Deel

Kangogrotte, amper 100 jaar gelede

akkreditasie
Foto met die vergunning van die Kangogrotte-bestuur.
Foto met die vergunning van die Kangogrotte-bestuur.
Uit die argief: Die oudste foto’s van die Kangogrotte wys besoekers wat in formele drag (dasse en hoepelrokke, hoor!) voor die ingang poseer – voordat hulle die modderige grotte binnegaan en vuil aan die ander kant uitkom.
Foto's met die vergunning van die Kangogrotte-bestuur. 

En die ingang van een van Suid-Afrika se oudste toeris-trekpleisters het heelwat verander sedert dit in die laat agtiende eeu “ontdek” is. 

Die swart-wit foto is omstreeks 1926 geneem en wys ’n teekamer, asook ’n kragkamer waar elektrisiteit vir die grotte opgewek is. Die bus op die voorgrond is ’n “chatterbang” genoem en het die eerste toergroepe na die grotte gebring.

Mense wat die grotte wou besoek, moes ’n plaaslike veldkornet laat weet. Die veldkornet het dan die grotte vir hulle oopgesluit. Die toegangsgeld was 5 riksdaalders. Vandag betaal besoekers R170 vir die erfenistoer deur die grotte en R240 vir die avontuur-opsie kies (meer inligting onder-aan die artikel).

Van die mans was gewapen met voorlaaiers – eerstens omdat daar wilde diere was, maar ook omdat hulle die eeu oue stalagtiete vir vermaak afgeskiet het.

Ondanks regulasies wat in 1860 ingestel is om die grotte te beskerm – dit was Suid-Afrika se eerste bewaringswette – het menige besoeker stukke van die stalagtiete afgebreek en as aandenking geneem.

In die jare sestig is hier plek gemaak vir ’n kompleks wat onder meer ’n restaurant en, kuriowinkel insluit.

Vandag is Afrika se grootste skougrotstelsel een van die Suid-Kaap se gewildste toeriste-attraksies en moet vandale maar in hulle spoor trap: Die beskermingsregulasies word deesdae baie streng toegepas.

Besoek die Kango-grotte
  • Die erfenistoer (R170 p.p.) duur ’n uur, word as ‘gemaklik’ beskryf en neem besoekers na grotkamers met name soos Reënboog, Feetjieland en die Troonkamer.
  • Die avontuurtoer (R240 p.p.) volg aanvanklik dieselfde roete as die erfenistoer, maar is ’n halfuur langer. Die laaste halfuur bestaan uit ’n meer uitdagende roete, dieper die grotte in. Dis nie geskik vir kinders jonger as 6, swanger vroue of mense wat ly aan engtevrees, hoë bloeddruk, asma of enige spierkwale nie. 

Kontak cango-caves.co.za, reservations@cangocaves.co.za

* Inligting verskaf deur die bestuur van die Kangogrotte.



ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na kyra.tarr@media24.co.za, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.


Hierdie artikel het oorspronklik in Julie 2018 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.