Leser vertel: Kniediep in die knyp

akkreditasie
NIE SPELETJIES NIE. As
die koppelaar in die
Namib breek, het jy
een van twee keuses:
Óf jy word Lüderitz toe
gesleep óf jy herstel dit
sommer self.
NIE SPELETJIES NIE. As die koppelaar in die Namib breek, het jy een van twee keuses: Óf jy word Lüderitz toe gesleep óf jy herstel dit sommer self.
Uit die argief: Die Kus van die Dood in Namibië is niemand se maat nie. Vra maar vir ’n paar manne wat in 2006 met hom kragte probeer meet het – en erg pak gekry het. Salie de Swardt vertel.

Die Namib is nie ’n maklike plek nie; die Kus van die Dood ook nie. As jy boonop tussen woestyn en see vasgedruk word, is rampspoedigheid jou voorland.

Dít het ’n groepie van ons in Oktober 2006 geleer, toe ons saam met drie  toermaatskappye die tog deur die Namib van Lüderitz na Walvisbaai aangepak het. (Van die maatskappye het destyds die alleenreg gehad het om konvooie deur die woestyn te neem.)

DIE LOLLERY BEGIN

Dit was op ons tweede dag dat ’n ongewone drama in die woestyn begin het. Ons konvooi van nege voertuie storm ’n lang duin een vir een terwyl die senuwees knaag en die hande onhandig in hier die vreemde omstandighede is.

Ek werk ’n bietjie rof met die kragtige sessilinder-Hilux (wat net ’n jaar oud is) in laerat en die volgende oomblik het ek geen koppelaar nie…

Ek moet kies: Óf die bakkie word ’n hele 130km teruggesleep na Lüderitz, wat my ’n paar duisend rand uit die sak sal jaag óf ons huur ’n vliegtuig en laat hom ’n koppelaarstel in die woestyn afgooi – ook nie goedkoop nie, maar heelwat vinniger en dan kan ons darem met die bakkie die rit voltooi.

Ná vele beraadslagings besluit ons op die tweede opsie en slaan net daar kamp op sodat die werk aan die bakkie die volgende dag kan begin. Maar dan is daar nog ’n teleurstelling: In die ganse Namibië is daar nie ’n geskikte koppelaarplaat vir die nuwe bakkie nie.

Dringend word met die satellietfoon heen-en-weer gebel en uiteindelik kom beter nuus: Die koppelaarplaat sal die volgende oggend van Johannesburg na Windhoek gevlieg word en dan bring “ons” vliegtuig hom woestyn toe.

Vroegoggend vertrek die konvooi en ons bly agter met die stukkende bakkie en een van toermaatskappye se swaargelaaide gidsvoertuig, ’n Toyota Land Cruiser-bakkie.

Die ure tik verby in die bakkende woestyn en uiteindelik kom die nuus dat die vliegtuig om 11.40 vm. by ons sal wees. Ons moet net op ’n duin gaan staan met ’n spieël flits en die kosbare bondel onderdele sal uit die vliegtuig gegooi word. “Hoop net dit val nie so diep in die sand dat ons dit nooit weer kry nie,” sê iemand.

’n Flitsie in die son oor die woestynduine word ’n brullende klein vliegtuig. Hy bars oor ons koppe, draai windop en laat val die vraggie. Gelukkig is dit in dik spons toegedraai. Dit hop met ’n vaart oor die sand en Jacques Delport, een van die  spanleiers wat elke week in die woestyn is, pik dit vinnig met sy bakkie op.

Haastig word na die stukkende bakkie teruggery en Jacques en sy vriend en ervare woestynman, Simon van Zyl, asook Johann Swanepoel, begin dadelik met die harde werk om die koppelaar terug te sit en weer die ratkas met ’n tuisgemaakte hyser in posisie te lig.

Ná ure se geworstel onder en bo-op die bakkie, is daar spanning in die lug toe die voertuig aangeskakel word. Maar hy loop soos ’n droom.

Nou moet ons die ander inhaal voor dit donker is. Hulle ry op en af oor die duine na die volgende kampplek, maar ons gaan kortpad vat langs die see af. Die gety is in ons guns, want die water is eers om tienuur die aand op sy laagste. Dit gee ons oorgenoeg tyd…

WAARHEENNOU? Tussen die Namib se kusduine en die s
WAARHEENNOU? Tussen die Namib se kusduine en die see is daar nie omdraaikans nie: Die enigste pad is vorentoe.

DUINAF SEE TOE

By Langewand lê die blou oseaan voor ons, afgeëts deur die beige wande van die mooiste duine op aarde. Ons hou bo die water stil op die kruin van ’n reusagtige duin van sowat 200 m hoog om eers die kuslyn te bespied.

Alles lyk goed. Die bakkies se enjins brul teen die kompressie, terwyl ons na onder gly. Nou is daar geen omdraai meer nie. Tussen die styl duine en die naaste brandertjies is daar net genoeg plek om te ry en om darem ook vir die talle en talle robbe wat in die pad kom, uit te swaai.

