Leser vertel: Sakpasvakansie in Malawi

akkreditasie
Malawi
Malawi
Uit die argief: ’n Plat beursie en min verlofdae hoef nie jou avontuurlus en liefde vir reis te kniehalter nie. Die leser Hendri Beukes het saam met sy vrou en vriende die warm (en bekostigbare) hart van Afrika gaan soek, en dit in Malawi gevind.

Ek en my vrou, Emma, en ons vriende Trevor en Kerstin Atterbury is jong getroudes met voete wat jeuk om Afrika te ontdek.

Ons geld en verlof is min, dus begin ons ’n internetsoektog na ’n lekker vakansie deur goedkoop vliegtuigkaartjies op te spoor.

Nie Lusaka, Luanda of Livingstone haal die paal nie, maar Lilongwe lyk haalbaar. 

Ons Google Malawi en foto’s van mense met breë glimlagte, die Malawimeer en ongerepte natuurskoon verskyn op die rekenaarskerm.

Die land was nog altyd op my wenslysie, en die foto’s oortuig die res van die span. Ons gaan Malawi toe! 

Ons doen nog ’n bietjie navorsing oor besienswaardighede, bespreek ons vlugte en voordat ons mooi tot verhaal kom, is dit April 2016 en ons rugsakke is gepak vir ’n 12 dae lange toer deur die suide van die land.

Ons het geen vooraf besprekings vir vervoer of verblyf nie, maar ons het spandrag (bypassende hemde en hoede), ’n rugsak vol noodsaaklikhede (muskietweerder, malariamedisyne, snorkels, duikbrille en swemklere), ’n kaart, Laurens van der Post se Venture to the Interior en ’n Lonely Planet-gids oor Malawi, wat ons sommer op die O.R. Tambo- internasionale lughawe koop. 

Ons vlug op Malawi Airlines land op Blantyre se piepklein lughawe, maar buite is ’n skare taxi-bestuurders wat toeriste die stad inkarwei. Een van hulle neem ons na Doogles Backpackers

Voor ons daar lafenis teen die hitte soek, trek ons gou eers Malawiese kwatcha by ’n kitsbank langs die pad en koop brood en avokado’s.

Ons vier ons eerste aand in Malawi met Carlsbergbier en biltong-en-avobroodjies terwyl ons die strategie vir die volgende paar dae beplan. 

Mulanje eerste

Ons plan is om heel eerste Berg Mulanje, die granietgebergte op Malawi se suidoostelike grens met Mosambiek, te sien.

Die hoogste piek is Sapitwa, sowat 3 000 m bo seevlak. In Suider-Afrika is net die spitse van die Drakensberg hoër.

Die berg word omring deur teeplantasies en inheemse woude strek tot teen die granietkranse. Oral stroom watervalle teen die rotswande af. 

’n Oorlaaide minibus vervoer ons van die Limbe-stasie buite Blantyre af na die dorpie Likhubula, waar ons teen die voet van die berg slaapplek kry by die CCAP-sendingstasie

Ons eet hoender, rys en slaai by ’n restaurant en vergaap ons aan die sonsondergang en die massiewe berg.

’n Mens kan die berg verken op staproetes van een tot vyf dae. Likhubula is propvol “gidse” wat jou te hulp snel as jy net lyk asof jy die berg wil aanpak, maar dis beter om by die bosboukantoor te registreer en ’n amptelike gids te kry. 

Ons het die Chambe Plateau-dagstaproete aangepak, wat kronkel deur dennewoude tot bo-op die Chambe-vallei en weer rivierlangs na onder daal.

By Old Man Falls is ’n waterval en ’n swempoel wat lafenis bied teen die hitte en humiditeit.

Dit neem agt uur om dié uitdagende roete te doen, maar die pieke wat bo die woude uittroon, die uitsig oor die Malawiese landskap in die verte en die reuk van die Mulanje-sipresse maak dit beslis die moeite werd. 

Liwonde op die spyskaart

Ons tweede bestemming is die Liwonde- nasionale park. Die park is langs die Shirerivier waar dit in die Malombe-meer uitmond.

Malawi
Die Liwonde- nasionale park is langs die Shirerivier.
 

Van Mulanje af ry ons per bus terug na Blantyre, deur Zomba tot in Liwonde. Geduld, en nogmaals geduld, is die mantra as jy hier openbare vervoer gebruik.

Die 8 vm.-bus daag eers om 9.30 vm. op en dit neem 3 uur om 65 km af te lê. ’n Reisdag is presies dit: ’n volle dag se reis. 

Ons klim in Liwonde af en reël met Liwonde Safari Camp vir ’n drywer om ons te kom haal.

Dit is ’n paar minute se ry uit die dorpie en is teenaan die park geleë. As jy egter nie jou eie vervoer het nie, het jy geen ander keuse as om die lodge se dienste en restaurant te gebruik nie.

Hier is luukse tente beskikbaar, maar ons het gelukkig ’n backpackersslaapsaal vir onsself.

Hier kyk jy na voëls, lees boek of speel bordspeletjies in die ontspanningslokaal.

Die park se plantegroei bestaan uit digte woude teen die hange van die berge, mopanie- en kremetartbome in die laagliggende dele en moerasse teenaan die rivier.

