Dit was ’n lang en angswekkende middag toe ek in 1983 as agtjarige gewag het dat die veiligheidspolisie my moet kom arresteer.
Dit was die dag toe Zane, my ouer broer, en my neef Glynn my uitgedaag het om vir die destydse eerste minister P.W. Botha oor die foon te vloek. Hulle het een van daai inligtingsnommers gedraai wat ’n mens gebel het om te hoor hoe laat dit is.
Ek moes dan “P.W. se m***!” oor ons ou swart telefoon sê. Ek is nie seker of ek hulle wou beïndruk en of ek op agt al verstaan het apartheid is ’n euwel nie, maar ek het die minister gevloek.