Rubriek: Op soek na troos op die langpad

akkreditasie
Mans reageer nogal vreemd op ’n mislukte verhouding. Hulle spring in hul motor, ry doelloos rond en bejammer hulself. Dana Snyman het al ’n hele paar sulke ritte agter die blad.

Jy glo dis ware liefde. Jy dink selfs julle kan dalk miskien moontlik nog eendag trou.

Maar dan raak dinge ingewikkeld tussen julle. En dan, op ’n dag, sê sy julle paadjies moet eerder skei.

Julle is nie regtig vir mekaar bedoel nie. Jammer.

Dan is jou hart gebreek. Reg? Wat doen jy dán?

Jy spring in jou seegroen Austin Apache en jaag met die Bronkhorstspruit-pad uit die stad, hou stil, klim uit en skreeu op jou hardste die donker in, tot jy hees is.

Dis wat jy dan doen.

Of, wel, dis wat ek gedoen het net nadat Marie Eksteen my een middag in Billy’s Bake Patato, ’n restaurant in Pretoria, afgesê het.

Dit was in 1993 en dit was nie die eerste of die laaste keer wat ek die pyn van ’n mislukte verhouding probeer besweer het deur iewers heen te ry nie.

Selfone maak liefdesteleurstellings aansienlik makliker – veral as jy treurend op die langpad is. Met jou selfoon kan jy haar deesdae enige tyd op haar selfoon bel – en jy is seker dis sy wat sal antwoord.

Mans, wil dit al vir my lyk, reageer dikwels só op ’n mislukte verhouding: Hulle ry iewers heen; soms alleen, soms saam met ’n goeie vriend.

Toe Marie Eksteen my afgesê het, het ek Bronkhorstspruit toe gery. Toe Leanne Basson my afgesê het, het ek vir drie dae Krugerwildtuin toe gegaan.

En heeltyd in ’n rondawel in die Onder-Sabie-kamp gelê en na die dak gestaar.

Toe Ronél Smit my afgesê het… Of, wel, Ronél het my nie self afgesê nie: Sy het haar vriendin Esmarie Serfontein een langpouse gestuur om vir my te sê die kys is uit, sy wil “liewer net vriende” met my wees.

Ek was toe in standerd 9 – en gebroke. Daardie middag ná skool het ek opmy fiets geklim en die 27  km van Nylstroom tot op Warmbad getrap, sommer net dekselswil gery.

Op Warmbad het ek ’n liter Pepadilla-koeldrank by die Golden Egg gekoop, dit gedrink en, wel, toe het ek maar weer met ’n vol blaas teruggetrap Nylstroom toe en maar weer verder daar verstote gaan voel.

Dit is die belangrikste kenmerk van sulke togte ná ’n liefdesteleurstelling: Dit is op die oog af doelloos.

Jy ry Warmbad toe en gaan drink ’n koeldrank. Jy ry Vaaldam toe en gooi ’n paar klippe in die water. Jy gaan drentel doelloos deur die dieretuin in Pretoria.

Hoe kies jy dié plekke? Ek weet nie.

Hoewel, jy kan ook seker nou nie juis vir ’n besoek aan die Kasteel in Kaapstad, of vir ’n begeleide toer deur die Western Deep Levels-goudmyn gaan, pas nadat jy gehoor het jou verlowing van die laaste 23 maande is verby nie.

My eerste liefdesteleurstelling was nie my eie een nie. Dit was Fanie du Toit s’n. Maar ek het dit so intens saam met hom beleef, dit kon net sowel my eie gewees het.

Ons het op Naboomspruit gewoon. Fanie het by Venter-sleepwaens gewerk en in die kamer agterin ons jaart geloseer.

Ek was op laerskool en het altyd by hom rondgehang. Soms het ons laataand slaptjips by Springbok-kafee gaan koop en dit vir sy meisie, Sylvi, deur haar kamervenster gaan gee.

Sylvi was in matriek en hulle het in 8ste Straat gewoon. Maar haar ouers wou nie hê sy moes uitgaan met ’n ou wat al werk nie, daarom het hulle haar gedwing om die verhouding te beëindig.

Fanie het die verlies probeer verwerk deur met sy Datsun Pulsar rond te ry.

Dikwels is ek saam. Ons het sommer deur die dorp gery, of uit op die Crecypad, oor die Springbokvlakte, met Gene Rockwell se liedjie “Heart” wat uit ’n luidsprekertjie by ons voete kraak: “Yes, I’m telling you HEART! You beter believe me...”

Dit terwyl Fanie kort-kort met albei hande op die stuurwiel slaan en sê: “Blerrie vroumens”.

Soms het ons ook gesoek na ’n tiekieboks wat werk, sodat Fanie vir Sylvi kon probeer bel. Dit was moeilik, want die tiekiebokse op Naboomspruit, nes in die res van die land, was meestal buite werking.

Dit voel so lank gelede.

Ons het toe nog nie eens die koms van selfone vermoed nie. Selfone maak liefdesteleurstellings aansienlik makliker – veral as jy treurend op die langpad is.

Met jou selfoon kan jy haar deesdae enige tyd op haar selfoon bel – en jy is seker dis sy wat sal antwoord.

Jy kan minstens kontak maak, al is dit net om teen 3.24 vm. op ’n Saterdag ’n onsamehangende boodskap te los, of ’n SMS uit die Koster Hotel se dameskroeg te stuur, waarin jy haar bedank omdat sy jou flippen lewe verwoes het.

Maar as ’n tiekieboks gekrok was, was hy gekrok.

