Rubriek: ‘Ons mans is oorsee’

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Party vakansies word nooit uit jou geheue gewis nie. Dis gewoonlik die een waarin alles verkeerd geloop het. Nelia Richter onthou die wintervakansie in 1984 asof dit gister was.

Dit was 1984. Die tyd van Nena se “99 Red Balloons”, Lionel Richie se “Hello” en Prince se “Purple Rain”.

Een van die lede van die Standerbende, Patrick McCall, is doodgeskiet deur die polisie. Naas het geldrugby in Amerika gespeel (toe nog een van die sewe doodsondes) en die WP het voortgestoom op die kruin van sy goue wenjare.

Dit was ook die jaar toe my pa op sy eie oorsee gaan toer het en my ma besluit het as sy weens haar vliegtuigvrees nie kan saamvlieg nie, gaan sy na haar gunstelingplek op aarde: die Krugerwildtuin. In ons maroen 1975 Peugeot 504-stasiewa met ’n Jurgens Manjefiek agteraan gehaak.

My ma was egter nie dapper genoeg om die toer op haar eie saam met twee tingerige laerskoolkinders van 11 en 9 aan te pak nie. Haar twee heelwat jonger, jolige susters wat nie teruggedeins het vir pret en avontuur nie, is opgekommandeer, en op die koop toe is een van my ma se musiekleerlinge ook in die stasiewa ingeprop.

Met my pa se vertrek was alles gereed, die nege jaar oue motor gediens en die nuwe woonwa blinkgewas. Dit was net vir aanhaak, beddegoed inpak... en ry.

Met die wegtrek het die neuswiel bo gaan vassteek. My ma en haar susters kon dit glad nie losgedraai kry om te laat sak nie.

Geen probleem nie, het hulle gesê, ons ry met die woonwa aangehaak tot waar ’n klomp mans ons kan help. Die hulp het uiteindelik eers dae later in die wildtuin opgedaag in die gedaante van ’n klomp mans met klingelende glase.

Die rit tot by ons eerste beplande oornagplek, Edenburg, was sonder voorval, maar sterk skemer is nie ’n geskikte tyd om by ’n verlate woonwapark neffens ’n begraafplaas aan te kom nie. Geen lid van die oorwegend vrouekavalkade het kans gesien vir hierdie allenige nag op die vlakte nie. Skielik het die 80 km-plus tot in Bloemfontein aanloklik gelyk.

Met die wegtrek het die neuswiel bo gaan vassteek. My ma en haar susters kon dit glad nie losgedraai kry om te laat sak nie.

Asof ses mense in een voertuig vir ’n vakansie van drie weke nie ingewikkeld genoeg was nie, het daar nog ’n kollega van my ma saamgery tot in Pretoria (genadiglik in ’n ander voertuig).

Toe ons in Bloemfontein aankom, was dit al donker. Ons het nie geweet na watter woonwapark ons moet ry nie, en in die gesoek na ’n padteken en vra by vulstasies het die twee voertuie mekaar verloor.

’n Hele paar benoude minute het gevolg.

Tot vandag toe weet niemand hoe ons in die twee voertuie mekaar weer raakgery het nie – Bloemfontein was ons genadig.

Intussen het die malariamedikasie nie met my geakkordeer nie en ek het grieperig agterin die Peugeot begin hallusineer.

Ek onthou nou nog die beelde van knope wat deur die lug vlieg, en van afkophonde.

By die woonwapark het my ma besluit om hulp te kry vir haar siek kind. Met sewe asems in een woonwa, ’n steekse neuswiel en lank voor die koms van selfone, is my ma in die nanag na ’n telefoonhokkie toe. Al genade was die nooddiens by ’n hospitaal.

Ma het pleitend die situasie verduidelik en gevra of hulle nie ’n dokter of ambulans na die woonwapark wil stuur nie. Ek vermoed die storie was net te dik vir ’n daalder vir die suster en sy het beleef gesê dis onmoontlik.

Die volgende oggend is die eens vrolike toergeselskap effens gedemp daar weg met ’n siek kind en ses gesonde siele. Die konvooi van twee het tot by Viljoenskroon gevorder, toe ek met die insig van ’n 11-jarige verklaar ek is besig om dood te gaan.

Nou was dokter soek al raad.

Iewers tussen Johannesburg en Pretoria het my ma verkeerd gery en het toe kans gesien om met woonwa en al oor ’n middelmannetjie te ry.

Vrystaatse griep, verklaar die dokter, en met ’n hand vol pille en ’n inspuiting later is ons daar weg. Die volgende slaapplek was Middelburg, maar om daar te kom moes my ma eers met ’n woonwa op sleep plus nog ’n voertuig agterna deur die erg verwarrende paaie van Johannesburg en Pretoria beur.

Iewers tussen Johannesburg en Pretoria het my ma verkeerd gery en het toe kans gesien om met woonwa en al oor ’n middelmannetjie te ry.

My ma en haar susters kom uit ’n sportmal familie, en my jongste tannie het haar WP-trui ingepak om ’n punt te bewys vir die noorde. WP was immers toe die Curriebeker-kampioen en sake vir 1984 het belowend gelyk.

Of daardie oomblik – met ’n stasiewa en woonwa in die vinnige baan ná ’n liederlik onwettige U-draai – die beste tyd was om die WP-trui uit te pluk en vir die toetende Transvaalse verkeer te swaai, is vandag nog ’n gesprekspunt.

Wonder bo wonder het ons op Middelburg aangekom.

Die volgende dag het dinge effens rooskleuriger gelyk. Die wildtuin was om die draai, die inspuiting het begin werk en almal se wintersklere was al weggepak.

Al vals noot van die oggend was dat die woonwa se deurknip effens gelol het…Naby Nelspruit het ’n vragmotor met ’n klomp massiewe konkas van voor af aangery gekom. Een konka het afgewip, reg voor die Peugeot te lande gekom en toe weer gebokspring tot in die ander baan.

Om almal se senuwees te lawe wou ons tee maak, maar die knip van die woonwa wou toe glad nie oop nie. Droëbek moes ons maar aanry in die rigting van die Numbihek. Asof dit daar geplant was, ry ons in Witrivier in ’n Jurgens-werkswinkel vas, waar die probleem opgelos is.

Waarom die werkswinkel nie die neuswiel ook reggemaak het nie, weet nugter, maar in Skukuza het ’n leerskare mans glas in die hand nader gestaan.

Uitnodigings het heen en weer gevlieg, maar my ma en haar susters het ná ons eerste wildsrit die woonwa met die hand weggetrek, ’n veilige ent weg van die mans.

In die wildtuin het die Peugeot se uitlaatpyp ’n gat in gekry. Al brullende – eers sag en bedagsaam, en later ongeskik hard – is ons uiteindelik by die Phalaborwahek uit, haastig om by die huis te kom.

Asof dit nie genoeg was nie, het die timing van die stasiewa uit geraak, glo weens die hoogte bo seespieël. Die Peugeot het hom nie laat afskakel nie; jy moes hom doodruk.

Op pad terug het die alternator net voor Kroonstad uitgebrand. Dit was al laatnag, en ’n hele ent voor die Vrystaatse dorp het ons onwetend sonder ligte gery. Die flikkerligte wat nie wou werk nie, was die eerste teken dat daar fout moet wees. Petroljoggies by die garage het ’n werktuigkundige gebel, en ons het agter die mechanic aangery tot by sy werkswinkel.

Ná wat soos ure en naby vriespunt gevoel het, is ons eers die nag naby elfuur bibberend daar weg na ’n woonwapark op die dorp.

Die volgende dag was daar net een plek waar ons nog wou slaap: in ons eie huis op Ceres. Op Colesberg het ons padkos gekoop.

Die Peugeot het soos ’n vis-en-tjipswinkel geruik toe ons die lang afdraande ’n ent buite die dorp aanpak.

Die man in sy noupassende verkeersuniform kon ons seker al kilometers ver raaksien. En hoor. En dalk ook ruik. Hy het in die pad gaan staan met sy hand omhoog.

My ma en haar susters het begin planne beraam oor hoe en wat alles verduidelik gaan word. Die brullende, rukkerige Peugeot was nou nie eintlik ’n toonbeeld van padwaardigheid nie.

Die motor ruk langs die spietkop tot stilstand. “Kan ons vir jou ’n tjippie aanbied?” vra my ma. Die man wys dit beleef van die hand en vra uit oor die raserige motor. “Ons man is oorsee,” verduidelik die middelste suster onbeholpe en die spietkop begin dik van die lag om die Peugeot en woonwa stap.

Nadat al die partye se giggels bedaar het, het die spietkop by my ma se venster kom praat: “Maak asseblief dat julle by die huis kom en vra julle man om beter na sy motor te kyk.”

Ons het die pad huis toe aangepak. Sonder ’n boete. By die huis het die familie wat vir die vakansie in ons huis gebly het, die voordeurslot op só ’n manier gesluit dat ons nie by die huis kon inkom nie. Die polisie moes kom help.

In 1991 is my pa weer oorsee. Ons is weer Kruger toe – maar toe sónder ’n woonwa.

Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep (November 2012) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.