Leser vertel: Deur die Baviaanskloof in ’n Kewer

akkreditasie
Met ’n Kewer deur die Baviaanskloof
Met ’n Kewer deur die Baviaanskloof
Uit die argief: Neville Holl en vriende het per ongeluk met sy Kewer deur die Baviaanskloof gereis sonder om te weet hulle ry deur hierdie ikoniese gebied. Sy verhaal is in 2014 op Weg se webtuiste gedeel.

Die tydperk waaraan ek nou sit en terugdink was lank voordat ieder en elk iets oor die Baviaanskloof te sê gehad het. Ek wonder of dit nie net mense van daardie kontrei was wat destyds van die nou bekende natuurwonder geweet het nie.

Dit was voor die hedendaagse tegnologiese wonders en ons het foto’s geneem met Kodak Instamatic-kameratjies, juis omdat hulle nie ingewikkeld was nie. As die film opgeraak het en jy het nie n nuwe een byderhand gehad nie, dan kon jy nie verder foto’s neem nie al sou jy jou toevallig in die Baviaanskloof bevind het.

My vriend het in Desember 1966 op Ceres getrou en ek moes strooijonker wees. Ek en my vrou, Annette, (destyds my verloofde) haar suster en n vriend het op die Vrydagmiddag in my 1964 Volkswagen Kewer 1200 (CE 17478) vanaf Oos-Londen na Ceres vertrek.

Ons moes die Maandag weer werk dus sou ons die Sondagoggend na die troue die duisend plus kilometer na Oos-Londen moes terugreis.

Ons het die roete deur die Langkloof gery en ongeveer 1 vm. Saterdag in Ceres aangekom en darem n paar uur se slaap ingekry. Ons het daardie middag en aand bruilof gevier maar vroegerig gaan slaap sodat ons 6 vm. die Sondagoggend weer vertrek.

Die Volksie was reeds die vorige dag vol brandstof gemaak en ons het stiptelik om 6 vm. die pad gevat. Sommer met die wegtrek het ek agtergekom dat ons minder geesdriftig was as die Vrydagmiddag toe ons vanaf Oos-Londen vertrek het.

Ek het my bedwing, maar in my binneste was ek taamlik omgekrap. Ek het die padkaart geraadpleeg, maar my laterale denkvermoë het weens my ontsteltenis êrens in ’n obskure hoekie van my brein gaan wegkruip en my verwarde logika sê vir my ek moet die kortste roete terug na die N2 soek.

Ons het goed gevorder maar ná n paar uur het ek moeg en vaak geword. Ek en Annette verskuif toe na die agtersitplek en my vriend neem die stuur oor. Ek en Annette het in n diepe slaap verval. Toe ek uiteindelik ontwaak, knor die Kewertjie se enjin steeds rustig voort.

Soos ek my oriëntasie in rat probeer kry het besef ek dat alles om my heen vreemd lyk. Meteens flits n padaanwyser verby en ek sien ons is kort duskant Willowmore. Ja! Julle het reg geraai. My vriend het nie voor Uniondale na Avontuur en die Langkloof afgedraai nie. Ons was toe reeds omtrent sewentig kilometer of meer verby ons roete.

Ek het my bedwing, maar in my binneste was ek taamlik omgekrap. Ek het die padkaart geraadpleeg, maar my laterale denkvermoë het weens my ontsteltenis êrens in ’n obskure hoekie van my brein gaan wegkruip en my verwarde logika sê vir my ek moet die kortste roete terug na die N2 soek. Ek sien toe op die padkaart dat kort anderkant Buyspoort naby Willowmore n pad is wat ons tot by Patensie, Hankey en Humansdorp sou neem.

Van Baviaanskloof het ek niks gesien nie, maar al sou ek, sou dit niks vir my beteken het nie, want ek het daardie jare nie van die Baviaanskloof geweet nie. Ek het wel op die kaart gesien dat dit n grondpad is maar nooit besef dat dit omtrent 176 km grondpad was nie en ook nie sommer net so n grondpad nie. Die moontlikheid om tot in Willowmore te ry en die pad oor Steytlerville na Uitenhage te volg het nie eens naastenby in my gedagtes opgekom nie. Ek wou net terug N2 se kant toe en eie koers gevolg.

Soos ons al verder gery het, het ons al hoe meer agtergekom dat ons definitief nie op n gewone pad is nie. Terugdraai was buite die kwessie. My ontsteltenis het mettertyd verdwyn soos ons die onbekende ingery het en n nuwe kameraderie het tussen ons ontwikkel soos die onsekerheid oor waar ons eintlik op pad heen was, begin toeneem het.

Ek het naderhand begin wonder of die pad nie in n onbegaanbare spoor gaan doodloop nie. Viertrek voertuie was destyds omtrent net tot die polisie en weermag beperk dus het ons nie eens gewonder of dit miskien n pad vir slegs sulke voertuie was nie. Ons het al hoe stadiger begin vorder deur driwwe en bosse tot ons n plekkie langs die pad gesien het met n poskantoor naambord en die naam Studtis en daar sien ek by dié geboutjie n vrou staan.

Ek hou toe stil en vra haar of ons op die regte pad is om by Patensie en Hankey uit te kom. Sy sê toe sy weet nie maar sowat n week gelede het daar ook n ‘kar’ verbygekom en dieselfde vraag gevra. Hulle het toe maar aangery en sy is van mening dat hulle wel daar uitgekom het, want hulle het nie weer teruggekom nie.

