Rubriek: Dollie se ringetjie

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Baie jare gelede het ’n goue ring van hom ’n aap gemaak, vertel Jannie Otto. Of eerder, hy het vir ’n lang tyd soos Adoons se aanverwant gevoel.

Ons het agter die Soutpansberg geboer, maar ná ’n langdurige droogte het my pa die grond in 1965 verkoop, en ons het ’n beskeie bestaan gaan voer op Louis Trichardt. Die dorp is net sowat 80 km van die plaas af, maar ’n totaal ander wêreld.

Ons het in die onderdorp gebly. Destyds was daar baie duidelike sosiale skanse tussen die bo- en onderdorp. Omdat Louis Trichardt boonop van die vlakte af skerp oploop na die Soutpansberg, was die bo- en onderdorp selfs geografies geskei.

Maar in wese het dit maar daaroor gegaan dat die bodorp se mense ryker was as die onderdorp se siele.

Laat ons nou nie daaroor stry nie, al was daar in die bodorp ook ’n paar nederige huisies met mense wat dit nie breed gehad het nie: Die bodorp was die bodorp en die onderdorp die onderdorp.

Die feit dat die nagwa, wat snags rioolemmers kom optel het by huise wat nie spoeltoilette gehad het nie, sy roete letterlik ’n straat of twee van ons huis af begin het, het ook nie gehelp om hierdie stigma af te skud nie.

Ons het in ’n drieslaapkamerhuis met net een badkamer gebly. Die huis was met sierstene gebou volgens die styl van ’n vervloë tyd – stewig maar onooglik. En al die kamers was klein.

Wat wel groot was, was die erf. My pa het dat oom Piet “Bliksem” Terblanche, soos hy bekend was weens sy geswets, ’n boorgat kom sink.

Die hele erf is vol vrugtebome en groente geplant en ons was vanweë die vrugbare grond en hoë reënval taamlik selfversorgend.

Boonop was daar op die erf ’n hele paar ou mango- en advokadopeerbome; dis immers subtropiese wêreld. Die opbrengs van die advokadopeerbome sou later ’n groot rol in my lewe speel.

Op hoërskool, anders as op laerskool, het ek nie eintlik meisies gehad nie. Ek was te lelik. In die klein laerskool waar ek was, het die meisies nie veel van ’n keuse gehad nie.

Die laerskool se naam was Vivo, aan die voet van die Soutpansberg.

In my laerskooljare was dit ’n klein skooltjie met drie manlike onderwysers (wat die hoof ingesluit het) en een onderwyseres.

Ons was net drie seuns in st. 5: Die hoofseun. Die onderhoofseun. En ek. Die meisies moes maar vat wat hulle kry.

Die Hoërskool Louis Trichardt het egter 700 leerlinge gehad, en as jy onaansienlik is en nie ryk nie, ontwyk die meisies jou.

Maar aan die einde van st. 9 kys ek en Dorothea (Dollie) Visser. Ek was in my noppies om uiteindelik iemand te hê wat ek nou my meisie kon noem.

Daai Desembervakansie is sy huis toe, na die sendingstasie Morgenson in die ou Rhodesië waar haar ouers gewerk het.

Gedurende die vakansie koop ek – danksy die advokadopeerbome op ons werf – iets om in die nuwe skooljaar vir haar te gee.

Ná my pa se dood in 1969 het my broer in Pretoria my pa se motor, ’n wit 1965 Holden met ’n blou dak, by my ma gekoop. My ma het nooit motor bestuur nie. Dit het ons in Louis Trichardt sonder vervoer gelaat, behalwe my fiets, ’n rooi dunwiel-Raleigh met ’n carrier.

Gewoonlik was daar so twee of drie avo’s oor wat oom Alwyn van der Lith van die groentewinkel by my gekoop het teen 5c elk. Hierdie was my sakgeld, en ek het soveel as moontlik daarvan gespaar.

Ek het die advokadopere op ons erf gepluk en in ’n sak gesit wat oor my rug en skouers hang. Met my fiets het ek dan bodorp toe gery, na die Impala-groentewinkel. Daar het ek die advokado’s geruil vir Hoëveldse groente en vrugte wat ons nie op die erf gehad het nie.

Gewoonlik was daar so twee of drie avo’s oor wat oom Alwyn van der Lith van die groentewinkel by my gekoop het teen 5c elk. Hierdie was my sakgeld, en ek het soveel as moontlik daarvan gespaar.

Ewenwel, in Desember 1969 koop ek vir Dollie ’n seëlringetjie by Mansuli, wat ’n juwelierswinkel op Louis Trichardt gehad het. Ons name word daarop gegraveer: “Jannie & Dollie.”

