
Sy vertel: My oupa, Johan (Johnny) Zanoli, het as kind van Nederland na Suid-Afrika verhuis.
Hy het my ouma, Dinie Coleman, ontmoet by Hartbeespoortdam, waar Oupa-hulle ’n naweekhuis gehad het. Dié twee is in 1944 getroud en my oupa het so gou hy kon, ’n woonwa in die hande gekry en met ’n Ford Roadster die land vol getoer.
My pa, Frits Zanoli, is in 1945 gebore. Kinders het geensins my oupa-hulle se reislus geblus nie.
Hulle het onder meer ’n vakansie in die Suid-Kaap gereël na die plekke waar my ouma se mense vandaan kom: Calitzdorp, Oudtshoorn en Willowmore... en het ook by Hartenbos gekamp.
Namate die gesin gegroei het, het my oupa ’n groter woonwa gebou uit staal en aluminium, met binne die mooiste hout.
Ons het later (toe ek al verstand gehad het) opgegradeer na ’n Jurgens-woonwa en die oue (intussen room en groen geverf) het ’n ereplek op hulle erf in Alberton gekry.
Ons gesin het ook so kamp-kamp grootgeword. My pa en ma, Annatjie Zanoli, is in 1968 getroud en het by die Hartbeespoortdam wittebrood gehou in my oupa-hulle se woonwa.
My ouers het my kort ná my geboorte in 1970 op vakansie in die wildtuin saamgevat.
In Julie 2014 kamp ons weer in Swadini saam met my ouers. Terwyl ons daar is, kry my ma ’n beroerte en ’n maand later sterf sy.
Sy het haar huwelik in ’n woonwa begin en haar huwelik het basies ook in ’n woonwa geëindig.
As kind het ek soms gedink my ouers is laf om die hele tyd te wil kamp.
Maar toe ek onlangs na my ouma en oupa se foto’s kyk, besef ek: Dit kon nie anders wees nie; dis dan hoe my pa al van kleins af die ding gedoen het!
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #139 (Mei 2016) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.