Leser vertel: Vulliswa, kampwa, boswa...

akkreditasie
Dis mos kamp. Nick en Nerine
se Tora II is volgens hulle behoeftes gebou.
Dis mos kamp. Nick en Nerine se Tora II is volgens hulle behoeftes gebou.
Uit die argief: Eers het hy sy selfgeboude vullissleepwa in ’n tydelike kampwa omskep. Toe byt die gogga hom... en hy bou eers ’n kampwa en daarna ’n regte boswa, vertel Nick Smith.

In die vier dekades dat hy as ingenieursopmeter gewerk het, was ’n enorme vierwielwoonwa en die veld jare lank Nick Smith en sy gesin se huis.

En al het hulle voltyds in ’n woonwa gebly, het die gesin jaarliks vir vakansie gaan kamp. Deesdae is Nick afgetree, maar kamp is steeds deel van sy lewe.

Hy en sy vrou, Nerina, woon op Potchefstroom en gaan kamp met hulle Tora II-boswa wat hy self gebou het.

Tora II en sy voorganger, Tora I, het ontstaan uit Nick en van sy vriende se destydse kampeerdery in Namibië en met sy selfgeboude vulliswa.

Sy boswa Tora II vergelyk goed met een van die beste boswaens op die mark en het skaars ’n derde van die geld gekos wat jy vir ’n wa uit die fabriek betaal, sê Nick.

Beskeie begin
Vulliswa
Nick het die vulliswa uiteindelik in sy eerste boswa omskep en daarna begin Nick bou aan sy Tora II-kampwa.
Vulliswa
Die onderstel en raamwerk word stukkie vir stukkie met staal gebou.

In 2006 bou ek vir my ’n vullissleepwa van 2,4 m, min wetende dat dit die begin is van ’n tien jaar lange projek – een met baie uitdagings.

Die saadjie vir ’n kampwa is geplant die dag toe ek en ’n klompie vriende besluit ons gaan by Torrabaai kamp.

Ons moet alles wat ons nodig het, saamvat, want daar is niks nie. ’n Groot 300 l-vrieskas moet saam vir al die vis wat ons beplan om te vang.

En natuurlik moet daar ’n kragopwekker gelaai word om die yskas aan die gang te hou. Vir ons ses manne moet daar boonop drie koepeltente saamgaan plus nog ’n klomp ander kampgoed.

Ons het baie pakplek nodig en my vulliswa is die antwoord. Ek bou vir hom ’n dakraam, span ’n stuk PVC-seil bo-oor, gee hom skadunetsykante en siedaar: Ons het ’n kampwa.

Die vulliskampwa is die begin van my boswa die Tora, maar dis nog lank nie ’n boswa nie.

Die gogga byt en byt

Die kampgogga het ons groep nou lelik gebyt en in 2008 gaan ons saam met nog twee vriende kamp. Dié slag gaan ons na Myl 72 en ons moet vier tente saamvat.

Ek verander die kampwa heeltemal en gee hom ’n spens en opwasgedeelte aan die een kant. Dis gerieflik en hy slaan taamlik maklik op.

Só kamp ons ’n hele paar keer baie lekker met die wa, en as ons nie met hom kamp nie, doen hy tuis steeds diens as my vulliswa.

Die gogga wil egter nie laat los nie, en ek besluit om die wa wéér te verander. Tot nou toe het hy net die PVC-boseil waaraan ons die koepeltente heg.

Ek besluit hy moet nou heeltemal kan toemaak. Ek gee hom ook ’n kombuis... nou is die wa ’n tree nader aan ’n boswa.

Ai, die wind!

Met al die veranderinge kan ek en my vrou, Nerina, lekker alleen met hom gaan kamp.

Ek bou my daktent wat ek baie lanklaas gebruik het, op die wa in, maak die kante toe en bou vir hom ’n afslaankombuistafel waarop die stoof ook staan.

Dié tafel word maklik opgesit en afgehaal, want ek gebruik deur die jaar steeds die wa om vullis by die huis weg te ry.