Ons het met hierdie twyfelagtige aanmoediging verder gery, min wetende dat dit die laaste menslike wese sou wees wat ons vir die res van daardie eienaardige rit sou raakloop. Daar was tye wat jy die spanning tussen ons soos n gespanne ghitaarsnaar kon voel en die angs was soms vlak in ons se oë te bespeur.

Ek het die petrolmeter naderhand met groeiende kommer begin dophou, want hy het ál nader aan die ‘E’ begin beweeg. Tussen dit alles deur het ek of my vriend af en toe n simpele opmerking gemaak van ongediertes en wat ons vir oorlewing sou doen as die ergste sou gebeur. Ek dink ons het in ons jeugdigheid ons manhaftigheid probeer demonstreer maar dit was beslis teenproduktief gewees.

Tussen alles deur het die verruklikheid van die bos, die statige hoë bome wat plek, plek bo ons uitgetroon het, die waterstrome en riviere en die verskeidenheid plantegroei, varings, bobbejaantoue wat gelyk het asof dit van die lower bosplafon hang en die mistieke dynserigheid van die woud, ons onwillekeurig laat besef dat ons die dieptes van n ongerepte natuurskoon betree. Dit het amper gevoel asof ons die paradys sonder toestemming binnegesluip het.

Ons verwarde sintuie is soms opgehelder deur die verskeidenheid kleurvolle en minder kleurvolle voëls wat ons so in die verbyry waargeneem het. Knysnaloeries wat die rooi van hul vlerke vertoon het soos hulle van een boom na die ander sweef. Die wildsbokkies wat skugter oor die pad gesluip het of net tussen die bome gestaan en kyk het na ons verbytog.

Die Volksie was net so dors soos ons, want hy het lank en met oorgawe uit die petrolpomp gedrink en gedrink. Ons het by die winkeltjie brood, polonie en melk gekoop en geëet. As iemand ons sou waargeneem het, sou ons seker soos oermense gelyk het, want ons het sommer stukke van die brood afgebreek en so saam met die polonie en melk geëet.

Die muskeljaatkat en haar kleintjies wat oor die nou grondpad geskarrel het en selfs hier en daar n dassie wat laatmiddag sy klipkrans skuiling verlaat het om laer af tussen die bosse n groenigheidjie te kom soek. Dit wat ons alles waargeneem het, het ons amper ongemaklik laat voel, so asof ons doelbewus hierdie natuurbewoners se heiligdom kom versteur het en dat ons êrens op pad vorentoe daarvoor gestraf sou word.

Die bosgeluide, wat die motor binnegedring het as ons gedwonge baie stadig moes ry, het onheilspellend geklink, so asof dit wou bevestig dat daar wel een of ander straf op ons wag.

Die Volksie het sy kant gebring en oor die hobbelrige pad se driwwe en klowe voort gesukkel selfs nadat ek die ligte moes aanskakel. Ek dink nie die son het toe al so laag gesak nie maar in die ruigtes van die woud het dit al vroeg begin skemer word. Na wat soos n nimmereindigende nagmerrie gevoel het, het die beskawing weer sistematies begin verskyn.

Ons het mettertyd agtergekom dat ons weer in n gebied is waar plase en boerdery aktiwiteite waarneembaar was. Hier en daar n plaasnaam met die eienaar se naam daarby, wat op n verweerde sinkplaat of ou ploegskaar geverf is en skeef teen n paal gehang het. So het ons voortgegaan en uiteindelik by Patensie uitgekom. Ek dink nie ek was nog ooit weer so bly om n petroljoggie te sien soos daardie dag nie.

Die Volksie was net so dors soos ons, want hy het lank en met oorgawe uit die petrolpomp gedrink en gedrink. Ons het by die winkeltjie brood, polonie en melk gekoop en geëet. As iemand ons sou waargeneem het sou ons seker soos oermense gelyk het, want ons het sommer stukke van die brood afgebreek en so saam met die polonie en melk geëet.

Ons het onsself hierna reggeruk en ons tuisrit voortgesit. Dit was n lang en moeisame tog omdat ons moeg was, maar dit het sonder verdere insident verloop. Ons het omtrent 2 vm. die Maandagoggend in Oos-Londen aangekom in plaas van ongeveer 5 nm. die vorige Sondagmiddag soos beplan was. Om 7.30 vm. het ek by my werksplek aangemeld. Hoeveel ek daardie dag gewerk het weet ek nie maar ek was darem op my pos gewees.

Soos mens nou maar is, het die onaangename aspekte van die rit, soos die vrees dat ons besig was om in die onbetreë dieptes van n onbekende oerwoud te verdwaal en die petrol wat al minder begin word het, met die verloop van tyd vervaag. Ons dink nou eerder aan die wonderlike natuurskoon en ongereptheid van die bos, kranse en klowe wat ons ervaar het.

Ten spyte van wat ons toe as n ontbering ervaar het was toe eintlik vir ons n unieke geleentheid wat ons andersyds nooit sou belewe het nie. Ek is so spyt dat ons hierdie wonderlike ervaring net in ons geheues herroep, want die Kodak Instamatic se film was reeds by die troue opgebruik.

Die pad se oppervlakte was destyds glad nie te sleg nie maar ons rit was om verskeie ander redes angswekkend maar tog onvergeetlik gewees.


Hierdie artikel het oorspronklik in April 2014 op Weg se webblad verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaklees.