Deel

RUBRIEK: ’n Ode aan die toeknyprooster

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Moenie die toeknyprooster gering ag nie, sê Dirk Kok.

As ’n annerman die dag met die braaitang langs die braairooster staan, praat jy nié op sy hand nie. Jy hou ’n wag voor jou mond en jy swyg – al doen hy wát, al gebruik hy wát en al brand jy warmer as die vuur om iets te sê.

Dis ons groepie vriende se ongeskrewe reël. Én dis so min of meer nasionale braai-etiket.

Jy kan die braaier uitvra oor sy braaisous of  -sout en jy kan belangstellend vra waar hy die goeie hout en mooi tjops en sosaties gekoop het.

Of jy kan hom ’n pluimpie gee oor sy nuwe braaier, braaitang of braaiery.

Maar jy kan nié vir hom vertel hoe warm die kole moet wees of hoe hy eintlik  veronderstel is om die tjops en wors te braai nie.

Jy kan ook nié vir hom sê die supermark hou ’n beter sous aan as die een wat hy gebruik nie. Óf dat hy eerder gouer as later vir hom ’n ander tang of rooster moet aanskaf nie.

In kort: Jy kan komplimenteer, nié kritiseer nie. Jy kan braairaad by die braaier vra, maar as hy nie uitdruklik daarvoor vra nie, gee jy nié advies nie.

Dis in alle geval hoogs onwaarskynlik dat hy jou raad gaan vra, want elke braaier “weet mos wat hy doen”.

In kort: Jy kan komplimenteer, nié kritiseer nie.

In al die jare dat ons groepie vriende saam braai, hou ons getrou en goed hierdie die braaireëls. Daar was nog nooit moeilikheid nie.

In al die jare het nog niemand vir Doepie ’n woord gesê as hy goeie Kalahari-tjops op houtskool braai nie – al grens sy houtskoolbraaiery vir party van ons aan hoogverraad.

En almal bly stil as Koos die wors omdraai met sy lomp braaitang met die breë-plat knyper wat lyk soos die snawel van ’n lepelaar by Marakele se watergat.

Niemand het nog iets gesê oor Willem se kole wat alewig te min en te koud is en die steaks wat hy dan taaigaar kook omdat g’n vleis op sulke flou kole kan braai nie.

Almal swyg ook maar oor die swartgeskroeide skaaptjops tussen die ander skaaptops in Paul se braaibak, omdat hy dik tjops en dun tjops en groot tjops en klein tjops almal saam en almal ewe lank in sy toeknyprooster braai.

Selfs Tielman, wat eerder 40 ewe groot hoendervlerkies een vir een met die braaitang op die oop rooster sal omdraai “omdat ’n toeknyprooster aartsonde is”, sê niks nie.

Want jy bly stil as ’n annerman braai. Dis die reël en dis hoe dit werk.

Elkeen het sý manier van doen, sý eie braaigeite en -grille en sý eie braaigoeters.

Vir elkeen is sý manier die regte manier. En elkeen se braaigoeters is vir hom spesiaal en soortvan heilig.

Vat nou maar vir Tinkie. 

Om te sê hy is lief vir braai is ’n onderbeklemtoning. Jy kan maar sê hy is in die oortreffende trap lief vir braai.

En daarmee saam het hy baie braaigeite en -grille – sommige van hulle effe vreemd.

“Dis nou ’n man wat rigied is in sy weë en sy braaiweë,” sê Paul altyd.

Wanneer Tinkie hardehout drink, drink hy nét Red Heart of Olof Bergh en Coke.

As hy bier drink, is dit nét Castle.

Sy enigste rooiwyn is Robertson Merlot en al witwyn wat oor sy lippe kom, is yskoue Graça White. Nooit, maar nooit drink hy enigiets anders nie.

Sy drankie of bier drink hy ook nét uit ’n gewone bierglas en nooit uit ’n lang, smal glas of ’n bierbeker nie.

Van die begin van die braaiery af tot aan die einde van die kuier drink hy ook nét uit een, enkele glas.

As jy in die loop van die aand per abuis vir hom in ’n skoon glas skink, vra hy sy ou glas terug en gooi hy die inhoud versigtig terug in die glas waarmee hy die braai afgeskop het.

Van begin tot einde word sy glas ook nie een keer met water uitgespoel nie.

“Dis maar hoe dit is,” verduidelik hy altyd.

As dit by die vuur en die vleis kom, is Tinkie net so rigied.

Die laaste 20 jaar of langer braai hy al met dieselfde kort, smal dubbelskarnier-tang en dieselfde toekniprooster.

Die tang se rooi handvatselverf is al dof gevat en die rooster pikswart en op plekke effe krom gebraai, maar nuwes wil hy nie hê nie.

Dis sý tang en sý rooster en hulle “verstaan mekaar”.

Al braaisout wat hy gebruik, is die gewone Marina, en Lappies se gewone braaisous is die enigste sous wat hy soms vir ’n steak of  ’n rib gebruik.

Andersins maak hy sy eie doepa van Worcestersous, olyfolie en growwe peper, en dit is dit.

Dis sý tang en sý rooster en hulle “verstaan mekaar”...

Hy braai ook nét met één soort hout: kameeldoring en níks anders nie. As hy gaan kamp, ry sy toeknyprooster, braaitang en kameeldoring sonder uitsondering saam.

Een ding wat Tinkie nie in enkelvoud doen nie, is vuurmaak. 

Of hy nou by die huis of in die kampplek braai, maak hy nie een vuur nie, maar twéé: ’n “plat vuur” en ’n “regop vuur”. En hy braai by albei.

Sy “plat vuur” is vir kole onder die oop rooster, vir tjops, wors, sosaties of steak. 

Die “regop vuur” is vir heelaand kuier en vir ’n “lekkerding op die kant”.

Dié vuur word nie kole nie, maar word die hele tyd met nog ’n stompie kameeldoring of drie gevoer om hoog te bly brand.

’n Ent van die vlamme af staan die toeknyprooster skuinsregop teen ’n stuk geriffelde heiningspar van so met ‘’n “lekkerding” of “lekkerdinge” wat stadig-stadig daarin gaar word: ’n skaaprib, varklies of hoenderstukkies. 

En ek moet bieg: jy gaan vêr soek vir vleis wat lekkerder gebraai is as Tinkie se “lekkerdinge”. 

Wanneer Tinkie klaar die slag gebraai het en die braaibak vir ete nader trek, salueer hy en sê hy in sy beste Italiaans: “Sa-loe-te!” 

Dan eers word die rooster oopgemaak en die “lekkerding” of dinge in die bak gesit.

In al die jare wat ons hom ken, doen hy dit so.

En in al die jare het nie een van ons iets daaroor gevra of iets gesê nie, want ’n man se braaimaniere is mos sy braaimaniere. 

Tot nou die aand toe Koos ná die saluut by die kampvuur in Mokala vra: “Hoekom salueer jy elke keer die vleis só?”

In die gloed van sy “regop vuur” kyk Tinkie verbaas vir Koos: “Die vleis? Ek salueer nie die vleis nie. Ek salueer die toeknyprooster.

“Daar’s gedigte oor braaivleisvure en braaiboeke spesiaal vir platroosters, Webers en Cobbs, maar niks sulke goed vir die toeknyprooster nie. Hy word heeltemal te gering geag.”