Rubriek: 2 pap wiele & 2 papsakke

akkreditasie
Wat doen jy as jy laat op ’n Sondagaand iewers tussen die myndorpe van Noordwes twéé pap wiele kry? Jaco Kirsten vertel.

Ek is miskien nie altyd die skerpste potlood in die blikkie nie, maar ek het die vermoë om sekere nommers te onthou.

My ou magsnommer: 85450732. Of my ouboet s’n: 78583135. Of my R4-geweer se reeksnommer: 707049.

Of die registrasienommer van ’n koshuismaat op universiteit, Coert, se goue Toyota Conquest 1300: MYT 197 T.

Vier van ons is destyds met Coert se Conquest van Potchefstroom na Pretoria vir die naweek.

Die ander twee passasiers was Coert se meisie, Sonja, en ’n vriend genaamd Arrie.

Arrie, wat met sy vaal krullebol en dik, ronde bril gelyk het soos ’n kernfisikus, was op pad om iewers in die Jakarandastad te gaan ontspan, waarskynlik met ligte leesstof.

Iets soos Stephen Hawking se A Brief History of Time.

Sonja het by haar ma-hulle gekuier. Coert en ek het rondgekuier in Pretoria se gate.

Petrolgeld was min en sou ons te veel petrol ingooi, was daar dalk te min geld vir kuier.

Toe ry ons maar so deur Pretoria se strate en gooi elke keer net R2 se petrol in (as ek reg onthou, het petrol in 1989 nog minder as R1 per liter gekos).

Saterdagmiddag, net voor die winkels sluit, het Coert en ek vir ons elkeen ’n boks wyn gekoop in Pretoria-Noord.

Elke student – selfs al swot jy nie bemarking nie – weet dat wyn in ’n boks beter waarde vir geld bied as wyn in ’n bottel.

Dié wyn sou die naweek hou en ons sou die res kon terugvat Potch toe om dit daar te geniet soos die geleentheid hom voordoen.

Ek kan nie die naam van die straat onthou waar die drankwinkel was nie, maar toe ek onlangs kyk na ’n straatkaart van daai gebied, val dit my op dat die strate in die omgewing van die drankwinkel name soos Koos de la Rey, Genl. De Wet en Gerrit Maritz het.

Met al dié oorlogsname in die omtrek, was dit seker geen verrassing dat dit na bakleiwyn geproe het nie.

Die naam ontgaan my nou, maar ek onthou dit was ’n rooi “versnit”.

Want geen enkele kultivar mag alleen die blaam dra vir daai batterysuur nie.

Wanneer dinge skeefloop op die langpad, vat dit jou eers ’n minuut of twee om tot verhaal te kom. Dan begin jy dink – gewoonlik verkeerdelik – dat jy die probleem vinnig sal oplos...

Coert se ma-hulle was weg en die huis was ons s’n. ’n Ou meisie van my en haar vriendin het die aand kom kuier in Coert-hulle se huis in Danie Theronstraat.

Ons het soos konings gekuier, al was die wyn nou nie juis wat jy as adellik sou beskryf nie.

Ek weet ons het in ’n stadium Bach se Toccata en Fuga in D-mineur geluister. Dis mos daai orrelmusiek wat klink of Dracula in die skadu’s van ’n slapende meisie se kamer skuil.

Die volgende dag het ons almal opgelaai en koers gekies terug Potch toe.

Om die een of ander rede wat my vandag, jare later, ontgaan, was ek agter die stuur van Coert se Conquest.

Ons was nog lustig aan die ry, toe die pad in die omgewing van Western Deep Levels-myn skielik van ’n dubbelbaan na ’n enkelbaan vernou. En daar tref ek toe die moeder van alle slaggate.

Met genade van bo het ek daarin geslaag om die Conquest in die pad te hou, want die een band het gebars.

Wanneer dinge skeefloop op die langpad, beleef jy altyd ’n paar stadiums.

Die eerste is wanneer jy gekonfronteer word met die probleem. Dit neem jou ’n minuut of twee om tot verhaal te kom.

Dan begin jy dink – gewoonlik verkeerdelik – dat jy dit vinnig sal oplos.

Ons het die gebarste band omgeruil. Of wag, ék het die band omgeruil.

Die ander het die boks wyn uitgehaal, vir hulself ietsie geskink en begin raadgee oor waar hulle reken die domkrag moet kom en hoe styf die wielmoere vasgedraai moet word.

Maar toe kom ons agter dat nóg ’n wiel intussen pap geword het. En soos alle motors het die Conquest net een spaarwiel gehad. Bogger.

“Wat nou?” het Sonja gevra. Ek het voorgestel dat ons ’n soortgelyke motor stop en vra of ons nie sy spaarwiel kan leen tot op Potchefstroom, skaars 50 km verder nie.

Blink plan. Maar daar was net een probleem. Niemand wat wel stilgehou het, se wiele kon op die Conquest pas nie.

Ek dink dit was omdat hy vier wielmoere gehad het en die ander motors vyf, of so iets.

Die feit is, ons was gestrand. En dit het al hoe later geword.

