Rubriek: Pasteitjietyd

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Vleispasteitjies word nie in hierdie wêreld met die nodige eerbied en respek bejeën nie. Daarom neem hulle wraak, sê Zigi Ekron.

Die volgende keer wanneer jy die langpad met jou wa vat vir ’n vakansie by die see, in die binneland of oorgrens, en dan hier rondom middagetetyd haastig die Fortuner se neus by ’n vulstasie inswaai, dink mooi.

Die kanse is baie goed jy’t later by die huis weggekom as wat jy beplan het, of jy moes terugdraai omdat klein Faantjie sy selfoonlaaier vergeet het – óf albei.

Nou’s jy agter skedule, jou kanse om voor donker by die kampplek aan te kom lyk al hoe skraler, en jou hart stry met jou brein, wat vir jou sê jy moet vir life neem daarmee dat jy níe vanaand gaan braai nie. Haal diep asem en dink mooi oor jou volgende besluit, want dit gaan een wees wat jou nog lank gaan bybly – so in jou binneste.

Terwyl jy gou-gou brandstof ingooi, bande nagaan en vinnig bene rek, gaan die res van jou gesin doodluiters op ’n streep by die naaste kitskosplek of kafee inslenter om gou te piepie en dan iets te ete te kry. Oor ’n Desembervakansie kan jy maar seker wees die ry by die badkamer en die kostoonbank gaan albei lyk soos die massas by die eerste uitdunrondes van die volgende Idols-kompetisie.

Ons vertrou dis blote toeval dat die ry by albei ewe lank is. Wat die rede ook mag wees, dis hier waar dinge begin verkeerd loop en jy die eerste van ’n reeks verreikende foute maak.

Jy besluit eerstens om vir die volgende 300 km of so maar te knyp, want vir daai badkamertou sien jy nie kans nie. Jy gaan ook nie so lank wag vir ’n hamburger met ’n paar verlepte slaaiblare en ’n pattie wat soos karton smaak nie.

Nee, jy’s slim, jy gaan sommer gou ’n Iron Brew en ’n vleispasteitjie koop by die take-away-winkeltjie langsaan, want as jy nie tyd mors met kos nie, nog kan knyp en effens voet in die hoek sit, is daar dalk tog ’n kans dat jy vanaand kan braai.

Terloops, “takeaway” verwys na wat hulle met jou geld gaan doen, en nie na wat enige regdenkende mens noodwendig met die plek se kos wil doen nie. Die oomblik wanneer jy voor daardie louwarm glaskas gaan staan waar die pasteitjies al sedert die groot depressive onder ’n gloeilamp gedy, begin dinge egter so half op hulle eie gebeur.

Nou kyk, om ’n vleispasteitjie te maak is ’n kuns. ek praat nie nou van die pryswennerpeperhoenderpasteitjies van tannie Poppie by die Pienk Paddastoelpadstal anderkant Poggenpoelsfontein nie. Ek bedoel daai wat geen definieerbare vorm óf herkoms het nie. Net ’n ware kunstenaar kan so ’n vormlose hopie gestopte deeg aptytwekkend laat lyk. Tog lyk daai hopies nou vir jou asof jou hele dag beter sal wees as jy net eers jou tande daarin kan slaan.

Agter die glaskas beduie ’n vrou in ’n plastiekweggooivoorskoot wat nooit weggegooi word nie, na die onderskeie pasteie. Sy verduidelik daar is nie vandag gewone “Steak” nie en ook nie “Chicken ’n Mushroom” nie.

Op die afgeskeurde agterkant van ’n carton Benson & Hedges infinite lights is die lys van vulsels met ’n vet swart viltpen neergeskryf: “Steak”, “Pepper Steak”, “Steak ’n Kidney”, “Chicken”, “Chicken ’n Mushroom” en “Mutton Curry”. Onderaan het iemand met ’n blou bolpuntpen “Spinach ’n Feta” bygelas, as ’n nagedagte aan die vegetariërs, maar iemand met ’n vet swart viltpen het dit later weer doodgetrek.

