Leser vertel: ’n Mini wat skrik vir niks!

akkreditasie
Uit die argief: Wat doen jy as jy die langpad tussen Johannesburg en Kaapstad moet aandurf? Wel, jy pak die tog in ’n Mini aan!

Destyds het Mark Liprini nie twee keer gedink nie: Toe hy in 1982 tussen Johannesburg en Kaapstad moes reis, het hy in sy 1982 Mini Clubman geklim… en sommer ’n paar agterpaaie verken! Hy vertel.

Wanneer jy ’n reis van 4 500 km oor die lengte en breedte van Suid-Afrika in die vooruitsig het, is ’n betroubare ryding seker hoog op jou prioriteitslys – iets soos, sê nou maar, my vrou se Polo.

Maar as ’n mens só lank op die pad gaan wees, wil jy darem ’n avontuur daarvan maak.

Dís hoekom ek besluit het om eerder met my eie motor te ry: ’n 1982 Mini Clubman 1275E.

My eerste kar was ook ’n Mini. Ek het met daai karretjie gaan swot, by my meisie (nou my vrou!) gaan kuier én wittebrood gehou.

Daarna is die kar eers na my suster toe, en uiteindelik het my my broer met hom gery… totdat dit nog net die roes was wat hom aanmekaargehou het. Hulle is taai motortjies, dié Mini’s. 

Toe ek dus hierdie 1982-model agter in ’n werkswinkel van ’n tweedehandshandelaar in Edenvale sien staan, was dit ’n uitgemaakte saak: Dit was weer tyd vir ’n Mini in my lewe. Dit het maande se onderhandeling geverg, maar uiteindelik was hy myne.

En omdat sy lugdraad kietsregop staan nes die stertjie van ’n vlakvark wat deur die veld draf, het ek die karretjie sommer gou Pumba gedoop.

Pumba was my vervoer op menige breakfast run, maar ek voel klassieke karre moet meer gereeld uitkom. Met die hengse lang rit op hande het ek besluit Pumba gaan vir ’n veel groter avontuur sorg as die Polo.

En ek het op die koop toe ’n paar ekstra bestemmings op my reisplan gemerk: Die verlate spoorwegstasie by Putsonderwater in die Noord-Kaap het my al geruime tyd geroep, Kaap Agulhas ook, en was die pont oor die Breërivier nie ook so soort van op my pad nie?

Om van die Swartbergpas nie te praat nie – dié het ek 20 jaar laas gery! En Lesotho? Wel, hallo Lesotho!

Die ding met Mini’s…

Dalk moet ek eers ’n paar dinge oor Mini’s verduidelik: ’n Klassieke Mini lek nie olie nie, dis ’n vergissing. ’n Klassieke Mini merk bloot sy gebied.

Voordat ek hom gekoop het, het Pumba bykans agt jaar gestaan, en sy pakstuk en seëls was al bros – ná ’n jaar waarin ek daagliks 80 km gependel het, het hy obsessief begin raak met sy merkery.

Twee voormalige Mercedes-Benz-werktuigkundiges, André en Devlin Lockhart, het die enjin uitmekaargehaal, nuwe pakstukke ingesit en dit toe heeltemal herbou – van die klepbeddings (valve seats) tot die verwarmingsmatrys (heater matrix).

Ná ’n lang gedokter en ’n vars lagie verf was Pumba weer byna nuut. Nog net die remme moes gediens word… en toe was hy reg vir die langpad!

Nou het die voorbereiding in alle erns begin. Pumba se tenkie kan net 32 liter vat, en met die lang afstande tussen die dorpe van die Noord-Kaap – tot by die 150 km – sou ek ’n paar jerrykanne vol brandstof moes saamry.

En omdat die Mini nog standaardbande (145/80/10) het wat jy nie sommer enige plek in die hande kry nie, was ’n paar noodwiele ook op my paklysie. Én water – ek sou sekerlik ’n kan water ook moes saamry.

My paklysie was lank, maar die pakplek skraps. ’n Dakrak was al uitweg. Maar ek kon nêrens ’n regte Mini-dakrak opspoor nie en het toe self een van aluminiumvierkantpyp en platyster gebou.

