Leser vertel: Goed te pas

akkreditasie
Op die Jan Muller-brug
naby die Cloetespas tussen Herbertsdale en Van
Wyksdorp. Die brug loop oor die Gouritsrivier.
Op die Jan Muller-brug naby die Cloetespas tussen Herbertsdale en Van Wyksdorp. Die brug loop oor die Gouritsrivier.
Uit die argief: Die Booysen-gesin van Douglas in die Noord-Kaap is mal oor bergpasse en in Desember 2013 het hulle op pad terug van Groot-Brakrivier probeer om sewe passe binne een dag te ry op pad Sutherland toe, sodat hulle ook kon gaan sterre kyk.

Don Booysen vertel...

Die roete word bepeins … van Groot-Brakrivier af tot op Laingsburg.

Eers kom die maklike Du Plessispas tussen Mosselbaai en Herbertsdale aan die beurt, daarna die Cloetespas tussen Herbertsdale en Van Wyksdorp, die Rooibergpas tussen Van Wyksdorp en Calitzdorp, Huisrivier tussen Calitzdorp en Ladismith, Seweweekspoort en Bosluiskloof op pad na die Gamkapoortdam en heel laaste die Rooinekpas tussen Ladismith en Laingsburg.

As jy vroegmôre afdraai van die N2 wat sy stryd verloor om die ontwikkeling teen die kus vas te keer, spoel die vakansiejaagkoors van jou af.

Van die afdraai op pad na Herbertsdale begin koeiwêreld. Sê vir die kinders hier maak hulle boksiemelk.

Die Hilux se pens kry ’n lagie beesmis.

Ons hou stil en dit voel of ons op die dak van Afrika staan en na ’n lappieskombersprentjie onder afkyk. Die heuwelpad verdwyn later in die truspieël.

Eerste aan die beurt is die Du Plessispas.

Dankie aan die oom in die wit bakkie van Herbertsdale vir sy vriendelike groet en die tannie in die rooi kar vir haar glimlag. Dit ry nou nog saam in ons hart.

Nou begin die grondpad en die tweede pas, Cloetespas. Dit lyk kompleet asof die gebied die agtergrond van ’n familieliefdesage moet wees.

Bo in die kronkels is Kees besig om sy koninkryk af te pen. Die wêreld moet beleef word – stadig en rustig. Kruie deur, hier is selfs ’n watergat vir die ysterperde.

Kan ’n mens in Van Wyksdorp verdwaal? Inderdaad, as die kaart nie wys of jy deur of verby die dorp moet ry nie. Mans vra dus tog wel pad. Moet net nie jou kar se venster afdraai en vra nie. Stop, klim uit en groet ordentlik. Dan vra jy pad en los vriende agter.

Nou vir pas nr. 3, die Rooibergpas. Dit lyk asof die groot kliphek na die Rooibergbewaringsgebied jou wil uithou of ’n geheim binnehou. Half onseker kruip die kronkelpaadjie diep in die hart van die bewaringsgebied.

Is dit die Prins van alle Passe? Net sodra jy dink dis verby, gee hy nog soveel meer emmers vol genot. Afgronde, blomme, aalwynwoude, ’n valk …

Kom jy ooit bo? Nog ’n bultjie, nog ’n draai.

Gamkaskloof, Bloukrans, Swartberg – almal, kom kyk na die Prins. Daar bo maak jou toekoms en verlede jou skoon benoud so ver kan jy in hulle in kyk.

Hier wil ’n mens nie weg nie!

Calitzdorp steek sy mooi en ook sy petrol weg, en ons stoot deur na pas nr. 4, die Huisrivierpas. Dis mooi skoon waar ’n mens jou broodjie by die rusplek breek.

’n Ou bloukopkoggelmander knik goedkeurend hier langs die R62. Amper draai ons te vroeg af na pas nr. 5 – Seweweekspoort.

Is dit ’n pas of ’n poort?

Die jurie kon dit nog nie uitklaar nie, maar dié ouboet van die Swartberge laat jou sprakeloos en klein voel. Dit is ’n kragvertoning van rotsvorming en plate buig.

Bosluiskloof, nr. 6 op ons lys, sal ongelukkig moet wag vir ’n volgende verpligte besoek.

Die petrolnaald trek gevaarlik naby rooi en ons ry stadig deur Vleiland se mooi, versigtig om nie stof te maak nie want dis oestyd …

Terug op die teer kom die Rooinekpas aan die beurt. Die ou Ingelsmannetjie kom nou nie juis by die hardebaarde nie, maar die laatmiddagson verf die wêreld allerlei skakerings.

Op Laingsburg word die dag se kiekies bekyk en bespreek. Dit voel byna te veel vir een dag.

Dis jammer oor pas nr. 6, maar een ding is seker: ons kom weer.

Don deel sy beste reiswenk

Vat altyd water saam. Maak die rit deel van jou vakansie – vat liewer die agterpaaie, ry stadig en as jy iets moois sien, stop en kyk.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #59 (April 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.