Toe & Nou: NG Moederkerk, Wellington

akkreditasie
Die presiese datum van die”toe”-foto is nie bekend nie, maar dit is beslis voor 1928 geneem, omdat die kerk se dak nog nie gelig is nie. Kerkstraat is in 1930 geteer en breër gemaak in 1955. Die kroningsboog en ingang na Victoria Jubilee Park is heel links op die foto.
Die presiese datum van die”toe”-foto is nie bekend nie, maar dit is beslis voor 1928 geneem, omdat die kerk se dak nog nie gelig is nie. Kerkstraat is in 1930 geteer en breër gemaak in 1955. Die kroningsboog en ingang na Victoria Jubilee Park is heel links op die foto.
Wellington-museum, foto-argief
Uit die argief: Die NG Moederkerk op Wellington het nie altyd ’n toring gehad nie. Lees hier hoe sebras ingespan is vir fondsinsameling.

Dis onmoontlik om die hengse roomkleurige kerk aan die bopunt van Kerkstraat op Wellington mis te kyk. Die hoë toring hou wag bokant die dorp terwyl die standbeeld van die bekende teoloog, Dr. Andrew Murray, vir jou loer uit die lug uit.

Foto: Henk Hagen

Murray was van 1871 tot 1906  predikant in die gemeente. Die beeld is in sittende posisie, waarskynlik omdat Murray in die laaste jare van sy bediening gesit het tydens sy preke ná ’n rugbesering.

Die bou van die 30 m hoë toring was natuurlik nie sonder drama nie. Party lidmate het teen 1890 (toe die kerk 50 jaar oud was) gevoel die kerk verdien ’n toring. Veral Albertus Malan, ’n wamaker en bekende inwoner van Wellington, het sterk gevoel oor die saak. Maar op ’n kerkraadsvergadering verloor die toringgroep met een stem.

Party lede het gemeen ’n sendingfonds moet eerder gestig word. Malan was egter vasberade. Hy het op lidmate se plase en by hulle huise aangegaan om ondersteuning te kry. Hy het skenkings ingesamel en basaars gereël. By een van dié basaars kry hy selfs êrens ’n paar sebras en laat die mense toegang betaal om dit te sien! Daar was uiteindelik genoeg fondse, die toring is goedgekeur en ’n kleitoring opgerig.

Dié kerk, wat amper 180 jaar oud is, was nie altyd so imposant nie. Die eerste kerkgebou – ’n eenvoudige, reghoekige gebou – is in 1839 voltooi en die gemeente die volgende jaar gestig.

Die gebou is ’n hele paar keer verander en die belangrikste hiervan is die bou van syvleuels (1861), galerye by die syvleuels (1874) en die toring (1895). In 1923 is die standbeeld van Dr. Murray ingewy. In 1928 (ná die foto toe-foto geneem is) is die dak met 8 voet (sowat 2,5 meter) gelig. Die kroningsboog links van Kerkstraat is in 1902 opgerig om die kroning van Koning Edward VII te vier.

Dit is die ingang na Victoria Jubilee Park. Dié park is in 1897 gevestig vir die viering van Koningin Victoria se diamantjubileum (60 jaar op die troon).                          

Bronne:Die Geskiedenis van Wellington en Distrik, saamgestel deur navorsingskomitee van die Wellington-museum (2001), Van Dorp tot Drakenstein, Wellington 1840-2000, saamgestel deur Winnie Rust, African Sun Media (2008); wellingtongemeente.co.za

Stuur jou swart-wit fotos gerus na kyra.tarr@media24.com - dalk kan ons dit gebruik.


Hierdie artikel het oorspronklik in Oktober 2016 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.