Suzette de Goede van Goodwood vertel: Ons hou elke jaar minstens twee keer by Puntjie vakansie. Dis naby Vermaaklikheid, sowat 50 km van Riversdal af.
Kapstylhuisies verwys na ’n boutegniek met sy oorsprong in Europa, maar wat in die 18de eeu deur trekboere uit die Kaap aangepas is toe hulle binneland toe getrek het. Die A-raamhuisies het rietdakke wat tot op die grond strek.
Ek en my broer, Pieter, het ons kapstylhuisie in 2005 by ons ouers geërf – my pa het dit vroeër by my oupa oorgeneem, kort ná my ouma se dood in 1954. Maar ons ouers het al voor dit op Puntjie vakansie gehou: Hulle het in 1947 hier wittebrood gehou, toe my ouma en oupa ’n kapstylhuisie aan die oorkant van die Duivenhoksrivier gehad het.