Boegoeberg naby Clanwilliam is een van sy gunstelingbestemmings, vertel Piet. Dié vakansieoord is ongeveer 2 uur se ry noord van Kaapstad, net duskant Graafwater.
Maar Piet sê hy draai net anderkant Kardoesie van die N7 af en volg dan die Koningskop-grondpad in die rigting van Graafwater.
Só vermy ’n mens die N7 en jou naweek begin sommer heelwat gouer. Boegoeberg is geleë op die plaas Lambertshoek, en hier is verskeie 4x4-paadjies wat die plaasmense voorheen gebruik het om wildeboegoe te oes en veeposte te besoek.