Ek het die noodwiele bo-op vasgeskroef en die jerrykanne met stroppe vasgebind. Ou Pumba het begin bowigtig lyk en die bagasieruim en agtersitplek was toegepak onder kamptoerusting.

’n Mens sou sweer ek was van plan om ’n dekade lank om die wêreld te reis!

Hier gaat ons

Dis vroeg in Maart, en op die N1 suid van Johannesburg het die hemel se sluise oopgetrek. Ek sit láág in die Mini.

Trouens, ek is op ooghoogte met die groot vervoerlorries se wiele, wat ’n boog water oor Pumba opskop wanneer hulle verbykom.

Ek kan nie veel voor my in die pad sien nie, en die tienduim-ruitveërtjies werk oortyd. Wat het my besiel?

Ek vat dinge rustig, want die nuwe enjin moet eers ingeloop word. My gemiddelde spoed uit die stad was 80 km/h; geleidelik druk ek die naald hoër – 90 km/h, 100 km/h… daarsy, dít sal my spoed bly vir die reis.

Die volgende dag pak ek die eerste grondpad – Putsonderwater toe. Met ’n grondvryhoogte van skaars 16 cm gaan dit maar sukkel-sukkel en ek moet my lyn mooi kies sodat die oliebak nie stamp nie. 

By Marydale moet ek die eerste jerrykan losmaak. Eskom se krag is af en daar is nie ’n kragopwekker wat die enigste brandstofpomp op die dorp kan aandryf nie. 

Vier dae later is ek in die Kaap. Oor die 2 500 km moes ek net twee keer stilhou vir herstelwerk – een keer om die uitlaatstelsel reg te maak, en ’n ander keer om ’n monteringspunt van die alternator te vervang.

Met die laaste stop het ek ook uitgevind die krukas se seël het begin lek, maar dit was gelukkig nog onder waarborg en die Lockharts het sonder skroom vir die herstelwerk betaal. 

En toe raak dit rof

Gedurende my Kaapse verposing sit ek nog 4 000 km op die klok, en moet die aansitter-solenoïed, hoofligskakelaar en ruitwasser se waterpompie vervang (al dié onderdele was immers al 32 jaar oud).

Ek gaan wys ook vir Pumba waar hy gemaak is: die Leyland-fabriek in Blackheath. Dis lankal nie meer ’n motorfabriek nie, maar ek spoor wel ’n paar van die ou Leyland-manne op en neem ’n foto van Pumba voor sy geboorteplek.

Duidelik was dit vir hulle net so lekker om die ou Mini te sien, want daarna is ek seker twee keer ’n week gevra wat ek vir Pumba nodig het!

My drie maande in die Kaap vlieg verby. Dis tyd om weer koers te kry en – net vir veiligheid – vervang ek die nege jaar oue bande. ’n Mens weet nooit…

Om Pumba lekker warm te maak kies ek buite die Paarl eerder koers oor Du Toitskloofpas as om deur die Hugenotetonnel te ry.

Daarna swenk ek weg Overberg toe – ’n mens kan darem nie só naby aan die vasteland se suidelikste punt verbyry en nié daar gaan draai nie. Die aand bly ek in die hotel op Malgas en gaan die volgende oggend met die pont oor.

Volgende op my lysie is die Swartbergpas. Dié bergpas klim binne skaars 12 km meer as 1 000 m, en op lang stukke van die skerp grondpaddraaie is daar geen versperring tussen jou en die afgrond nie.

Pumba gedra hom verbasend goed, en ná die skof oor dié ruwe terrein voel ek ons tweetjies is reg vir Lesotho.

Maar dit sou nog tien dae en 2 100 km vat voor ons die buurland sou bereik. Gelukkig is die pad soontoe taamlik mak en die roete wat ek volg, kronkel deur die Suid- en Oos-Kaap tot in die Vrystaat.

Lesotho word nie verniet die Bergkoninkryk genoem nie. Ek besluit om oor die breedte van die land te ry sodat ek genoeg teer- én grondpad kan ry.

Van hulle is menéérpaaie, ouens wat jou dwing om in eerste rat op te ry en in tweede af.

Met ’n totale massa van 900 kg is remverswakking iets waarmee ’n mens moet rekening hou, maar ek wil eerder nie daaraan dink terwyl ek teen die steil haarnaalddrade afsukkel nie.

