Leser vertel: Kuslangs met die Kusi

akkreditasie
LIG DIE ANKER! Theo se tuisgemaakte seilboot op Rolas-eiland – die tuiste van ’n duisend duiwe.
LIG DIE ANKER! Theo se tuisgemaakte seilboot op Rolas-eiland – die tuiste van ’n duisend duiwe.
Uit die argief: Jy hoef nie ’n miljoenêr te wees om op ’n seiljag te vaar nie. Die leser Theo Schumann het na die eilande in die noorde van Mosambiek gevaar... op ’n tuisgemaakte seilboot. Weg het sy verhaal in Desember 2016 geplaas.

Ons gesin het vir meer as sewe jaar op Ibo-eiland aan die noordkus van Mosambiek gebly. As sendelinge het ek en my vrou, Mignonne, nou saam met die Mwani-stam gewerk en gelewe. Die woord Mwani beteken “mense van die see of getyvlakte”.

Die Mwani’s se horlosie tik twee maal per dag: een keer met hoogwater en dan swaai die pendule stadig terug na laagwater. Hulle bestaan wentel rondom die getye. Hulle maak daagliks met laagwater hulle kos bymekaar. In die getypoele oes hulle enigiets van skulpkos tot seekat.

Kusi is die Mwani-woord vir die suidewind wat in die wintermaande langs die Mosambiekse kus waai. Van Oktobermaand af waai die Kaskazi Praia. Hierdie winde staan ook bekend as die passaatwinde (trade winds). 

Ná sewe jaar ken ons hierdie seewinde baie goed. Ek en my vriend Andries Schwartz, ook ’n sendeling, wou met die Kusi noord vaar van Ibo-eiland tot by die monding van die Ruvumarivier, wat ook die grens met Tanzanië is. Die seereis is sowat 240 km soos die seemeeu vlieg, met ’n stuk of 30 eilande tussenin. Ek en Anli Asani, ’n plaaslike vriend, het ’n jaar vantevore ’n soortgelyke vaart aangepak van Pemba af tot by die kusdorp Mocímboa de Praia. Op dié vaart het ons begin droom om die eilande nóg verder noord van Mocímboa de Praia te gaan verken. 

Die eilande is net te ver van mekaar af om tussen hulle te roei, maar ’n seilbootjie sou die ding kon doen. Daar is min dinge so lekker soos om deur die wind oor die blou waters gedra te word.

Jy het nie ’n fensie seilboot nodig nie, maar bloot ’n kano met ’n klein seiltjie.

DAG 1

Met safari ngema (Mwani vir “veilige reis”) groet ons vriende ons teen hoogwater. Dinge gaan voor die wind. Sommer gou sien ons waar ons verstellings aan die seiltjies kan maak om nog vinniger te kan vorder. Ons stop eers op Matemo-eiland om dit met behulp van ekstra toue en binnebandrekke te doen.

’n Uur of wat later kom ons aan op Rolaseiland.

Die eiland is sowat 18 km noord van Ibo en ook die tuiste van ’n duisend duiwe. Die duiwe pendel tussen die vasteland en die eiland, waar hulle saans ’n veilige hawe het. Rolas is ’n bewarea en die enigste mense wat ons raakloop, is ’n paar plaaslike vissermanne wat semi-permanent hier kamp.

Ons volgende mikpunt is Macaloe-eiland naby die kusdorp Pangane waar ons oornag.

Op die eiland staan daar nog die oorblyfsels van ’n fort uit die dae van Vasco da Gama. Dis ’n private eiland – sulke eilande behoort gewoonlik aan natuurbewaring, ontwikkelaars of hotelgroepe. Volgens plaaslike etiket mag geen reisiger wat net op ’n private eiland wil oornag, weggewys word nie. Ons braai ’n vleisie en gesels land en sand met die eiland se wag.

Die aand slaap ek sleg. Ek ontdek ligdag die rede: ’n kromgeslaapte eetlepel onder my ribbekas.

Ek het die hele nag lepelgelê!

DAG 2

Ons skiet meer diepsee in tot by ’n klein eiland naby Medjumbe-eiland. Ons strek bene en neem ’n foto of twee. ’n Mens kan nie regtig die mooiheid op ’n foto vasvang nie. Die water is blouer, die sand witter.... en die son is ook baie warmer as wat die foto’s jou vertel!

Ons het nie vreeslik voorbereiding gedoen vir die vaart nie. Die eilande lê meestal naby genoeg aan mekaar dat jy die volgende eiland kan sien.

Ons plan was om van eiland tot eiland te vaar.

Trouens, ons het die aand voor ons vertrek besef ons het nie ’n kaart of kompas nie! Ons het toe ’n fotostaat van ’n padkaart ingepak, maar die was meer ’n troos as ’n hulpmiddel. (Ons hengeltoerusting was baie belangriker.)

