Om met ’n baba te reis bied talle uitdagings. ’n Verlate petrolstasie op Keetmanshoop, ’n agterstraat op Vanrhynsdorp en ’n plaaspad buite Malmesbury was maar van die ongewone plekke waar ek al geborsvoed het.
En dan is daar die ekstra pakkaas wat moet saam: Doeke, spoegdoeke, borslappe, ’n babarugsak, bottels, roompies, doepas, fopspene en moet om hemelsnaam nie vir Bersie vergeet nie!
Daar is nuwe ouers wat asosiaal raak sodra die baba opdaag en dan hoogstens net met Ouma en Oupa kuier. Aan die ander kant is daar ouers soos ek en my man, Tobie, wat dink “nee wat, ’n baba gaan nie ons lewe verander nie”. Daar is mense wat met hulle kinders reis en dit maklik laat lyk.