

Die ander twee is gou daar uit, maar oom Johan bly sit. Nie lank nie of Johnny kom sit by ons.

Dis die eerste keer dat hy hier in die bar kom, selfs al het hy perde op ’n plaas tussen hier en Tosca. Hy bly eintlik anderkant Tosca. Vier aande daar, drie hier by die perde.

Hy moes kom water pomp, dan hou dit weer ses dae.

Johnny en oom Johan kom al ’n lang pad saam. Johnny teel Arabierperde, en oom Johan het ook so ’n paar.

Oom Johan vertel dat Johnny op sy kop kan staan en ’n bier onderstebo drink. Ek, Gerhard en Annemarie dring daarop aan om dit te sien.

Nee, sê Johnny, hy’t sy rug in 1994 gebreek en seker twintig jaar laas so gestaan en bier gedrink.

Op Louwna, ja, sê oom Johan. Hy was daar;hy sal vir jou die plek kan gaan wys waar dit gebeur het.

Louwna is tussen hier en Vryburg, of tussen Vryburg en iewers, soos die meeste plekke in Noordwes.

Louwna het nie ’n hotel nie; die ouens drink by die Boeresaal, nou nog. Almal fluit so half tussen hulle tande deur as hulle praat van Louwna.

Ek het op Brandvlei gehoor die ouens hier op Bray drink so erg, sê ek. Nee, verseker almal in die kroeg my, Louwna is die plek.

Nou maar wys vir ons hoe jy op jou kop staan en bier drink, hou ons aan. Nee, hy weet nou nie, sê Johnny. Sy rug...

Johnny verander die onderwerp. Julle moes ou Dronk Daan geken het. Gerhard ken hom nie; hy’s nie so lank hier rond nie.

Johnny is van oral. Van hier tot Kareedouw en amper ’n verkeerde draai in Calvinia. Dit het te doen met sy skoonpa, en hy en sy skoonpa praat nie meer nie.

Dis verby aan daai kant.Maar hy en sy tweede vrou ís nog saam, gelukkig saam.

Blêddie gelukkig, sê oom Johan, wat een slag saam met sy vrou op ’n blommetoer was in ’n bussie vol kerkmense.

“Oeee, dis darem pragtig,” sou die “oumense” elke keer uitroep wanneer hulle uit die bussie klim en die blomme gadeslaan.

Soggens is daar boekegevat tussen die blomme. Dit was maar ’n moeilike trippie, vertel oom Johan, dit was maar stil en droog.

Dan besluit Johnny om dit te probeer.

Ek bied aan om sy voete vas te hou, maar hy sê nee, dit móét oom Johan wees. Ek neem stelling in met my kamera en Johnny staan op sy kop teen die muur.

Oom Johan hou hom regop. Hy vat die glas bier raak en neem ’n sluk.

Nóg, drink nog, sê Annemarie en Gerhard. Johnny drink nog en dan nog en nog. Die glas is leeg.

Ons is almal baie beïndruk.

Dié soort goed, vertel Johnny, het hy in die army geleer. Hulle sou AWOL met ’n Unimog en Windhoek toe ry, na die Kalahari Sandshotel toe.

Hulle sou R100 op die toonbank neerplak en drankies koop en truuks doen. Nie almal kon op hulle kop staan en bier drink nie.

’n Mens moet leer hoe om jou neusholte toe te maak, anders skuim dit by jou neus uit, selfs by jou ore.

Een slag in Tsumeb, vertel Johnny, was daar ’n girl met ’n jong kind. En almal wou haar score, toe drink hulle net een bier vir elke bier en shot schnapps wat sy drink.

Maar sy het hulle steeds onder die tafel in gedrink daai aand, en toe Johnny weer sien, toe’s hy in die pram en word huis toe gestoot.

Só het dit gebeur.

Soos met resiesduiwe, so is dit ook met vrouens, sê Johnny.

Jy sal baie eerder 400 km ry – of selfs hike – soos hy per geleentheid van Potch na Kimberley gedoen het, om vir ’n skelmpie te gaan kuier. Met resiesduiwe moet daar ook net motivering wees.

’n Mens maak die mannetjie jaloers deur ’n ander mannetjie by sy wyfie te sit, dan laat jy hom vlieg.

Die duif weet: As hy terugkom, gaan hy weer by sy wyfie wees, en dan vlieg hy ekstra vinnig.

Of jy sit ’n leë eier tussen die wyfie se eiers met ’n lewende kriek daarin sodat die kriek van binne af aan die dop kan krap.

Die wyfie dink dan haar kleintjies gaan nou amper uitbroei, en dan vlieg sy ekstra vinnig om betyds terug te wees voor haar kleintjie uitbroei.

Só teel ’n mens wenduiwe.

Dronk Daan? Dronk Daan kon drink. Dronk Daan kon drink soos niemand anders nie. Maar ’n goeie ou, beaam oom Johan.

Jy kon sit en bier drink, dan drink hy bier saam met jou. Dan kom ’n ander ou en drink whisky, dan drink hy saam met hom whisky.

Dan kom nog ’n ou en drink brandewyn, dan drink Daan ook brandewyn. Hy kon aanpas. Ek drink wat ek kan kry, is wat Daan altyd gesê het.

Daan had ’n broer, Jan Kubaan, omdat hy effens blas was. Saam was hulle moeilikheid daar in “Postmansburg” se wêreld.

Een slag, vertel Johnny, het Daan en Jan weer erg gedrink in Postmasburg se kroeg.

Hulle het gereeld saam gery en die ooreenkoms was dat wie ook al die sleutel in die bakkie se ignition kon kry, huis toe ry. Dié aand was dit Daan.

Dan kom nog ’n ou en drink brandewyn, dan drink Daan ook brandewyn. Hy kon aanpas. Ek drink wat ek kan kry, is wat Daan altyd gesê het.

Terwyl hy op sy knieë daar staan en sukkel met die sleutel, word die handrem per ongeluk laat sak.

Maar Daan is nog op sy knieë in die oop deur en Postmasburg is vol bulte, en die bakkie begin teen die afdraande loop, agteruit.

Die oop deur klap vir Daan agter die kop en hy val onder die bakkie, waar sy kop onder die wiel beland.

Gelukkig het die ding nog nie genoeg momentum opgetel nie. Terwyl Daan vassit, strompel Jan terug kroeg toe om hulp te gaan soek.

Maar toe hy daar kom, bestel hy ’n drankie. Dis eers so ’n paar minute later dat die ander manne hom vra wat dan van Daan geword het.

“O hel!” roep Jan uit, “ek het vergeet, dís eintlik hoekom ek teruggekom het – Daan sit vas onder die bakkie, kom help!”

Johnny vertel van die mamba wat een van sy perde doodgepik het. Die bloed het drie dae later nog nie gestol nie, vertel hy.

“’n Mamba is ’n gevaarlike ding,” sê oom Johan, “ek is vir niks bang nie, maar vir ’n mamba is ek bang.”

“Ja, ek stap glad nie in die veld as die gras so lank is soos nou nie,” sê Gerhard.

“Ek is daarvoor banger as vir ’n los vrou,” sê oom Johan.

“ ’n Los vrou vat net langer om jou dood te maak,” sê Johnny.

Ek bestel die volgende ronde.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #45 (Julie 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.