Daardie ou tiekiebokse het nie eens ’n effense afskorting rondom hulle gehad nie. Hulle het daar teen die poskantoor, kafee, of kroeg se muur gehang en daar  moes jy staan en praat, sonder enige privaatheid.

Partykeer het die tiekieboks jou geld gesluk; ander kere het hy slegs 10c-stukke aanvaar, terwyl jy net 20c-stukke by jou gehad het.

En as jy hom hard genoeg met die vuis bygedam het, het hy dalk geld uitgespoeg.

Maar meestal het hy net so ’n troostelose pooooop-klank gemaak wanneer jy die gehoorbuis van die mikkie lig.

Natuurlik het ek ook my eie tiekieboksstorie.

Haar naam was Lienkie en sy het bietjie soos Jacklyn Smith, een van die oorspronklike Charlie’s Angels, gelyk.

Ons was toe so 20 of 21 jaar oud en sy het my een middag op die stoep van agter die traliehek van hul huis op Villieria afgesê.

Die volgende dag het ek in my seegroen Austin Apache geklim (daardie ou Apache het my deur verskeie liefdesteleurstellings gedra) en in die algemene rigting van die Laeveld gery, innig jammer vir myself.

Lienkie, wat toe op Tukkies geswot het, het by haar ouers gewoon. Op Witbank het ek haar die eerste keer probeer bel van ’n tiekieboks by ’n kafee af, nadat ek en die Griekse kafee-eienaar eers ’n woordewisseling gehad het, omdat hy my nie kleingeld wou gee nie.

No, no! First you buy something, then I give you change,” was sy houding.

Toe koop ek maar ’n Chappie.

Ek wou net ’n slag weer Lienkie se stem hoor. Maar haar ma het geantwoord en gesê sy is nie daar nie.

Dit is ironies: Jou meisie sê jou af, dan ry jy al verder van haar weg, terwyl  jy eintlik by haar wil wees.

Dit is die belangrikste kenmerk van sulke togte ná ’n liefdesteleurstelling: Dit is op die oog af doelloos. Jy ry Warmbad toe en gaan drink ’n koeldrank. Jy ry Vaaldam toe en gooi ’n paar klippe in die water. Jy gaan drentel doelloos deur die dieretuin in Pretoria.

Op Middelburg (Transvaal) het ek weer vir Lienkie gebel. Dié keer het haar pa geantwoord. Lienkie is nie daar nie, het hy nors gesê.

Dit terwyl ek oortuig was sy is daar.

Dit was die ander probleem in die tyd voor selfone: Iemand anders kon die telefoon in jou Charlie’s Angel se huis antwoord en sê sy is nie daar nie.

Op Belfast het ek by die hotel stilgehou en ’n Coco Rico en Coke bestel. In die kroeg was slegs een ander ou.

Toe maak ek ’n plan: Ek sou Lienkie van die tiekieboks af bel en as haar pa of ma antwoord, sal ek maak of ek Pieter-Hendrik du Toit, ’n ou skoolvriend van haar is en vra of ek met haar kan praat.

Ek móés met Lienkie praat. Ek moes net. Ek moes. Nie dat ek geweet het wat ek wou sê nie.

Terwyl ek die Coco Rico gedrink het, het ek ’n nog beter plan bedink: Ek sou die ander ou in die kroeg vra om Lienkie-hulle se nommer te bel, want haar pa of ma sou dalk my stem herken.

Die ander ou moes dan sê hy is Pieter-Hendrik du Toit en vra om met haar te praat en dan sou ek die foon by hom oorneem.

Onfeilbaar.

Snoffels – Snoffels Beukes, was die ander ou in die kroeg se naam – het ingestem. Ek het hom eers laat oefen om soos die regte Pieter-Hendrik du Toit te klink.

“Hallo, Oom. Dis Pieter-Hendrik hier. Kan’k ’seblief met Lienkie praat,” het hy ’n paar keer geoefen. “Hallo, Oom. Dis…”

“Jou stem is te grof,” het ek hom reggehelp. “Praat fyner. Fyner.”

Op die ou end het ons by die tiekieboks, naby die pyltjiebord gaan staan, ’n muntstuk by die gleuf ingeglip en die nommer gelui...

Helaas, Snoffels was nie ’n baie oortuigende Pieter-Hendrik du Toit nie.

Miskien het dit iets te doen gehad met die feit dat hy iets in die veertig was en al ’n hele paar brandewyne sterk was.

Lienkie se pa het lont geruik en die telefoon neergesit. Daarna was sy vir my meer as ooit verlore.

Ek het nou die dag weer gekyk na ’n DVD van Gone with the Wind, seker een van die bekendste liefdesverhale wat ooit verfilm is.

Clark Gable speel die held, Rhett Butler. Vivien Leigh is die heldin, Scarlett O’Hara en hul droewige storie speel af teen die agtergrond van die Amerikaanse burgeroorlog in die 1800’s.

Rhett en Scarlett kom nie by mekaar uit nie. Scarlett het hom te veel seergemaak. Heel aan die einde sê hy vir haar: “Frankly, my dear, I don’t give a damn.” Dan trek hy die deur toe en loop.

En dan eindig die fliek.

Maar ons wat al deur mislukte liefdesverhoudings is, weet die fliek eindig nie daar nie. Ons weet  daarna klim ou Rhett in ’n groen Austin Apache en ry hy die ooptes in.

En op die eerste dorp begin hy uitkyk vir ’n tiekieboks.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #23 (Augustus 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.