Ons roete kuslangs begin net noord van Sylvia Hill. Wanneer ’n jakkals voor die bakkies beland, bly hy maar vooruit hardloop – selfs hy weet hy kan nie teen die hoë duine uit nie. Later vind hy darem ’n rusplekkie en staan gelate en kyk hoe ons naby hom verbyjaag.

Skielik dam ’n onverwagte verrassing voor ons op: ’n Gebied van ongeveer 150 m met yslike klippe bestrooi en groot rotswande tussenin, wat tussen die duine en die branders strek. Ons moet noodgedwonge bo-oor.

Haastig begin ons klippe skuif en “brûe” oor die rotswande te bou. Uiteindelik is ons deur en sit ons die reis teen ’n vaart voort. Hier by die lae duine is die strand oop. “Ons is vanaand nog voor die ander by die kamp,” sê Simon vrolik terwyl hy kort agter Jacques bly ry.

DIE SON SAK

Ons vorder vir ’n paar kilometer goed, maar kom om ’n draai tot stilstand met ’n skok: Nóg so ’n byna onbegaanbare terrein lê voor ons. Ons móét oor.

Dit begin al sterk skemer raak, maar ons gidse is rustig. Daar is nog baie ure oor voordat die gety om tienuur teen ons draai. Die see het nou wel die landskap hier op die strand by ons verspoel, maar vorentoe sal die rotse weg wees, sê hulle.

Die bakkies brul, ons rol klippe uit die pad, oorwin al swetende nog ’n hindernis en hervat die reis met nog groter ywer.

Maar dit gaan al hoe stadiger, want nou ry ons in die skemer. In die ligte dam skielik nog so ’n gebied op. En daarna nóg een.

Ons bereik die bekende Black Rock-baken, wat op ’n hoë rots staan en grawe die sand tussen die rots en die duin weg, sodat die bakkies net-net daardeur kan wurm.

Maar dan begin die bande van die vellings af gly. Omdat ons soms op sand en soms op klip ry, hou ons die bande pap, want daar is nie tyd om dit elke keer af te blaas vir die sand en dan weer vir die klippe op te pomp nie.

Dit raak ’n stryd om my bakkie op die klippe te laat balanseer, ’n domkrag onder in te druk, die band reg te trek, die pomp aan die enjinbattery te koppel en die band weer op te pomp.

Teen tienuur die aand – toe die gety begin draai – het ons reeds vyf pap wiele moes regmaak. Ons móét net verder, maar dan beland Jacques se bakkie op ’n hoop klippe waarvandaan hy, ondanks sy uitmuntende bestuursvermoë, eenvoudig nie kan afkom nie.

Sy Cruiser word opgelig met die domkrag om die onderstel van die rotse af te probeer kry. Ons strompel in die donker oor die gladde rotse met kopflitse wat te flou vir hierdie taak blyk te wees, die skuim begin al aan ons bene raak, my sandaal se sool breek af en die velle van my been waai as ek in die donker in ’n gat vol water tussen die rotse trap.

Dan kom die grootste skok van die nag: Die Cruiser vrek en wil om die dood nie weer vat nie. Jacques en Simon gebruik al hulle kundigheid, maar niks wil help nie. Die Cruiser staan reeds tot naby sy kajuit in die water en skuim.

AMFIBIESE TOYOTA. As ’n Cruiser se enjin nie loop
AMFIBIESE TOYOTA. As ’n Cruiser se enjin nie loop nie en hy boonop op rotse vassit, moet jymaar hoop die see het nie té veel planne nie.

DIT RAAK ’N LA-A-ANG NAG

Dit is nou al ná middernag en ons besef ons moet ten minste my bakkie buite bereik van die branders probeer kry.

Om dit te doen moet ons tru, maar telkens swaai die stert in die rigting van die branders en ons kom al nader aan die see. Om alles te kroon, gly ’n band weer van die velling, maar hierdie keer is die band onherstelbaar beskadig.

Al raad is die noodwiel, maar dit hang onder die bakkie. Uiteindelik seil die onstuitbare Simon in die water in en onder die skuim deur om die wiel onder die bakkie uit te haal. “Waar is die sleutel vir die slot?” skree hy. Dít ook nog…

Teen halfdrie die oggend het ons uiteindelik my bakkie bokant die hoogwatermerk en ons besluit dit is tyd om ’n bietjie te rus. Ons het die vorige oggend laas geëet, daarna in die hitte van die woestyn gewerk en vannag seker al tonne klip, of so voel dit, verskuif. Ek gaan slaap in my bakkie, die res kry lêplek op ’n rots by die naaste duin.

Ons probeer rus, maar sake lyk duister, veral vir die Cruiser wat sonder krag oor ’n

paar groot klippe hang en nou tot by sy kajuit in die skuim staan. Oor my eie bakkie is ek diep bekommerd – die skade en die skande om die voertuig te verloor, sal bitter wees.