Op ’n wildrit sien ons rooibokke, koedoes, waterbokke en olifante, asook visarende, ’n jong breëkoparend, troupante, ’n slangarend, bromvoëls en ooievaars.

Ons gaan op ’n bootrit en ’n voetslaantoer deur die park.

Binne twee dae merk ons meer as 20 voëlspesies op ons lys af. Dit sluit die kuifkopvisvanger, gestreepte vleiloerie, palmmôrelyster, spookvoël, saalbekooievaar, enkelbandslangarend, breëkoparend en kaalwangvalk in.

Malawi
Die waterval by Old Man Falls bied lafenis ná die uitdagende Chambe Plateau-dagstaproete by Berg Mulanje.

Tyd vir Cape Maclear

Van Liwonde af neem ons weer ’n minibus na die noorde, op pad na die Malawimeer.

Die bus het 14 sitplekke, maar dit trek eers weg wanneer 19 volwassenes en ’n kind plek gevind het. Daar’s so baie bagasie dat die kattebak nie ordentlik kan toemaak nie. Die rit is allesbehalwe gemaklik, maar tog is daar dinge wat ons altyd sal bybly.

Ons tref ’n slaggat teen volle vaart en ’n sak mielies val by die  kattebak uit.

Die bestuurder slaan rem aan en ry in trurat tot by die mieliepitte wat nou die pad vol gesaai lê.

Almal help om die pitte met takke bymekaar te vee en in lapsakke toe te bind.

Geen harde woord word gerep nie en daar is geen kwade gevoelens nie. Met die laaste pit terug in die bus, klim ons in en ry verder.

Op die dorpie Mangochi besluit ons egter ons het genoeg gehad van die oorvol minibus – dis tyd vir duimgooi.

Ons stap eers die plek plat op soek na ’n kitsbank wat werk, waarna ’n vriendelike vragmotorbestuurder vir ons ’n geleentheid gee al die pad oor vlaktes besaai met oeroue kremetartbome tot by Cape Maclear.

Cape Maclear is in die Malawimeer- nasionale park, ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Ons kry slaapplek in ’n slaapsaal by die Fat Monkeys Backpackers.

Die kampterrein is op die strand, hier’s ’n kroeg en ’n restaurant en die personeel dra jou op die hande.

Ons huur kajakke om na die nabygeleë eilande Domwe en Thumbi te roei om daar te snorkelduik.

Ons het juis ons eie snorkeltoerusting saamkarwei om die lewe onder die oppervlak van die meer te verken.

Ons sien duisende blou, geel en pers tropiese visse. Visarende is ook volop in hierdie geweste.

Ons bly ’n klompie dae om die meer, die eilande en die dorp te verken.

Ons seil met ’n katamaran om Domwe-eiland, en eet baie porsies kwarthoender en skyfies by die plaaslike restaurante.

Die plaaslike vis op die meeste spyskaarte is chambo, en veral Fat Monkeys s’n is heerlik.

Malawi
SONSONDERGANG OP DIE MEER. Van die Fat Monkeys Backpackers af lê Domwe-eiland tussen jou en die sonsondergang. Die gemeenskap is hoofsaaklik afhanklik van visvang en vissersbote is pal op die horison.

Die terugtog

Van Cape Maclear af kry ons ’n geleentheid saam met plaaslike motorfietryers na Monkeybaai. Die Malawi Shipping Company (MSC) bedryf ’n pont, die bekende Ilala, wat weekliks tussen Monkeybaai en Chilumba vaar.

Soos die kraai vlieg, is die roete tussen Monkeybaai en Sengabaai net 50 km, maar dit neem omtrent 12 uur om dit op die Ilala te doen.

Dis 9 nm. en pikdonker teen die tyd dat ons en drie bemanningslede in ’n reddingsboot gelaai en land toe geneem word.

’n Donderstorm oor die meer sorg vir ’n bietjie opwinding, en ons vier ons veilige landing met ’n G&T.

Ná ’n lekker nagrus verken ons die dorpie, swem ’n laaste keer in die meer en vang ’n minibus na Salima, waar ons oorklim op nog ’n minibus na die hoofstad, Lilongwe.

In Lilongwe kuier ons ’n laaste aand in Malawi by Mabuya Camp. Die volgende dag neem ’n taxi ons na die lughawe.

Dis tyd om huis toe te gaan.

Talle reisigers sal sê dat die noorde van Malawi – plekke soos Likoma-eiland, Nkhotakota en Nkhatabaai – die mooiste deel van dié land is.

Maar ek sal enigeen aanbeveel om tyd in die suide deur te bring om teen Mulanje se hange te gaan stap en by Cape Maclear te gaan snorkelduik.

Leer Malawi se mense ken, gebruik openbare vervoer soos minibusse, busse, motorfietse en die Ilala en ervaar die ware hart van Afrika.

HOEVEEL HET DIT GEKOS?

Dit is wat die reis die vriende in 2016 gekos het:

Ons 12 dae in Malawi het minder as R500 p.p.p.d. gekos, en dit het kos, verblyf, vervoer, verversings en vermaak ingesluit. Die vakansie het ons elke omtrent R12 000 gekos, waarvan ons vlugkaartjie R7 000 beloop het.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #152 (Junie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.