Deel

Rubriek: Waar ek gaan, gaan Whatsapp

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
’n Mens hoef nie altyd alles van almal te weet nie, of wil jy dalk? Daar loop nie verniet ’n onsigbare lyn tussen jou selfoon en jou medemens se doen en late nie – ’n mens noem dit die WhatsApp-lyn en dít het die vermoë om selfs ’n kamp se vrede te steel.

Harry Bosman se slimfoon biep sekondes nadat ons die kampstoele staangemaak en die vuur aan die gang gekry het. Dis ’n boodskap van sy broer op die familie se Whatsapp-groep, vertel Harry.

Dié se oudste het tweede gekom in die spiesgooi by die provinsiale atletiekbyeenkoms vir laerskole. Dit is ’n saak van geweldige trots, want Harry se broer hou tot vandag toe nog die Hoërskool Goudrif se spiesgooirekord.

Dis lekker om te sien die appeltjie val nie te ver van die boom af nie.

Harry sê dít beteken daar is naas eet nou ’n tweede gedeelde belangstelling tussen pa en seun: Smiddae plak Janneman hom nie meer net voor die Xbox neer nie; nee, hy en Pa gaan skaaf nou aan sy krag, tegniek en spoed op die laerskool se rugbyveld.

Harry sê hy is bly vir sy broer en die mannetjie, maar die goeie spiesgooinuus word effe oorskadu deur Marie-Louise wat ’n bietjie sukkel met ’n omgekrapte maag.

Marie-Louise is Janneman se sussie en haar ouers het haar vandag ongevalle toe gevat omdat haar magie groen is. Nou kan Janneman nie vandag gaan spiesgooi oefen nie.

Harry sit die foon op die opslaanskinkbord langs hom neer en kry sy glas in die hand.

 Ek begin om vir Harry te vertel van my vrou se neef wat nou ’n vennoot by sy maatskappy geword het, maar die foon biep weer hier langs hom en hy hou sy linkerhand op om my stil te maak terwyl hy die boodskap lees.

“My sussie,” sê Harry terwyl hy op die skerm kyk. “Sy is mos ’n haarkapper in Johannesburg. ’n Vriendin van haar werk as ’n grimeerkunstenaar vir een van daardie gewilde sepies – IsiGoli of eDingo of so iets.

Dié vriendin het ’n paar toutjies getrek en nou gaan my sussie die sepiesterre se hare doen. Dit is ’n wonderlike geleentheid vir haar, maar my ma is nou bekommerd oor hoe ver en gevaarlik dit is om elke dag heen en weer ateljee toe te ry.

“My ma vra ook of my sussie gekyk het of die brandstof en slytasie aan haar kar die paar ekstra randjies die moeite werd gaan maak. My sussie sê sy sal nog ’n bietjie daaroor dink.

“My ma vra ook sommer of die dokter al iets oor Marie-Louise se magie gesê het.”

Ek probeer weer met die storie oor my vrou se neef, maar Harry se foon onderbreek my wéér.

“Ek sien nou hier op Facebook my broer se eksvrou se boyfriend het nou by haar en die kinders ingetrek. Wat beteken #nuweliefde?”

Ek besef die bevordering van my vrou se neef is dalk nie vir Harry so interessant nie en wend my tot die Springbokke se gepoer-poer. Vóór ek egter behoorlik oor spankeuses kan begin gesels, het Harry wéér die foon in die hand.

“Die ou wat drie kamers verder in my koshuisgang gebly het, het vir hom ’n nuwe Ford Ranger gekoop. ‘Aan Willie. Van Willie,’ sê die foto se onderskrif.

Ek begin om vir Harry te vertel van my vrou se neef wat nou ’n vennoot by sy maatskappy geword het, maar die foon biep weer hier langs hom en hy hou sy linkerhand op om my stil te maak terwyl hy die boodskap lees.

“Ek sien ook die jack russell van ons onderhoofseun op laerskool het die tydelike met die ewige verwissel, en om sy gesin te troos het hulle roomys en wafels in die Kolonnade gaan eet. Hulle lyk baie hartseer en sê dit was die beste hond ooit.”

Harry streel die foon se skerm van onder af boontoe met sy vinger en stop elke dan en wan om vir my ’n foto of iets te wys. 

“Kyk hier. Onthou jy my niggie van Potchefstroom? Hulle was laas naweek by die rugbywedstryd tussen die Cheetahs en die Luiperds. Hier is daardie hutsmerk weer. Wat beteken #katgeveg?”