Tot by Semongkong verloop alles nog goed, maar toe ek weens padwerke ’n “kort” 15 km-ompad moet ry, raak ek liggies bekommerd.

Ek moet telkens stilhou, terugstoot, uitklim, die pad soek en dan met ’n aanloop die volgende helling bestorm.

Die wiele tol, ek kan hoor hoe klippe teen Pumba se onderstel stamp, en die uitlaatstelsel maak met die aakligste krapgeluide kennis met die grond.

In ’n stadium hou ’n man in sy viertrek langs my stil en vra: “Wat soek jy hier met daai klein karretjie?!”

Sy gesig is die ene bekommernis terwyl hy toekyk hoe ek die volgende skuinste met die vernielde karretjie aandruf. Waarheen gaan jy, Ntate?” wil hy weet. E

k begin self wonder waarheen ek op pad is, maar ek is by omdraai verby en moet eenvoudig deurdruk. 

Dis dan nou hoe dit gebeur dat ek ’n wintersnag iewers in die berge van Lesotho deurbring, met geen benul waar ek is nie, besig om klippe aan te rol en gate in die pad toe te stop sodat ek treetjie vir treetjie kan vorentoe sluip.

Wonder bo wonder maak die Mini dit, en drie uur nadat ek by die padwerke weggedraai het, is ons weer terug op die hoofpad.

Die uitlaatpyp begin met ’n geroggel protesteer, en kort voor lank is die kajuit vol dampe. Êrens is daar ’n lekkasie!

Die uitlaatgasse begin met my kop smokkel. Ook maar goed so, want die res van die pad tot by die Kwaggasnek-grenspos is een lange stuk onder konstruksie.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, is die 265 km van Morija tot by Kwaggasnek agter die rug. Sewe uur later.

In die pylvak

Die pad van Kwaggasnek tot by Matatiele is in ’n haglike toestand – byna so erg soos die skof wat ek pas afgelê het.

Maar wat staan my en Pumba te doen? Ons kan maar net koers hou en hoop ons maak dit in een stuk.

Daardie aand in die Resthaven-gastehuis vergoed die jacuzzi, ’n heerlike ete en snoesige bed vir die dag se ontberinge. 

Pumba is egter in ’n slegter toestand as ek. Toe hulle die kar daar in ’n werkswinkel in Matat ophys, is ek geskok om te sien die staalbrandstofleidingbykas is heeltemal daarmee heen.

Dit het uit die metaalklampe losgeskeur en is plek-plek heeltemal platgestamp. Die duike in die onderstel en oliebak getuig ook van ’n veeleisende rit en ’n hele paar noue ontkomings.

Ná die nodige herstelwerk stoot ek en Pumba weer aan. Op ’n oornagstop by vriende in Trafalgar in die KwaZulu-Natalse Suidkus vervang ek ’n stel remskoene wat uitgebrand het, en daarna is die oorblywende 1 250 km met die N3 langs tot by die huis eintlik heel rustig.

Toe die Polo in die oprit voor my verskyn, was ek nie spyt nie. Die Mini het net weer bewys klassieke motors is dalk oud, maar nog glad nie koud nie.

Deur hom het ook reg oor die land nuwe vriende maak, en ek sal altyd met ’n glimlag terugdink aan menige vermaaklike gesprek wat ek met vreemdelinge langs die pad gevoer het.

Ek wil jou uitdaag: As jy weer die langpad aandurf, doen dit in ’n Mini.

Mark se Mini
  • 11 300 kilometer afgelê op die reis deur Suid-Afrika.
  • 1 275 cc – die grootte van Pumba se enjin. Die Mini is van die vroeë jare sestig af in Suid-Afrika vervaardig, en die laaste plaaslike Mini’s het in die middel jare tagtig die lig gesien. Daar was twee basiese ontwerpe – die Clubman en die “Bullnose”.
  • 1 rol duct tape is gebruik vir herstelwerk. Plus dan ’n basiese gereedskapkis, ’n paar ekstra sekerings, gloeilampies en elektriese draad.


Hierdie artikel het in 2018 op Weg se webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaklees.