Rubriek: Ek, Koos Tickets en my rybewys

akkreditasie
Skets Fred Mouton
Skets Fred Mouton
Een van die belangrikste ritte van jou lewe is wanneer jy saam met ’n spietkop in ’n kar klim om jou rybewys te probeer kry, vertel Dana Snyman.

Nou die dag ry ek verby ’n skrootwerf en sien iets wat ek jare laas gesien het: ’n Toyopet Stoutbakkie. Stokoud en wielloos het hy daar gestaan, ’n wrak tussen wrakke.

Die Stout, ’n staatmaker in die jare sestig, was ’n voorloper van die Hilux. Die ontwerper, so het dit gelyk, is diep beïnvloed deur, wel, ’n skoendoos of baksteen, want die bakwerk was hoekig, met twee klein kopligte voor aan weerskante.

 Met so ’n ou bakkie het ek my rybewys gekry. In 1980. Ek was in matriek. 

Vir ’n seun van daardie ouderdom was ’n rybewys byna so belangrik soos ’n matrieksertifikaat. ’n Rybewys was jou paspoort tot ’n beter lewe, het jy jouself wysgemaak: Meer vryheid, meer vriende, meer meisies wat vir jou gaan val sodra jy in jou ma se Fiat 128 straat-af kan cruise, kou-kouend aan ’n Beechie terwyl Suzi Quatro se stem oor die enigste luidspreker kraak: “She’s in love with you…” 

Die dag ná my agtiende verjaardag, in Oktober, het ek vir my leerlinglisensie – my learners – gegaan, waar hulle toets of jy al die padtekens ken. Ek het toe sommer dadelik die afspraak vir my rybewys – my licence – gemaak, waar jy saam met ’n spietkop deur die dorp moes ry sodat hy kon sien of jy die druk kan hanteer. 

Van bestuurskole was daar nie sprake nie – altans, nie op ons dorp nie. My ma het my leer bestuur in haar Fiat 128. Of eintlik, my ma het my net leer wegtrek sonder dat die Fiat se enjin doodruk, want as jy dít op die platteland kon doen, was jy basies reg vir die ooppad. 

Behalwe ’n paar stoptekens was daar geen noemenswaardige verkeerstekens op ons dorp nie, behalwe die een wat gesê het: “Kuruman 110km”. Daar was nie eens wit parkeerstrepe nie, want al die strate was grondstrate. 

Daarom het ons soms oor naweke na die dorpskamp gery, waar ek ’n parkeerplek met vier klippe afgebaken en daarin probeer parkeer het, terwyl my ma langs my sit en ’n Mills & Boon-boekie lees. 

MAAR EK HET ’n probleem gehad: Ek was in ’n skoolkoshuis op ’n dorp ver van my ma se Fiat 128 af. Ek sou iewers ’n ander kar in die hande moes kry om die toets af te lê. 

Maar wie leen nou sy kar vir ’n vreemde koshuislaaitie? 

Ná baie rondvra en mooipraat het ek en Oppies Opperman, my kamermaat, die middag in ’n blou rookwolk voor die verkeersdepartement stilgehou in oom Percy Koekemoer, ons Sondagonderwyser, se gedaan duifgrys Stout-bakkie. 

Oppies, wat reeds sy rybewys gehad het, het net saamgery, want as jy ’n learners het, moet iemand met ’n rybewys saam met jou ry. 

Good luck,” het hy gesê. “Onthou jou hande.” 

“My hande?” 

“Ou Koos Tickets fail jou as hulle nie altyd in die tien-oor-tien-posisie op die stuur is nie.” 

Daar was twee toetsbeamptes op die dorp: Koos Tickets en oom Bez Bezuidenhout. Almal was oortuig Koos Tickets druip jou sommer vir niks. Vir hom was die tien-oor-tienposisie die alfa en omega van goeie bestuur, en hy het jou altyd probeer uitvang by die T-aansluiting voor Taki se kafee. 

By oom Bez het jy makliker jou rybewys gekry, veral op ’n Vrydagmiddag nadat hy middagete in die hotel oorkant die straat geëet het. 

Soms het oom Bez glo sommer op die stoep gestaan en jou net twee keer om die stadsaal laat ry. 

Asseblief net nie Koos Tickets nie,” het ek vir myself gesê terwyl ek nader stap. “Asseblief net nie…” Voor die verkeersdepartement het ’n Goggomobil geparkeer gestaan, ’n piepklein besieagtige Duitse motortjie wat aan Skimmel, ons koshuismatrone, behoort het. 

As jy met parallelle parkering gesukkel het, was Skimmel se Goggomobil die antwoord, want dit was só klein dat jy eenvoudig nie kón druip nie. Eddie Scholtz, wat ook in die koshuis was, het dit dié slag geleen. 

In die gebou was dit stil. Teen die muur het Eddie, Koos Malan en Henk Dafel gesit, effens bleek om die kiewe. Nie een van ons wou deur ou Koos Tickets getoets word nie. 

Ons het gewag. Enige oomblik sou óf oom Bez óf Koos Tickets by ’n deur uitkom met ’n clipboard in die hand. Dan sou hy iemand se naam roep. Eers sou hy jou miskien ’n paar vrae vra om te kyk of jy nog al die padtekens in die blou learners-boekie onthou en daarna sou julle deur die dorp gaan ry. 

Ek het nog skaars gesit, toe leun Eddie oor na my toe en fluister: “Is dit ’n haarnaald-boog of ’n haarnaald-bog?” Uh-uh. Ek was self nie seker nie. 

