Die roete begin by Mont-aux-Sources – in Frans beteken dit “berg van fonteine” – in die Koninklike Natalse nasionale park.
In die reënseisoen stort die Tugelawaterval, die hoogste ter wêreld, teen die Drakensbergse Amfiteater af en verskeie strome vloei ineen aan die voet van die dramatiese krans. Hier langs die parkeerterrein (S28.70953 E28.94022), van waar jy die toneel aanskou, is die Tugelarivier nog jonk, skaars 5 m breed en enkeldiep, en sy blinknuwe water kristalhelder.
Ongeveer 500 km ooswaarts, waar die Tugela in die Indiese Oseaan uitmond, lyk hy egter heeltemal anders.