Gedurende ons reis was ons nie regtig alleen nie. Jy sien gereeld ’n visserman by ’n rif, of ’n seil van ’n dau op die horison. Die dau vervoer enigiets van mense en bokke tot hout, kos en gedroogde vis tussen die eilande. Vars water is op die meeste eilande ’n uitdaging – die kom ook in 20 l-plastiekkanne van die vasteland af.

Ons sleep elkeen ’n fopvissie (rapala) agter ons boot aan – ons wil vis braai vanaand. Rondom Medjumbe-eiland se water byt ’n makriel. Die vis kom los van die hoek binne die kajak en wil terugspring water toe. Ek gryp my waterbottel en klits hom katswink.

Vandag se skof is wyd (75 km) en die son groet skuins na vyf. Ons bestemming is darem al in sig. Die Mionge-eiland lê in die baai van die kusdorp Mocimboa de Praia.

In die donker nag skyn hier ’n enkele liggie op die eiland, wat ons stadig nader wink. Dit lyk naby, maar ons sit eers ’n uur en ’n half later voet aan wal. Die eilandmense help om ons bote te dra tot anderkant die hoogwatermerk. In die proses kry van Andries se toerusting voete...

Ons maak vuur om ons vangs te braai – met ’n vyftigtal oë wat elke beweging dophou en bespreek. Die vis smaak soos alle vis wat jy self gevang het: dubbel so lekker!

Andries gaan groet die hoofman op die eiland. Hy besluit om ons nagwag te wees. Hy gaan haal sy slaapmat en maak hom tuis langs ons vuurtjie. Hy kry ook sy deel van die vis en drink ’n swart koffie saam met ons.

KIES JOU BLOU. Die eilande is soos oases, geplant
KIES JOU BLOU. Die eilande is soos oases, geplant in ’n blou woestyn.

DAG 3

Dis donker. Ons moet met hoogwater vertrek, want met laagwater trek die see soms kilometers terug. Die flou sekelmaan is ons gids.

Ná ’n mooi sonsopkoms leun ek tevrede agteroor in my “seiljag” en voel ryker as ’n miljoenêr! Min van hulle smaak seker ooit die bevrediging om hulle eie “seiljag” te ontwerp, te bou en te seil. Met ’n ou blou stortgordyn vir ’n seil, plastiektafeldoek vir ’n venstertjie (in die seil), oliekanne vir stabiliseerders, bamboestakelwerk en ’n paar stukke binnebandrek is hierdie “seiljag” seewaardig. En as ek moet raai, handhaaf ons ’n gemiddelde spoed van sowat 10 km per uur – glad nie sleg nie.

Ons doen vandag ook van die private eilande aan en vra rigting by die plaaslike mense. Hulle beduie gewoonlik rigting oor die see met die wysvinger wat by die eerste lit gebuig word. Dié korter vinger beduie volgens hulle meer akkuraat rigting as ’n uitgestrekte wysvinger. Jy moet dan ook agter hom gaan staan en saam oor sy vinger korrel.

Andries haak later ’n vis, maar dié byt die lyn af – ons eet vanaand boeliebief! Ons slaap die aand op Queramimbi-eiland naby Palma, die volgende groot kusdorp. Die enigste inwoners is muskiete. Hulle aptyt is so groot soos ons s’n en hou die kuier om die kospotte kort.

DAG 4

Met die uitloer uit die tent hang ’n donker muskietwolk oor ons koppe. Ons is só haastig om te verkas dat Andries eers in die water agterkom hy het nog sy slaapbroek aan!

Ons word vanoggend omring deur mooi blou water en ek sukkel om woorde te vind vir al die skakerings van blou. Op Tecomaji-eiland snorkelduik Andries. Ek hou agter aan my boot vas en die wind sleep my met duikbril op bo-oor die koraalriwwe en kleurryke vissies. Ek wonder wat sal gebeur as die boot uit my hand glip...

Rondom Palma se punt (Cabo Delgado) sluit ’n groepie plaaslike vissermanne in hulle uitgeholde boomskuite by ons aan. Ons maak grappe en skerts oor en weer. Hulle is veral geïnteresseerd in ons seile se ontwerp.

Die wind bol heerlik in die seile en ons eindpunt, die dorpie Quionga, kom gans te vinnig nader. Ek sou graag vir nog ’n dag of twee in die Skepper se blou paradys wou rondseil!

Vir die eerste keer sedert ons vertrek haal ons spane uit. Ons roei die laaste 3 km windop in die riviermonding tot op Quionga. André Thiart, ’n vriend en sendeling daar, wag ons in en beduie vir ons die pad deur die manglietbome na die vasmeerplek.

Hierdie reis was my afskeid van Mosambiek. Ek is dankbaar vir die voorreg om so lank hier te kon bly en het nou oorgenoeg “brandhout” vir die siel. Ek klim uit my boot uit, reg vir die nuwe avontuur in Kaapstad.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #146 (Desember 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.