Toe & Nou: Cradock, meer as 140 jaar later

akkreditasie
Net soos die Elandsberg in die agtergrond, het Cradock in meer as ’n eeu nie veel verander nie, en die indrukwekkende NG kerkgebou is steeds die middelpunt van die dorp.  Foto: Toast Coetzer
Net soos die Elandsberg in die agtergrond, het Cradock in meer as ’n eeu nie veel verander nie, en die indrukwekkende NG kerkgebou is steeds die middelpunt van die dorp. Foto: Toast Coetzer
Cradock in die Groot-Visriviervallei het soos menige ander dorp in die Oos-Kaap sy ontstaan te danke aan die Grensoorloë tussen die Boere en die Xhosas.

Ná die Vierde Grensoorlog (1811-1812) is ’n sub-drosdy van Graaff-Reinet tussen die Groot-Visrivier en Elandsberg gevestig in ’n poging om nuutbekomde grond teen die Xhosas te beskerm.

Die dorpie is genoem na sir John Cradock, die derde Britse goewerneur aan die Kaap, en het stadig gegroei: Die eerste erwe is eers in 1818 toegeken, en teen 1825 was hier sowat 30 huise.

Die NG kerk is in 1824 gebou, en hoewel dit ’n mooi grasdak gehad het, het dit visueel nie tussen die ander geboue uitgestaan nie.

In 1864 is ’n meer imposante kerk in sy plek opgerig. Dié kerk met sy pilare aan die voorkant en hoë kloktoring is ’n replika van St Martin-in-the-Fields, ’n Anglikaanse kerk op Trafalgarplein in Londen.

Plaaslike sandsteen is gebruik en die gemeente se boere het beurte gemaak om die bouwerk in skofte te behartig.

Om die kerk nóg meer te laat uitstaan, is ’n breë pad van die gebou tot by die Gilfillanbrug oor die Groot-Visrivier gemaak: Kerkstraat, wat vandag nog gebruik word.

Dié brug is genoem na William Gilfillan, ’n Britse Setlaar wat in 1837 as inwonende magistraat en siviele kommissaris van Cradock aangestel is.

Foto: Nasionale Argief

Die brug op die Toe-foto is in 1913 oorgebou, en deesdae is daar nóg ’n brug ’n entjie stroomop waar die N10 oor die Groot-Visrivier loop.

’n Opbloei in die wolbedryf teen die middel van die 19de eeu het die dorp ’n stewige hupstoot gegee. Teen 1842 het die getal huise tot 80 gegroei.

Olive Schreiner, skrywer van The Story of an African Farm, het as tiener by haar broer, Theo, in dié nuwe deel van die dorp in Kruisstraat 9 gewoon.

Die huis is van Maandae tot Vrydae oop.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #105 (Julie 2013) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.