Leser vertel: Stap in Turkye

akkreditasie
Stap
langs ou weë
Stap langs ou weë
Uit die argief: Die Liciese Weg (Lycian Way), of in Turks “Likya Yolu”, strek oor 500 km langs die Turkse Mediterreense kus van die dorpie Fethiye af tot op Antalya. Die stapvriendinne Annette Erlank en Lynette du Toit het dit aangepak.

Jy stap in die spore van die Liciërs wat sedert die vyfde eeu hier geleef het en verskeie ruïnes en graftombes agtergelaat het. Die Liciërs was gevorderd – rotsgraverings wys oorblyfsels van hulle taal en hulle demokratiese regeringstelsel het vroueregte erken.

Die gebied het oor die eeue heen onder verskeie heerskappye gestaan, van die Griekse Alexander die Grote tot die Romeinse Ryk. Deesdae is dié stukkie Turkse platteland ’n gewilde vakansiebestemming met turkoois baaitjies, ruwe berge en heelwat argeologiese terreine. Te voet is een van die beste manier om dié gebied te leer ken. Kom, stap saam!

Dag 1: Fethiye na Kayaköy (12 km)

Ag nee, waar is ons roetekaarte dan nou? Dit én ons noukeurig uitgewerkte reisplan het by die huis bly lê! Dis al reeds 12 vm. en ons het nog nie vertrek nie – dan maar daarsonder gaan.

Die Liciese Weg se geel padwysers, rooi-en-wit aanwysers op klippe en blote instink bring ons darem laatmiddag by die dorpie Kayaköy uit. By ons pansiyon (verblyf in iemand se huis), moet ons stapstewels buite bly en kry ek en Lynette elk ’n paar plakkies om binne mee rond te loop.

Voor donker besoek ons ’n deel van die dorp wat ’n bekende “spookdorp” is en in sy geheel bewaar word. Ek vergaap my aan die stuk of 4 000 verlate kliphuise en kerkies – sowat vyf eeue oud! – wat al vir byna ’n eeu leeg staan.

Die Griekse Christene wat eers hier gewoon het, moes ingevolge die Turks-Griekse vredesooreenkoms van 1923 na Griekeland terugkeer. Die spookdorp is nou ’n wêrelderfenisgebied en die netjiese klipstrate, vuurherde en verf wat nog plek-plek teen die mure kleef gee jou ’n idee van die gehalte van daardie era se bouwerk.

Terug by die pansiyon is dit tyd vir ’n glasie sterk swart tee en dan kruip ons in – môre is ’n lang dag.

Kayaköy ruïne


Dag 2: Kayaköy na Faralya (20 km)

’n Turkse ontbyt is ideaal vir ’n stapper: gekookte eiers, kaas, olywe, komkommer, tamatie, brood en heuning. Ons pak sommer padkos ook in.  

Vandag se been begin met ’n stewige klim deur ’n gebied met hoofsaaklik johannesbroodbome van honderde jare oud. Vir die eerste keer kry ons ’n mooi uitsig oor die Middellandse See.

Ná 8 km kom ons aan by Oludeniz, ’n vakansieoord met ’n spierwit strand, en stap verder met ’n kronkelende pad langs. Oor die volgende 12 km tot by die dorpie Faralya styg ons sowat 800 m op ’n kronkelpad. Dis ’n klipperige omgewing, maar ’n mens ruik die tiemie en marjolein wat wild hier groei.

Die Gul Pansiyon waar ons vanaand slaap, het ’n uitsig oor die vallei en die see. Die gasvrou ontvang ons met varsgebakte koek en koffie en daarna mik ons vir die Skoenlappervallei noord van Faralya – die tuiste van die Spaanse vlagvlinder. Die diep kloof na die Skoenlappervallei is ’n klein paradys. Maar ons besef gou ons sien nie kans om teen die stel permanente toue en lere tot heel onder te klim nie. Maar, ag wat, van hier bo tussen die bloeiseloortrekte lemoenboorde af lyk dit net so mooi!