Ons gidse is bekwaam om alle uitdagings in die woestyn aan te pak. Op elke probleem het hulle ‘n antwoord, behalwe vir die Cruiser wat nie wil vat nie.

Daardie nag langs die Kus van die Dood bid ek soos nog nooit tevore nie, maar verwonder my ook aan die gedagtes wat daardie nood by my opwek.

Ek dink aan Zorada Temmingh, befaamde orrelis van Stellenbosch, wat ’n stuk vir die orrel oor die 9/11-aanslag op Amerika geskryf het. Sy beeld die verskrikking van daardie dag in klank uit, maar dan speel sy ’n subtema, wat nou gedurig deur my kop draai: “Heer, wees ons genadig… Heer, wees ons genadig…”

WAT NOU?

Teen vieruur skrik ons wakker toe Simon ’n kragtige lig oor die Cruiser en die see gooi. Dit is angswekkend. Die branders is op hulle hoogste vir dié gety en lyk asof die ons enige oomblik met volle mag kan tref. Die Cruiser staan diep in die skuim en water en my bakkie is enkele meters buite bereik van die dreigende branders.

Met sonsopkoms word dit duideliker in watter penarie ons is. Die rotswand dwars oor die strand waarteen ons te staan gekom het, lyk onoorbrugbaar. Maar selfs al sou ons daaroor kom, lê erger rotse dalk voor. En dan?

Ek besluit om die pad vorentoe te voet te gaan verken, terwyl hulle sukkel om die Cruiser aan die loop te kry. “Ons gee jou ’n uur; ons kan nie uitmekaar dryf nie,” sê Simon.

Die koue Benguela-stroom maak dit bitter koud op die strand en ek stap so vinnig moontlik vooruit. Die kus is plek-plek besaai met robkarkasse so aaklig dat jy liewer anderpad kyk.

In die verte sien ek ’n nuwe rotsagtige gebied en my moed sak in my skoene. Die stap verander in ’n drafstap namate die kommer toeneem en uiteindelik bereik ek ’n rotswand wat heeltemal onoorbrugbaar vir voertuie is.

Terug by die ander word ons opsies opgeweeg en ons neem die sware besluit: Ons sal moet terug, verby Langewand tot op ‘n plek waar die duine hopelik laag genoeg sal wees om dit te kan bestyg.

Dit beteken die ure en ure van worstel teen sand en klip die vorige nag was alles verniet en dat die bakkies in daardie nou gangetjie tussen water en duin omgedraai sal moet word.

Ons bou ’n jetty na die see, ry met my bakkie tot op die rand van die branders en kry dit ná ‘n groot gesukkel omgedraai. Teen dié tyd is die beskermingsplate vir sy onderstel al erg beskadig, die modderskerms geskraap en die wielvellings vol duike.

Die Cruiser wil steeds nie loop nie. Jacques praat met die kenners oor die satellietfoon, maar ons is vir nog ‘n paar uur gestrand. 

En toe ’n onvergeetlike geluid: Die Cruiser vat! Drie sleeptoue word aanmekaar vasgebind, die Hilux brul soos hy trek en Jacques moor die Cruiser tot dit van die reuse-klippe afspring, waarop dit die nag gestaan het.

Ons is nie buite gevaar nie, maar ten minste het ons nou twee bakkies wat mekaar kan help en ons weet watter soort terrein om te verwag.

Ure later ry ons met twee verrinneweerde bakkies by die reusagtige duin van Langewand verby op soek na ’n duin waar ons kan uit. Uiteindelik ’n opening. Jacques storm, maar haal dit nie.

“Heer, wees ons genadig…”

’n Ent verder is daar weer ’n opening tussen die duine. Jacques stoot die Cruiser met sy stert tot by die lae branders en storm – hy haal dit nét. Hy is op!

Ons volg. “Ek wys jou hoe maklik dit is,” sê Simon, terwyl hy al die krag van die gewillige Hilux bymekaar skraap. Die sand spat, die enjin brul en skielik is ons ook buite bereik van die see. Wat ’n verligting!

’n Paar uur later vang ons die konvooi se radiogesprekke op en kan ons hulle inlig dat ons ’n lang storie te vertel het.

Hoe gelukkig ons was dat die Cruiser daardie oggend gevat het, blyk later die dag toe hy gaan staan en volstrek nie weer vat nie. Al uitweg is om hom met ’n ander Cruiser te sleep, maar soms moet nog ’n voertuig ingespan word, sodat dit ’n trein van drie vorm om die swaar gelaaide bakkie oor die duine te trek.

Ons is binne bereik van Walvisbaai en ’n werktuigkundige word gestuur om te kom help, maar ook hy slaag uiteindelik nie daarin om die enjin aan die loop te hou nie. Ons besef weer watter groot risiko’s ons geloop het terwyl die kragtelose Cruiser op die rotse en in die water gehang het.

Dankie Zorada; ek glo vas dat sonder jou gebedsdeuntjie hierdie storie nie ‘n gelukkige einde sou gehad het nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #27 (Januarie 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.