Daar was twee toetsbeamptes op die dorp: Koos Tickets en oom Bez Bezuidenhout. Almal was oortuig Koos Tickets druip jou sommer vir niks. Vir hom was die tien-oor-tienposisie die alfa en omega van goeie bestuur, en hy het jou altyd probeer uitvang by die T-aansluiting voor Taki se kafee.

In die blou boekie het “haarnaaldbog” by die teken vir die “hairpin bend” gestaan, maar iemand het gesê dis ’n drukfout; dit moet eintlik boog wees. En elke seun op die dorp het geweet oom Bez of Koos Tickets gaan jou oor die haarnaaldbog – of is dit nou -boog? – uitvra. 

Die volgende oomblik was daar voetstappe in die gang. 

“Net nie Koos Tickets nie...” 

Dit was Koos Tickets, al 5 voet 9 duim van hom, met ’n gloeiende Elcano-cigarillo tussen die vingers. 

“Scholtz. Edward!” het hy gebulder. 

“Hier, Meneer.” Ou Koos het deur die venster na die Goggomobil beduie. “Is dit jou kar daai, Scholtz?” 

“Nee, Meneer. Ek’t hom geleen.” 

“Vat hom maar terug. Ek wil sien of jy kan parkeer.” 

Hy het weer sy oë oor die clipboard laat gly. “Snyman. Daniël!” 

KOOS TICKETS SE kantoor het ’n reuk gehad wat ek vandag nog onthou – ’n mengsel van Old Spice-naskeermiddel en daardie Elcano-cigarillo’s

Ek het al die vrae reg beantwoord. Net op een plek het ek gehuiwer – toe Koos Tickets met sy pen op die padteken vir ’n hairpin bend druk. “Wat noem jy hom?” het hy gevra en aan sy Elcano geteug. 

Die soet, onheilspellende sigaargeur het die Old Spice verdring. 

Ek was gereed. “Dis die haarnaald-bhhhg,” het ek die boog – of bog – met ’n gedempte hoesie gekamoefleer. Koos Tickets het opgestaan en sy Elcano doodgedruk. 

“Oukei, kom ons gaan ry ’n entjie.” 

Buite het hy voor die Stout vasgesteek: “Waar krap jy dié ding uit? Hy’s ouer as genl. Smuts.” 

Die Stout se enjin het ’n paar keer getjoi-njoi-njoi voor dit gevat het. En daar trek ons toe in die hoofstraat af, ek met my hande in die tien-oor-tien-posisie op die stuurwiel en Koos Tickets met ’n vars Elcano. 

Ek wil nou nie spog nie, maar ek dink ek het hom nogal beïndruk met my driepuntdraai voor Avbob. 

Met my parallelle parkering het ook nie veel geskort nie, behalwe vir die Stout se modderskerm wat ontroosbaar gekraak het toe ek skerp draai en die wiel daarteen skuur. Die groot toets het nou voorgelê… Die T-aansluiting by Taki se kafee. 

“Stoot maar aan,” het ou Koos gesê. Dit was sy ou truuk. Hy het jou aangemoedig om vinniger te ry. 

Dan, as jy ’n raps vinniger as 60km/h ry, fail hy jou. 

Ek het my nie laat uitvang nie. 

Die Stout se naald het mooi tussen 50km/h en 60km/h gewieg, en toe ek verby Stavast se klerewinkel ry, het ek reeds met my voet begin voel-voel na die rempedaal. 

Met die eerste trapslag… Niks! 

Koos Tickets het niksvermoedend aan sy Elcano sit en teug. Maar ek en die Stout was besig om mekaar te vind. Ek het die rem stilletjies ’n paar keer gepomp-pomp en net mooi voor die wit lyn voor Taki se kafee tot stilstand gekom. 

“Gaan ’n bietjie vorentoe,” het Koos my uitgelok, terwyl hy die Stout se weerkaatsing in Taki se venster dophou, want dis waar hy kon sien of die wiel oor die wit streep is. Ek was kalm en het die Stout netjies agter die lyn gehou. In my kop het Suzi Quatro begin sing: “She’s in love with you.” 

Maar Koos Tickets het ’n troef gehad.“Ry vir ons stasie toe.” 

IN ONS WÊRELD was nie eintlik bulte of opdraandes nie, maar by die stasie was wel ’n steil sementoprit tot op een van die peronne, waar die boere hulle roomkanne afgelaai het. 

Halfpad teen daardie skuinste het Koos Tickets beveel: “Stop.” Toe klim hy uit en gaan staan op die perron. “’Raait, trek weg.” 

Ek onthou sweet wat teen my nek afloop en die reuk van ’n Elcano en Old Spice in die kajuit. Op ’n ander perron was ’n klomp werkers wat my laggend aanmoedig. Ek onthou die bakwerk wat sidder, die wiele wat agteruit begin loop, die clutch wat net-net vat, die vae reuk van iets wat brand… En toe hoe die wiele teen die skuinste begin uitkruip. 

KOOS TICKETS HET daai middag my lisensie vir my gegee. Toe ek daar by sy kantoor weg is, het ek nie dadelik oom Percy se Stout teruggevat nie. Ek het ’n ent uit die dorp gery, met die Vaalwater-pad. Sommer net gery. 

Want opeens was die wêreld ’n plek vol moontlikhede. Daar waar ’n pad was, daarheen kon ek nou gaan. 

Koos Tickets het vir my meer as net ’n rybewys gegee. 

Hy het my die vryheid gegee om die wye wêreld te begin ontdek. 


Hierdie rubriek het oorspronklik in Weg # 24 (November 2007) verskyn.