Dag 3: Faralya na Alinca (15 km)

Vanoggend kan ons van die bergrand af terugkyk op gister se roete. En ons ontmoet twee Turkse stappers wat Engels magtig is en stap met Kate Clow se The Lycian Way-gidsboek (die een wat ons by die huis vergeet het!). Kate het die Liciese staproete in 1999 bekend gestel, en ons kry nuttige inligting uit dié gids voordat ons met ’n versteekte paadjie langs deur ’n digte woud tot op die strand by Kabak daal. Vir die eerste keer rol ons ons broekspype op en maak ons voete nat in die turkoois water.

Van hier af loop twee roetes na die dorpie Alinca – een gaan róndom ’n berg, maar is nie goed gemerk nie terwyl opsie twee bó-oor strek. Ons besluit op laasgenoemde en ’n strawwe drie uur se klim later word ons met die uitsig beloon.

Doodmoeg kom ons by die afgeleë dorpie Alinca aan en ons gasvrou, Zerha, begroet ons met yskoue Cokes in die hand. Vir 50 Turkse lira (sowat R250) per persoon kry ons slaapplek, aandete en ontbyt. Zerha maak kaas, jogurt en botter van bokmelkkaas, lê olywe in, kook konfyt, maak slaaisous van granaatsap en bak brood. Haar vrugtebome, groente- en kruietuin is iets om te aanskou. Die plek is ’n ware oase en ek wens ons kon sommer ’n week lank hier bly!

Dag 4: Alinca na Bel (9 km)  

Die stap begin vanoggend in ’n lentetuin van appel-, peer- en lemoenbloeisels en veldblomme, met die see doer onder. Die paadjie daal skerp en hier is baie los sandsteen – ons skuifel versigtig al op ’n afgrond langs. Later sien ons olyfboorde en veewagters en byekorwe in die veld. Vyebome groei sommer so langs die pad en tussen ruïnes; dis net ’n jammerte die vrugte is nog nie ryp nie.

Die middagson is warm en die plantegroei herinner aan die Karoo. Ver onder lê ’n blou baai. Ons stap verby ’n verlate veepos met ou olyfbome. Verdwaalde bokke met klokke is al teken van lewe.

Dié aand slaap ons in Bel, nog ’n afgeleë dorpie met ’n moskee, maar geen winkel nie. In Fatma se pansiyon word aandete op die mat bedien. Ons sit kruisbeen voor ’n vuur om die groot skinkbord met sop, groentegeregte, jogurt, vars slaai en groot, plat brode. Die hele gesin kuier saam en ons kommunikeer met handgebare en foto’s. Ons stort is ’n kom warmwater en ’n beker.

Dag 5: Bel na Patara (15 km)

Ruïnes by Pydnai


Toe ons vertrek, gee Fatma vir my en Lynette elkeen ’n handgekerfde houtkierie present vir die stewige 900 m wat ons vandag teen die steiltes moet afklouter. Die voetpad is goed gemerk en wanneer ons ’n bietjie op ons kieries leun om te rus, hang die belofte van die 18 km lange Patara-strand ver ondertoe soos ’n wortel voor ons neuse.

Ons vorder goed, deur die dorpies Gavuragili en Pydnai, waar ons die ruïnes van ’n ommuurde antieke stad wat meer as 2 000 jaar oud is verken. Waar daar nou vleilande voor die ruïnes uitstrek, was eens ’n hawetjie – een waarby Paulus op een van sy sendingreise aangedoen het.

Ons neem ’n dolmus (minibus) na Patara. Hier bly ons vir twee dae in die Flower Pansiyon.


Dag 6 en 7: Daguitstappies  

Liciese pilaargraf

Patara se ruïnes hou ons besig, so ook dié van die nabygeleë Xanthos. Albei dié argeologiese terreine dateer uit die Liciese era: Xanthos was meer as drie eeue gelede die hoofstad van Lisië en op ’n heuwel staan ruïnes van Liciese pilaargrafte en ’n latere Romeinse amfiteater en tempel.

By Patara is nog meer oorblyfsels van latere Romeinse vestings: ’n tempel van Apollo, badhuise en leivore. Maar twee aardbewings het die ruïnes erg beskadig.

Tussen Patara en Kalkan (’n entjie oos) lê ’n Romeinse ingenieurswonder – die Delikkemer. Dié pypleidingstelsel wat fonteinwater in Romeinse baddens moes tap, is sowat 2 000 jaar gelede gebou en bestaan uit ’n 12 m hoë muur met ’n akwaduk bo-op. Dis 500 m lank en soos ’n legkaart gebou uit rotsblokke van byna een vierkante meter elk, met gate van 30 cm in deursnee wat soos ’n “klippyp” in die middel van hulle deurloop.

