
“Dit verwesenlik ’n droom van so lank gelede as 1899,” het die destydse administrateur van Kaapland, P.J. Olivier, by die openingseremonie op 26 Augustus 1955 gesê. Stilbaai se brug het £60 000 gekos (met vandag se wilssekoers sou dit oor ’n miljoen rand gekos het) en 17 maande geneem om te voltooi.
Voor die brug gebou is, moes vakansiegangers hul goed op ’n platboomskuit aflaai en dit oor die rivier roei na Stilbaai-Wes. Die osse het dan met die wa deurgeswem.
Later is ’n “tiekieboot” in diens gestel (’n mens moes ’n tiekie, sowat 2½ sent, betaal om oor te vaar) en in die vroeë 1930’s het Stilbaai ’n pont gekry.
In sy toespraak het Olivier ook gesê hy hoop die dubbelbaanbrug sal “diensbaar wees aan alle toekomstige vereistes,” maar deesdae moet die Hessequa-munisipaliteit in die Desember-vakansie vrywilligers aanstel om Stilbaai se druk verkeer te reguleer.
’n Mens wonder wat iemand soos die rubriekskrywer Herman Steytler hiervan sou sê. “Die moderniteit het ook hierdie laaste vryplaas van die egte, gesoute strandganger aangetas; vir Stilbaai siek gemaak. Die siekte is ontwikkeling,” het hy in Die Huisgenoot geskryf nadat Stilbaai in 1966 sy eerste stopstraat gekry het.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #21 (Julie 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.