Agter die glaskas beduie ’n vrou in ’n plastiekweggooivoorskoot wat nooit weggegooi word nie, na die onderskeie pasteie. Sy verduidelik daar is nie vandag gewone “Steak” nie en ook nie “Chicken ’n Mushroom” nie. Net sy kan die pasteie eien, en sodra jy vra vir ’n “Mutton Curry,” tel sy een op wat jy kon sweer sy nou net gesê het is “Steak ’n Kidney.”

Watter een van die twee dit ook al mag wees, jy kan seker wees daar is ’n geheime bestanddeel wat maak dat jy glad nie die verloop van gebeure sal onthou wanneer jy weer eendag voor so ’n glaskas staan nie. Elke pastei het dit, want anders sou jy immers onthou wat laaskeer gebeur het toe jy ’n pasteitjie gekoop het. Maar nou dop jy ’n tweede toets.

Die vrou in die voorskoot vra of sy dit moet warm maak... en jy sê ja. Sy stop dit in die mikrogolfoond agter die toonbank en gee die knop so ’n halwe draai.

Dit maak nie werklik saak hoe ver sy die knop draai nie, want al die mikrogolwe in alle kafees het net een verstelling, naamlik “verskroei alles”. Wanneer jy hoor die mikrogolf maak so “pieng”, is daai pasteitjie al verhit verby die punt waar tungsten sou smelt. Sy sit dit vir jou in ’n waspapiersakkie wat alles waaraan dit raak, vetterig en vol oliekolle los, al is daar nie olie in sig nie, en jy stap domtevrede terug kar toe.

Tot jou groot verbasing wag die res van die gesin ongeduldig op jou en is Faantjie al halfpad deur sy eerste “King size” slaptjips.

Jy klim in terwyl jy wonder hoe hulle so gou geholpe geraak het, en trek weg. Stilweg troos jy jou dat jy tyd gespaar het, want ’n pasteitjie kan jy met een hand eet, so in die ry. Vir ’n burger sou jy waardevolle tyd verloor het omdat jy sou moes aftrek om al jou aandag daarby te bepaal.

Ten spyte daarvan dat jy skaars die pasteitjie kan vashou sonder om blase op jou vingers te brand skuif jy dit nou halfpad uit die sakkie en neem ’n lekker groot hap. Die onmiddellike effek is dat dit voel soos ’n besoek aan die tandarts.

Jy wil hulle iets toesnou wat beslis huismoles sou veroorsaak, maar gelukkig is jy die gebruik van jou tong heeltemal kwyt.

Jy weet daar is iewers ’n tong in jou mond, maar jy is nie seker waar nie. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde is daar ’n vlietende en vaag herkenbare terugflits na ’n vorige insident met ’n vleispasteitjie.

Jou oë traan, jou wange bol en jy’s te bang om te sluk, want jy vermoed jy gaan dalk in die toekoms weer jou slukderm nodig kry. Jy wil eerder alles uitspoeg en jou kop by die venster uitdruk en soos ’n hond oopmond verder ry sodat jou tong kan afkoel, maar dan vra iemand: “is dit warm?” Jy wil hulle iets toesnou wat beslis huismoles sou veroorsaak, maar gelukkig is jy die gebruik van jou tong heeltemal kwyt.

Daarmee saam is enige smaaksintuig wat jou sou kon inlig dat dit inderdaad die “Steak & Kidney”pasteitjie is, ook daarmee heen.

Jy sluk jou Iron Brew feitlik met een teug weg en kou maar gedwee verder, want dis al kos wat jy gaan kry tot jy vanaand die wa staangemaak het. Ná ’n halfuur begin die gevoel terugkeer na jou mond toe, maar ook net op die ses plekke waar jy jouself raakgebyt het toe jy niks kon voel nie. Die sooibrand meld ook aan, en jou smaakkliere sal seker oor ’n week of so weer regkom. Hopelik sal ’n goeie oorneusenkeelspesialis die skade aan jou keel kan herstel.

Maar dan, dan sit jy met genoegdoening terug in jou sitplek en draai die radio se volume nog so ’n rapsie op. Jy weet jy hoef daai Iron Brew nog net 319 km binne te hou; jy weet daar’s rennies iewers tussen die bagasie; en as dinge verder sonder voorval verloop, braai jy dalk tóg vanaand steak.

Dis net jammer jy gaan dit nie kan proe nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegSleep Julie 2013 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.