Omdat ek agter die stuur was tydens die voorval, het ek besluit om te gaan hulp soek, met die pap wiel onder die arm.

Wie weet, dalk was daar ’n plek op Fochville waar ek kon regkom.

Ná ’n uur of twee het ’n mynwerker, wat sy skof voltooi het, by ons gestop en my ’n geleentheid na Fochville gegee.

Die plek was so stil soos ’n kerkhof. Net die vulstasies was oop en die naaste wat ek aan ’n bandherstelplek kon kom, was die rubberige smaak van ’n garage-pie.

My Samaritaan het my toe maar weer teruggevat motor toe.

Ek dink hy was bang ons was soos Koos Meyer, die legendariese Stellenbosse storieverteller, wat in die ou dae langs die pad gaan staan het met ’n motor sonder enjin en deur hulpvaardige mense “tot op die volgende dorp” gesleep is.

So het hulle lekker gereis.

Soos ons nader aan die Conquest gekom het, het ek al hoe meer lugtig begin raak.

Sê nou maar net die klomp het begin moed verloor? Sê nou Sonja was in trane. Dalk het Arrie besete geraak.

En Coert? Wat sou hy doen as sy sigarette opraak?

Toe ons daar stilhou, was ek verlig om te sien my vrese was ongegrond.

Want hulle was al klaar met Coert se boks wyn en het pas met myne begin.

En dit het gelyk of Coert nog baie Winfields oorgehad het.

Trouens, in teenstelling met my, het hulle besonder opgewek gelyk. “Hei, Jakes, dalk moet jy Carletonville try,” het Coert vrolik gesê.

Daarna het ek ’n geleentheid gebedel saam met ’n man in ’n blou overall in ’n wit bakkie. Dié slag is ek en die band Carletonville toe.

Weer was daar geen hulp nie. Dit was asof my moed in een van Carletonville se berugte sinkgate wegsak.

Terloops, jare later het ek ’n meisie van Carletonville gehad.

So mooi as wat sy was, het ’n paar dinge begin krap. Sy het heeltyd haar Ford XR3 gery dat hy brul, terwyl haar regterelmboog by die venster uithang.

Boonop was daar amper altyd ’n Chesterfield in haar mondhoek.

Haar pa se kleinhoewe was vol voertuie in wisselende stadiums van herstel. En daar was baie rims en bande in die agterplaas.

Ja, so werk die lewe mos. As ek haar vroeër geken het, het haar pa vir ons ’n band gehad en het hy sommer ook gou ’n freeflow exhaust opgesit, terwyl die tannie vir ons koffie maak.

Toe ek na dié vrugtelose probeerslag weer by die Conquest stilhou, was almal al so vrolik, ek kon sweer hulle was half teleurgesteld dat ek terug is. “Hei, hoe lyk dit met die band?” het Arrie gegrinnik.

Dit was al ounag en toe besluit ons maar om in die motor te slaap. Vier mense in ’n Conquest.

Toe vat ek ook maar ’n slukkie of twee van die wyn om te kan slaap.

Vroeg die volgende oggend het ’n skofbaas van die myn by ons stilgehou.

Vir die soveelste keer het ek die hartseerstorie vertel. “Spring in, ek ken ’n plek wat bande regmaak,” het hy gesê.

Buitendien was dit Maandagoggend. Dinge het beter begin lyk.

Ook nie lank nie, toe kry ons ’n plek wat die band van binne verseël met ’n patch so groot soos ’n doilie. Boonop het die vriendelike skofbaas my teruggevat motor toe.

Sê nou maar net die klomp het begin moed verloor? Sê nou net Sonja was in trane. Dalk het Arrie besete geraak. En Coert? Wat sou hy doen as sy sigarette opraak?

Uiteindelik kon ons die pad vat Potch toe.

Maar so twintig kilometer verder ruik ons rubber wat brand. Toe ons stilhou, kom ons agter die band het finaal gedisintegreer.

Ons het geld bymekaargegooi, want ek moes in Potch ’n goedkoop, versoolde band gaan koop en toe ’n geleentheid soek terug motor toe.

Toe gooi ek maar weer duim, die band styf onder my arm.

Ek kry toe ’n geleentheid by die eienaar van ’n eetplek op die dorp, wat my reguit koshuis toe gevat het. Daar het my buurman Frikkie aangebied om te help.

Die res van die storie is effens vervelig.

Ons het die band op die Conquest gesit en Potch sonder verdere voorval teen middagete binnegery.

Die volgende dag vra ’n professor my waar ek Maandagoggend was. “Professor weet, ons het Sondagaand groot teëspoed gehad. Ek het ’n slaggat getref en toe verloor ons twee bande…”

Hy’t my ’n snaakse kyk gegee en aangegaan met die klas.

’n Paar weke later kla hy oor ons klasbywoning.

“En,” vervolg hy lakonies, “moet net nie my tyd kom mors met belaglike verskonings oor pap wiele nadat jy ’n slaggat getref het op pad Potch toe nie.”


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #23 (Augustus 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.