Deel

Rubriek: As jy wíl ja, dan sal jy!

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Uit die argief: Jy’s aan die spaar vir die nuutste veldwa om Afrika te pak, kompleet met elektroniese superbeheer en 17 ewenaarslotte? Wel, blaas jou spaargeld eerder op bier, klim in jou vrou se Uno en tik “Kaïro” op die Garmin in. Gavin Foster reken dít sal goed afloop …

Die Nieu-Seelander Burt Munro het vier dekades daaraan gewerk om sy 1920 Indian Scout 750 cc-motorfiets te omskep in die 300 km/h-vuurpyl waarmee hy in 1967 ’n landspoed-wêreldrekord op die Bonneville-soutvlakte opgestel het.

Ons eie Brausch Niemann het sy klein Lotus 7 in die 1960’s in die lengte langs middeldeur gesny, hom 5 cm smaller gemaak om aan die vereistes vir Formule Een te voldoen, die modderskerms afgehaal en toe met ’n mate van welslae in internasionale renne meegeding teen regte, egte Grand Prix-vervaardigersmotors wat bestuur is deur wêreldkampioene soos Jim Clark en John Surtees.

En ’n paar jaar gelede het Bill Caswell, ’n tydrenfanatikus van Chicago, vir hom ’n plek langs dié twee oopgejaag in die annale van eksentrieke motorrenoorpresteerders, toe hy derde in sy klas geëindig het in die Rally Mexiko, in ’n skedonk.

Die feit dat Caswell sonder werk was en bitter min geld gehad het, het hom nie weerhou van sy lewensideaal om aan ’n groot tydren deel te neem nie.

Hierdie eertydse finansiële makelaar het die 1991 BMW 318i vir $500 op die internet opgetel en dit só getimmer en gesweis dat hy daarmee aan plaaslike renne kon deelneem.

Die oorspronklike enjin het skaars vyf minute in sy heel eerste ren gehou, maar dié meganiese terugslag en verskeie ongelukke in die res van die seisoen het onse held nie in die minste afgeskrik nie.

Toe kry hy ’n plan… Die reëls van die Rally Mexiko, ’n resies wat deel is van die Wêreldtydrenkampioenskap, maak voorsiening daarvoor dat plaaslike jaers hul vernuf teen die voorste spanne kan toets in ’n spesiale klas genaamd die Rally America.

Deelnemers hieraan is so te sê in ’n tydren binne ’n tydren en die punte wat jy verdien, tel nie vir die kampioenskapsreeks nie.

Al wat Caswell toe nodig gehad het, was ’n beter enjin, ’n navigator, bemanning vir die kuip, die regte gereedskap, ’n bietjie proviand en kontant, en ’n lekker groot wa om alles en almal mee saam te piekel.

’n Gebruikte BMW E30 M3-enjin en ’n ratkas uit ’n scrapyard het Caswell van die meeste van sy laaste geldjies verlos.

Nadat hy ook doelgemaakte tydrenbande gekoop het, was daar nie veel oor vir enigiets anders nie.

Toe’t hy maar ’n paneelwa gehuur en ’n ou met die naam Ben Slocum, wat hy van g’n adamskant geken het nie, as medebestuurder aangestel.

En so is die twee platsak weg Mexiko toe.

Met die landing het dit gevoel of ons ’n baksteenmuur tref en ’n monteersteun van die enjin het middeldeur gebreek. Maar die sprong was fantasties!”

Afgesien van die renmotor bestuur, was die twee nuutgevonde vennote ook sommer hul eie kuipbemanning, mediabeamptes, spyseniers en algemene handlangers!

Die flentergat ou BMW het baie gou ’n groot gunsteling by die toeskouers geword, veral danksy die eienaar se flambojante bestuurstyl en die gereelde botsings waarin hy betrokke was.

Caswell het sy vriende en aanhangers deurentyd met ’n rits kriptiese maar hoogs vermaaklike e-posboodskappe laat weet hoe dit gaan.

Hy en sy verbysterde spanmaat het baie min tyd gekry om te slaap en hul voorbereiding was nie altyd van die beste nie, soos afgelei kon word uit sy informele nuusverklarings.

“Het te laat daar aangekom om te verken en moes skofnotas by die Peruaanse tydrenkampioen kry. Dude is nogal kief, maar sy notas is in Spaans of iets. So, e’s is regs en d’s links …”

Later het hy weer oor die taal van die skofnotas iets te sê gehad.

“Op die derde skof mis ons ’n waarskuwing oor ’n hobbel voor (ons notas was in Portugees of iets) en tref dit teen 80 myl per uur (sowat km/h) en vlie die lug in.

“Met die landing het dit gevoel of ons ’n baksteenmuur tref en ’n monteersteun van die enjin het middeldeur gebreek. Maar die sprong was fantasties!”

Toe ’n vriend van Caswell wou weet waarom hy die motor sywaarts deur elke toeskouerpunt laat gly met die gillende enjin se toere heelpad in die rooi, het hy gesê: “Man, ek gee nie om of dit my ’n paar tiendes van ’n sekonde kos nie, die ondersteuners is mal daaroor!”

As die organiseerders moes sien hoe Caswell en Slocum so in die resies aan die kar gewerk het, sou hulle waarskynlik ook mal geword het.

