
Ons groen Autovilla het nou wel in die vroeë jare sewentig al die lig gesien, maar hy gedra hom nog soos ’n jong man as ons met hom koers kies.
Ek het die Autovilla hier by die 20 jaar, maar het eers omtrent agt jaar gelede begin om ’n bietjie aandag aan hom te gee.
Ons het al genoeg nagmerriestories oor die voertuie se oorspronklike enjins gehoor en daarom besluit om vir ons s’n ’n Volkswagen Jetta-1,8 l-enjin in te bou.
Sedertdien het ons nog nie een meganiese probleem gehad nie. Daar was nog nie eens sprake van die enjin wat kook nie.
Aan die binnekant het ek hom aangepas vir ons behoeftes, netjies gemaak en die slaaphoekie heeltemal oorgedoen. Ek het ook die leefruimte groter gemaak deur ’n kappie bo-oor die voorsitplekke te bou.
Aan die agterkant het ek ’n staander vir ’n motorfiets gebou. Ons laai ons bromponie daarop, dan het ons iets om die wêreld te verken.
Ek het ook al ’n klein Suzuki-karretjie en ’n sleepwa agter die Autovilla gehaak en al die pad tot in Zambië gery – sonder enige voorvalle – maar met die motorfiets is dit makliker.
Ons is versot op ons Autovilla, want met hom kan ’n mens stop net waar jy wil, en dan het jy alles by jou.
In die Kruger kan jy vir die leeus sit en kyk terwyl jou koffiewater kook.
Ons ry gewoonlik teen 90 km/h en dan gee hy ons ’n heel skaflike verbruik van 10 l/100 km.
Wanneer ons egter in bergagtige gebiede of in erge wind ry en die enjin moet ’n bietjie harder werk, kry ons in die omgewing van 12 l/100 km.
Ons het ’n ruk gelede, toe ons terugkeer van die Krugerwildtuin af, vir ons nog ’n Autovilla gekoop.
Hy was effens nuwer as die een – ek dink hy dateer uit die vroeë jare tagtig – en het ’n 3 l-enjin gehad.
Maar voor ons kans gekry het om met hom te gaan kamp is hy in die brande in 2017 hier by ons op Knysna verwoes.
Die verwoesting slaan ’n mens stom en dit is erg om te sien hoe al jou goed in die slag bly, maar ek en Kathy het besluit ons maak skoon, beweeg aan en klou nie vas aan die verlede nie.
Dit is die enigste manier om so ’n neerdrukkende situasie te hanteer.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #1 (Augustus 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as by digitaal@weg.co.za jy so iets raaksien.