Die ring het my R10,50 gekos – sakke en sakke vol advokadopere waarvoor ek moeisaam in hoë bome moes klim. Om die waarde van geld destyds in perspektief te plaas: ’n Fliek het 15c gekos en ’n pakkie sigarette 19c. Vir minder as R10 kon jy ’n huishouding se kruideniersware vir ’n maand koop. ’n Stewige huis het minder as R10 000 gekos.

Dus was R10,50 vir ’n arm skoolseun van daardie dae ’n klomp geld, seker die ekwivalent van ’n duisend of wat rand vandag.

Ek kon nie wag dat die skooljaar in 1970 begin sodat ek die ring kon oorhandig nie. Maar ek sou ’n paar dae moes wag totdat ons ’n Volkspele-aand gehad het, of ’n debatsaand, of die eerste fliek op ’n Saterdagmiddag.

Jy het daardie dae nie sommer ’n meisie kleinpouse stormgeloop nie. Ons is grootgemaak om skugter te wees vir meisies. ’n Man het nie vriendinne gehad nie.

Deesdae se jong mans het ware vriendinne én dan het hulle nog meisies. Dis ’n voorreg. In my jongdae was ’n meisiekind iets wat jy gevry of vermy het.

Maar nog voordat die geleentheid kon aanbreek dat ek skaamoorstelp die ring kon oorhandig, sê Dollie my af. Die bloupas, het ons dit genoem.

Sy het die vakansie haar hart op ’n ander perd anderkant die Limpopo verloor. Ek was gebroke en verlore.

En daar sit ek met die ringetjie wat ek niks mee kan doen nie, want hy het immers Dollie se naam op. En waar kry ek nou weer ’n meisie wie se naam Dollie is? Waar?

Ek was gepas verleë oor die situasie en het niemand daarvan vertel nie, veral nie my ma nie. Die ring het ek jare lank weggesteek, selfs onder my klere in my weermagtrommel.

Toe trou ek in 1975. Nadat ek vir my aanstaande ’n verloofring gekoop het met geld wat ek vakansies in die landdroskantoor op Louis Trichardt en by die munisipaliteit in Kemptonpark verdien het, was daar nie geld tussen ons oor vir meer as een trouring nie.

Toe onthou ek dat ek nog ’n trouring van my oorlede pa iewers in ’n kissie vol snuisterye het. Die juwelier sê hy sal dit vir my smelt en ’n ring daarvan maak.

Ek gaan haal my pa se ring, en op die ingewing van die oomblik besluit ek om Dollie se ringetjie ook in die transaksie in te gooi. Daar kry ek toe gratis ’n trouring en dra dit vir die 32 jaar wat ek en my oorlede vrou getroud was.

Dollie was as’t ware ná al die jare aan my linkerhand.

Ek het die ring nog gedra meer as ’n jaar nadat my eerste vrou oorlede is.

Toe ek dit afhaal en in die kluis bêre, kyk ek op my horlosie. Die datum was 13 Januarie – toevallig Dollie se verjaardag.

Toe ek en my tweede vrou die dag besluit om te trou, het ons ’n elegante dog nederige ring vir haar laat maak by ’n befaamde Switserse juwelier.

Dit was die laaste ring wat hy gemaak het voordat hy ná 50 jaar se werk in Suid-Afrika terug is Switserland toe.

Dollie was as’t ware ná al die jare aan my linkerhand.

Ek het hom gevra om my ou trouring te poleer vir die nuwe huwelik, watwou. Hy het die ring aandagtig onder ’n vergrootglas bestudeer en gevra hoekom die ring se karaat nie aangedui word nie.

Ek het gesug en hom vertel hoe dit gebeur het dat ’n hoë- en laekaraatring in dieselfde smeltpot beland en met ’n huwelik in sig een vlees geword het.

Hy was stomverbaas.

Soos ek hier sit en tik, pryk die ring van twyfelagtige karaat aan my tweede vinger van links af.

Ek en Dollie is ná meer as vier dekades nog vriende, sien mekaar van tyd tot tyd, bel mekaar gereeld, stuur oor en weer e-posse en lag op elke reünie wanneer ek op versoek van ons ou skoolmaats (of selfs al vra hulle my nie) die storie van die ringetjie weer moet afstof en opdis.

’n Ring is ’n kosbare ding. Tog al dra ’n aap ’n goue ring, hy bly maar ’n onaansienlike en komieklike ding.

Vra my.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #115 (Mei 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.