“Brandstofpomp het vasgebrand met drie skofte oor. Ek het dit uitgehaal, gekap en geklap, ’n mes by ’n polisieman geleen en sommer ’n stuk kajuitharnas opgesny om die vloei om te keer en dit aanhou kap tot dit weer gewerk het.”

Op een skof het Caswell se renmotor se brandstoftenk begin lek. Die helfte van die brandstof het oor ’n afstand van 24 km weggesypel.

Die gevaar van ’n brand was nou ook deel van ’n ellelange lys van gevare wat hulle in elk geval in die gesig gestaar het.

Maar met ’n bietjie gom en duct tape is dié probleempie toe ook uiteindelik opgelos.

“Daar’s nie tyd om die tenk leeg te tap en … te sweis nie,” het Caswell daardie dag droogweg in ’n e-posboodskap geskryf.

“Hopelik hou dit vandag.

“Terloops, dis awesome om met ’n BMW hier te jaag en die klein Wêreldtydren-Peugeotbeker-karretjies te rook met ’n onderstel wat sedert die Prodrive E30 M3-era (laat 1980’s) nog nooit weer vir tydrenne gebruik is nie.”

As jy Caswell se “nuusverklarings” fyn lees, kom jy agter die arme Slocum kon hom ook nie altyd hanteer nie.

“O, iemand het my gister ge-moon. ’n Dude het in die pad gaan staan, omgedraai, sy broek laat sak en sy enkels vasgegryp. Dis in die video.

“Slocum gil op my toe ek vir die fotograwe en ondersteuners (by ’n toeskouerpunt) ’n thumbs-up gooi terwyl ek in die draai in gly. Ek het gedink dit lyk fantasties.”

“Ons was die enigste span wat die musiek hard gegooi het wanneer ons gediens het. Ek spring uit en die eerste ding wat ek dan met my 30 minute doen, is om ’n paar wysies aan die pomp te kry. “

In tydrenne word die bemannings toegelaat om die karre op bepaalde tye en plekke ’n beperkte tyd lank te diens wanneer daar nie gejaag word nie.

Die ou BMW en sy eksentrieke insittendes was van die begin af ’n groot gunsteling by die toeskouers omdat hulle geweier het om enigiets te ernstig op te neem.

“Ons was die enigste span wat die musiek hard gegooi het wanneer ons gediens het. Ek spring uit en die eerste ding wat ek dan met my 30 minute doen, is om ’n paar wysies aan die pomp te kry.

“ ’n Mens kan nie sonder musiek in die bloedige Mexikaanse son werk nie. Julle moes die skare gesien het. Drywer in brandpak jack die kar op en draai iets vas terwyl Talking Heads uit die radio blêr en die medebestuurder ‘twintig minute’ skree.

“Ek het in ’n stadium lekker op my eie sit en lag terwyl ek ’n wiel teruggesit het. Neem ek rêrig met my gunstelingonderstel en -enjin aan ’n Wêreldtydren-resies deel sonder ’n tegniese span? Maak ek rêrig self die kar reg?

“Selfs al jaag ek nooit weer in ’n ren nie, dink ek ek is gelukkig. Dit was ongelooflik. Julle moes daar gewees het.”

Jaers van die topfabrikate het soms seker ook maar gewonder of hulle droom.

“Ek is flenters, maar omdat ek laaste in die parc ferme (’n veilige oornagplek vir die karre) was, was die enigste plek om te parkeer by die miljoendollar-Wêreldtydrenmotors.

“Die rammelkas gelos reg langs dié van die sewemalige Wêreldtydrenkampioen Sébastien Loeb, die Finse baastydrenjaer Mikko Hirvonnen en daai hele lot. Ek kan maar net raai wat die ander jaers gedink het toe hulle in die oggend vasgegordel het …”

Toe die stof aan die einde van die tydren gaan lê het, was Caswell se BMW derde in die klas Rally America. Hy sou 23ste uit 25 in die Wêreldtydren-item geëindig het indien hy ’n amptelike deelnemer was.

Op die Sondag ná die ren het Caswell drie uur aaneen handtekeninge uitgedeel.

“ ’n Paar honderd mense het in ’n stadium aanhou skree: ‘Caswell! Caswell!’ Hulle het gesê ek het seker Mexikaanse bloed oor die manier waarop ek my kar regmaak. Dis mos ’n kompliment, of hoe?”

Hierdie sage is ver van oor.

Aangevuur deur sy betreklik geslaagde “deelname” aan die Wêreldtydrenkampioenskap, het Caswell hom ingeskryf vir die Baja 1 000-boendoetydren wat in daardie selfde jaar in November in Mexiko gehou is.

Hy het weer vir hom ’n kar opgebou wat gebaseer is op die BMW-3-reeks, met baie van die onderdele van sy Wêreldtydren-skedonk, natuurlik.

Om sake nog meer ingewikkeld te maak, het Caswell dié “nuwe” kar, binne net vier dae van die grond af opgebou by die Miller Electric Manufacturing Company se stalletjie op die Sema-handelskou – minder as twee weke voor die begin van die Baja 1 000.

Hierdie keer verskaf ’n hele paar borge duur Bilstein-vering en ander stukke en brokke.

En daarna? “My volgende doel is die 24-uur-ren van Nürburgring,” het Caswell aan die webwerf Jalopnik.com gesê.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry se uitgawe van Januarie-Februarie 2011 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.