Verskeie geakkrediteerde bronne beweer dat voertuie se uitlaatgasse elke jaar vir meer sterftes verantwoordelik is as motorongelukke. Dit is moeilik om vas te stel of dit inderdaad die geval is – op geen doodsertifikaat sal jy immers sien die oorsaak van dood is “lugbesoedeling deur voertuiguitlaatgasse” nie.
Wat wel duidelik is, is dat voertuiguitlaatgasse ’n tasbare probleem is met verreikende gevolge vir die omgewing en ons gesondheid. In die meeste lande vereis wetgewing dat motorvervaardigers skadelike uitlaatgasse op ’n deurlopende grondslag verminder.
Slim ingenieurs in wit jasse en dikraambrille het die laaste klompie jare met vindingryke planne vorendag gekom om moderne voertuie omgewingsvriendeliker as ooit tevore te maak. Dit sluit dinge in soos positiewe krukkasventilering (PCV), direkte inspuiting, uitlaatgashersirkulasie (EGR), dieselpartikelfilters (DPF) en katalisators (CAT), om maar enkeles te noem.