'n Gedeelte van die Delikkemer


Dag 8: Kumluca na Adrasan (9 km)

Ná twee dae in en om Patara ry ons met ’n dolmus vir sowat drie uur langs die skilderagtige kus deur die dorpies Kas, Demre, Finike en Kumluca. Dis sowat 200 km tussen Patara en Kumluca, wat redelike groot dorpe is. Ons ry dié stuk, want ons tyd is beperk en ons wil eerder tussen die kleiner afgeleë dorpies stap.

Die dolmus tussen Kumluca en Adrasan loop nie buite seisoen nie en ons lê dié 9 km te voet af. Gelukkig laai ’n vriendelike motoris ons op en by die Nar Cicigi Pansiyon aangekom, is alles splinternuut en goed toegerus.

Hier’s heelwat hotelle en restaurante op Adrasan, maar die deure is nog gesluit. Ons stil maar ons honger met heerlike moerbeie uit die pansiyon se tuin. Wanneer die spitsseisoen oor twee weke begin, gaan dit egter ’n ander storie wees, en met dié gedagte in die agterkop geniet ons die skoon blou see des te meer.

Dag 9: Adrasan na Çirali (20 km)

Op ons laaste stapdag kraai ’n pronkerige haan ons wakker. Ons lê weer weg aan ontbyt en vat dan die pad, dié keer gewapen met bamboesstapstokke met komplimente van die pansiyon.

Aanvanklik stap ons al met ’n waterstroom langs deur granaatboorde voordat die pad al hoe hoër slinger. Ons klim sowat 900 m voor ons ’n uitsig oor Çirali se poskaartstrand en Tahtali Dagi kry – dié sneeubedekte piek is 2 365 m hoog en oorheers die hele landskap.

Hierna daal die pad weer af en ná drie uur se stap staan ons tussen die ruïnes van die antieke stad, Olympos – die Liciërs het van die tweede eeu v.C. af tot met die koms van die Romeine in die eerste eeu n.C. hier gebly. Hier is meer as 300 rotsgrafte.

Ná nog 3 km kom ons aan in Çirali – nog ’n gewilde vakansiebestemming met oorgenoeg blyplek buite seisoen. Daar is nog een besienswaardigheid wat ons wil sien voor ons terugmik huis toe via Istanbul, en hiervoor reël die personeel van Sunset Pansiyon vir ons vervoer na Chimaera, 4 km noord van Çirali.  

Ná ’n stewige klim van 20 minute kom ons by ’n plek tussen die rotse waar vlamme brand. Hierdie vlamme brand reeds vir eeue vanweë vulkaniese aktiwiteit duisende jare gelede. Wetenskaplikes sê dit is moontlik metaangas wat dit veroorsaak.

Hier is sowat agt verskillende soorte vlamme – almal is oranje-rooi, maar wissel in hoogte tussen 10 cm tot 50 cm.

Met die ryke geskiedenis, lekker kos en die blouste uitsigte was dit fantasties om dié stuk Mediterreense kuslyn te leer ken. 

Weet voor jy waai
  • Beplan watter deel van die roete jy wil stap. Ons het sowat 120 km van die 540 km lange roete oor 9 dae gestap.
  • Doen navorsing. Kate Clow se stapgids The Lycian Way is ’n goeie bron, so ook die amptelike webwerf cultureroutesinturkey.com.  
  • Beste tyd om te gaan? In April, voor die spitsseisoen (Mei tot Augustus) aanbreek. Dan is die klimaat nog gematig en besprekings by die pansiyons (hier is geen backpackers of B&B’s nie) nie nodig nie – jy daag net op. ’n Mens mag ook jou tent enige plek langs die roete opslaan.
  • Hoe lyk die roete? ’n Mens moet fiks wees. Die roete is bergagtig en jy stap hoofsaaklik op ruwe voetpaadjies. Dit is afgeleë maar veilig – selfs vir alleenreisigers. Die roete is nie oral ewe goed gemerk nie en die gebrek aan kommunikasie is soms ’n struikelblok – dra ’n Turkse fraseboekie saam.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #137 (Maart 2016) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.