Die veranderde wa is lekker ruim, maar om hom op te slaan is harde werk, en daar’s baie pale en penne.

Ek het ook Hartenbos se wind heeltemal onderskat en dit kos ekstra penne om seker te maak alles bly staan.

As die wind deur die nag waai, kry jy egter nie geslaap nie, want die tent ruk en fladder heelnag.

Ons kamp net een keer so. Ek besluit die wind gaan my nie weer pla nie: Ek gaan die kampwa in ’n regte boswa verander.

Vulliswa
Nick (staande) en sy vriende kamp destyds met die vulliswa by Torrabaai. Die wa het ’n raam met ’n PVC-dakseil gekry en hulle het die koepeltente al om die wa opgeslaan en vir koelte bedags het hulle ’n afdak teen die wa opgeslaan.

Boswa nr. 1

En só verander ek die kampwa die derde en laaste keer. My nuwe boswa móét ruim wees én sterk wind kan trotseer.

Met hierdie verandering in ’n boswa, wat ek Tora I doop, kan hy nie meer vir vullis gebruik word nie. Ek ontwerp en laat maak nuwe tente en die wa kry ’n kombuis aan die regterkant en ook ’n badkamer aan die linkerkant.

Ek bou hom so dat jy dadelik onderdak is as jy uitklim. (Terloops, die skadunet oor die boswa verkoel die wa met meer as 8 ºC.) Jy slaan hom ook in ’n japtrap op.

Jy lig bloot die dak en dan slaan die daktent oop. Jy kan binne 5 minute afhaak, opslaan en slaap. En dan het Tora I vier opgerolde sytente wat jy na gelang van jou behoeftes kan oopmaak.

Boswa nr. 2

Ná vele kampe met Tora I wil ek weer ’n klompie dinge verander, maar met die wa se bestaande konstruksie gaan dit moeilik wees. Ek besluit om die logiese ding te doen en ’n splinternuwe wa te bou.

Eers kry ek baie teenstand van Nerina af, want sy is baie tevrede met Tora I.

Gelukkig besef sy dis iets wat ek graag wil doen en tyd is mos nie ’n faktor nie. Sy is dikwels handlanger én raadgewer, veral toe die nuwe wa, Tora II, sy kombuis kry.

Die bouwerk is in my hande. Die ontwerp van Tora II is eintlik maklik, want in Tora I het ek mos ’n prototipe wat ek net kan verfyn. Ek teken heel eerste gedetaileerde planne met ’n CAD-program op die rekenaar en beplan die bouproses.

Die beplanning en ontwerp van die boswatent is die moeilikste, en dis gou vir my duidelik ek kan dit nie aan ’n tentmaker oorlaat nie.

Ek maak seker ek het ’n volledige en duidelike plan vir die tentmaker – en in die proses leer ek sommer ook hoe word ’n tent gemaak.

Die beplanning, tekenwerk en navorsing neem baie tyd in beslag, maar dis die moeite werd.

Die opslaantyd en gerief van die wa is ook baie belangrik.

Ek beperk die penne tot drie om Tora II op te slaan. Ook gewig is ’n belangrike faktor. Ons twee oues het nie meer die krag om ’n swaar wa te skuif nie, en sover ek weet, is my Tora II die ligste sagtedakwa wat jy kry (tarra 480 kg, BVM 750 kg).

Die bed is lekker groot en onder hom is baie pakplek.
Vulliswa
Nick Smith se boswa

 Sweis en plak

Ek maak doodseker ek kry die regte material vir die wabouery, en bepaal vooraf elke ding se gewig en maak aanpassings om binne my mikpunt van 450 kg te bly.

Met die weegslag vir registrasie is die tarragewig net 30 kg meer as dié mikpunt.

Die onderstel en A-raam bou ek van 75 x 50 mm-RQ en die ribbes en raamwerk van 38 x 19 mm-staal. Die res is alles van aluminium.