Ek probeer verduidelik dit is hoe jy ’n ding op sosiale media bemark, maar Harry verstaan nie. “Ek sien Lappies se tweeling het vir hom op Vadersdag brekfis in die bed gebring en sy vrou sê hy is die beste pa in die wêreld.”

Hy sit die foon neer en staar vir ’n rukkie in stilte na die vuur. “Dis lekker stil hier,” sê hy uiteindelik.

Maar dan biep die foon weer, en Harry skuif die leesbril weer van sy voorkop na sy oë. “Dis Dekke. Hy groet net, want hulle is al weer op pad oorsee. Portugal nogal. Hy vra ook of ons nie dalk sy vrou se denimbaadjie gesien het nie, want sy kry hom nêrens nie en dis haar gunsteling.”

Terwyl hy lees, pieng die foon weer. “Dis my skoonsus. Sy sê as daardie baadjie nie opduik nie, moet Dekke se vrou by Edgars gaan kyk vir ’n nuwe een, want hulle het hierdie naweek tot 80% afslag op uitgesoekte produkte. Ek wonder of ek vir haar moet sê daar is nie ’n Edgars in Lissabon nie.”

Harry sug, rol sy oë en plak die foon effens te hard op die skinkbordtafel neer.

“Wat pla, Harry?” waag ek dit. 

“Ag man,” sug hy. “Dit pla my dat ons almal so alles van almal weet. Dit pla my dat ons nie meer nuus vir mekaar het nie, omdat elke klein gebeurtenis – hoe onbeduidend of onbelangrik ook al – met alles en almal gedeel word.

“Hier probeer ons ’n bietjie wegkom van alles en almal, maar danksy die foon weet ek nou selfs van Edgars se uitverkoping.

“En weet jy waar het al hierdie ‘inligting op ons vingerpunte’ ons gekry?” vra Harry. “In ’n era waar ons almal digitaal verbind is en 24 uur per dag, sewe dae per week ‘virtueel’ kan kuier? Weet jy?”

Ek het eintlik ’n mening, maar Harry lyk of sy maag ook besig is om groen te raak. Dus skud ek my kop effens.

“Die hartseer waarheid,” sê Harry terwyl hy ’n dikkerige stomp uit die sak haal en op die vuur gooi, “is ons is van ons vriende en familie vervreem. En dit is juis omdat ons almal so alles van almal weet. Ons gaan kuier nie meer vir mekaar nie, want al ons stories vertel ons nou vir mekaar aanlyn. Jou neef wil jou van sy jagtog vertel, maar jy stop hom en sê jy het die foto’s op Facebook gesien. Om ordentlik te wees vra jy of dit lekker was. En om terug ordentlik te wees sê hy dit was baie lekker. En daar stop die gesprek.”

Daar was dae, sê Harry, dat dit lekker was om sommer onverwags by mense te gaan kuier. 

Dit was ’n groot gebeurtenis as iemand sonder om te waarsku aan jou deur geklop het. “As die deurklokkie gelui het, het my ma in die gang af gehardloop om haar pantoffels vir ordentlike skoene te verruil en geskreeu iemand moet die ketel aansit.

Trouens, daar was koeldrank, koekies en sulke deftige gekleurde suikerkristalle wat vroeg in die maand reeds gekoop is, maar nie vir alledaagse gebruik bedoel was nie. Dit was nét vir wanneer daar kuiermense gekom het.

“’n Mens sien dit nie meer nie. Niemand kuier meer spontaan nie. Ons moet deesdae ’n week voor die tyd ’n e-pos of Whatsapp stuur – want niemand bel mekaar meer nie – om te hoor of so-en-so dalk by ons wil kom braai.

“En as iemand net opdaag, vertrou ons dit glad nie. Ons eerste reaksie is dat daar iets fout moet wees. As my voordeurklokkie nou lui en ek sien dit is jy, gaan haal ek eers die jumper leads vóór ek die deur kom oopmaak.”

Harry sê volgende keer gaan kamp ons in die Sederberg.

Die Sederberg, sê hy, is ’n plek wat bekend is vir sy natuurskoon en die rus en vrede wat ’n mens daar ervaar. Dit is nie ’n plek wat bekend is vir ’n sterk selfoonsein nie. En as die woorde “No Service” op sy foon se skermpie verskyn, is Harry so na aan die hemel as kan kom.


Hierdie rubriek het oorspronklik in WegSleep #94 (November 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.