Elke Junie het die Jonkers van Hennenman die Gypsey 5 gepak, hom aan die Kombi gehaak en in die pad geval – gewoonlik (en genadiglik) na een van die land se warmer streke.
My ouers het die Kombi se agtersitplekke platgeslaan en ’n bed geprakseer waarop die kinders – vier broers en een babasussie – nog kon slaap terwyl ons in die middel van die nag uit die ysige Vrystaat vertrek.
Ek sal altyd onthou hoe die gedreun van die Kombi se V6-enjin en die son wat deur die ruit skyn, my êrens langs die pad wakker gemaak het.