Die panele is van ’n baie ligte materiaal wat saamgestel is uit twee lae aluminium met ’n laag poliëtileen tussenin. Alle moere en boutjies is van vlekvrye staal.

Ek laat al die staalwerk poeierverf en sit die panele vas met Sikaflex 552 AT. Dit is tydrowend en Sikaflex is nie die maklikste ding om mee te werk nie.

Eers moet ek die hoekaluminium binne elke raam plak, ’n dag wag tot dit droog word en dan die paneel plak. Boonop moet alles eers liggies geskuur en met asetoon skoongemaak word.

Die panele word met Hammerite geverf. Die tent word gemaak van skeurvrye seil (400 g-ripstop) en al die venstergaas is van PVC (en nié skadunet soos in ander boswaens en tente nie).

Al die gaas kan ook ooprits en al die tentpanele kan af en oprits na gelang van jou behoeftes.

Na jou eie smaak

Slepers het verskillende behoeftes, voorkeure en afkeure, en die meeste mense koop maar ’n wa wat die naaste aan hulle smaak is.

Tora II is presies volgens ons persoonlike smaak, voorkeure en behoeftes gebou en het ’n paar eienskappe en dinge wat g’n ander wa het nie.

Ingeboude watertenks word vuil en is moeilik om skoon te maak. Die drinkwater in Tora II is in twee 20 l-houers wat jy losknip om dit skoon of vol te maak.

Die opwas- en badkamerwater is in ’n ingeboude 50 l-tenk en ek het ook ’n ingeboude40 l-watertenk in my bakkie.

Die wa het ’n 12 V/220 V-kragstelsel met agt sokke binne en drie buite. Die 12 V-stelsel is ook ’n los, draagbare stelsel en kan apart en elders gebruik word, wat baie handig te pas kom.

’n Enkele mens kan die wa binne net 10 minute op- of afslaan. Al die seile word stewig gespan met pale wat aan die wa vasheg. Sodra die wa opgeslaan is, het jy ook dadelik onderdakhangplek vir jou nat handdoeke.

Die wa maak onder reg rondom toe om die wind en koue uit te hou – en hiervoor hoef jy nie ’n enkele pen in te slaan nie.

Die voorkant by die neuskas rits heeltemal toe en is lekker bêreplek vir los goed soos die fietse, braaigoed en hout.

Afhangende van waar ons staan en hoe die weer is, het ons verskillende tentkombinasies.

Ons slaan op wat ons nodig het. Die badkamer word net opgeslaan wanneer dit werklik nodig is. Dit bestaan uit twee PVC-stortgordyne in die agtertent wat heeltemal toerits.

Vulliswa
Die ontwerp van Tora II was eintlik maklik, sê Nick.

Die wa het vier hoekstutte wat ook as hegpunte vir die seile dien. Die opvou-wastafel pas oor die yskas in sy uittreklaai.

Die penne- en touesak is deel van die trap. Die trap se vier voetstukke is verstelbaar sodat jy dit ook op ongelyke grond stewig kan laat staan.

In die neuskas kom die los goed wat nie altyd te skoon is nie, plus dinge soos my twee 5 kg-gasbottels, potjie en braaipan, en die wa het ook ’n stofdigte kas vir al die kraggoeters soos die verlengkoord, ligte en herlaaier.

Bo-op die deksel is plek vir die grondseil en groot goed soos fietse. En indien jy gewonder het: Die neusgewig val nog ver binne die toegelate 100 kg.

In die wa is ’n groot loopoppervlak van 1,5 x 1,3 m.

Die slaaptentgedeelde is 400 mm van die bedkant af, wat beteken jy raak nie aan die kante terwyl jy slaap nie. In dié ruimte kan jy daardie ekstra kombers en boek bêre.

Tora I is ook nog deel van die familie. My twee seuns, Nico en Henrich, is ewe lief vir kamp en dié wa is nou hulle eiendom.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy & Sleep # 1 (Augustus 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.