book-icon Uitgawe Januarie 2019

Vang forel in die Drakensberg

akkreditasie
As jy jou vlieghengeltegniek ’n bietjie wil slyp, is dit tyd om jou trommel en tent vir die skoon waters van Underberg in KwaZulu-Natal te pak.

SILVERSTREAMS-WOONWAPARK

G’n grensgeval

Dié kampplek in die Drakensberg lê weggesteek feitlik teen die Boesmansnekgrenspos na Lesotho. Dis nie moeilik om ’n puik kampplek te bedryf as jy sit met groot staanplekke op gras, langs ’n kristalhelder rivier met ’n prentjiemooi agtergrond nie.

Voeg nou daarby ’n winkeltjie waar jy elke dag vars vleis, vrugte, eiers, sjokolade en rakmelk kan koop en jy het ’n juweel soos Silverstreams.

Die pad na die kampterrein van die kantoor af neem jou oor ’n smal betonbruggie oor die vlak Ngwangwanerivier. Jy kan twee soorte forel hier vang: die reënboogforel of die bruinforel, maar vir laasgenoemde moet jy nie net Job se geduld hê nie, maar ook ’n goeie dosis vernuf én geluk.

Hier is agt staanplekke (op gras) langs die rivier en nog 24 nader aan die badkamers in die middel van die kamp, elk met ’n driepuntkragpunt.

Party staanplekke het ’n eie braai (met ’n rooster), maar krane is skaars. En as jy koelte soek, moet jy maar die gazebo of strandsambreel saambring, want koeltebome is nie volop nie. Daar is darem ’n speletjieskamer vir die kinders as dit te warm word vir balskop of krieket teen die maats.

Kortliks | Silverstreams-woonwapark

Vis Reënboog- en bruinforel.

Kampplek 32 groot grasbedekte staanplekke met min koelte.

Ablusiegeriewe Netjiese badkamers met ’n onderdak-opwasgedeelte langsaan. Hier is ’n outomatiese wasmasjien wat met ruilmunte werk.

Kontak  082 331 6670 of 082 859 8619; info@silverstreams.co.za; silverstreams.co.za

Naaste dorp Underberg 46 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 25 km is ’n grondpad en hier is twee verskillende toegangroetes tot by die oord.

GPS S29.843911 E29.215664

Weg Ry & Sleep Die eienaars is ten gunste van vang-en-teruggooi vir die vis wat jy vang, maar gee nie om as jy een vir die pan wil uithou nie. Dis ook nie nodig om ’n permit te kry nie, en vir kampeerders is hengel gratis.

VISPAKKIE MET KITSNOEDELS EN GROENTE

’n Vissie teen die vetjies

Selfs die Hart-en-beroertestigting sal trots wees op hierdie een.

Jy benodig

  • 1 porsie kitsnoedels 
  • 1 klein ui, in ringe gesny
  • ’n vars vis van jou keuse (soos stokvis)
  • ’n hand vol vars groente, in repies gesny
  • peper na smaak
  • 1 eetlepel sojasous
  • suurlemoensap na smaak

Só maak jy

1. Week die noedels in warm water tot dit sag is.

2. Vorm met foelie ’n dubbellaagpakkie wat groot genoeg is vir die noedels, vis en groente. Pak die uie daarop, dan die vis en daarna die groente rondom.

3. Geur jou vispakkie met peper en sprinkel die sojasous en suurlemoensap oor. Sit die noedels bo-oor en vou die pakkie toe.

4. Braai die pakkie vir 15 minute oor hoë hitte op die rooster.

Weg Ry & Sleep sê Enige wit vis werk baie goed vir dié resep. En jy hoef nie die pakkie om te draai nie – die vis stoom van onder af gaar.

Ryg ’n wurm

As jy al ooit jou vinger raakgesteek het terwyl jy ’n erdwurm ryg, sal jy bly wees oor dié stukkie hengelgerei.

Die verspreider Fear None voer ’n spesiale vlekvryestaalnaald in waarmee jy ’n wurm maklik – en pynloos – oor ’n hoek ryg.

Die Stonfo-naalde word uit Italië ingevoer en jy ryg bloot die erdwurm oor die 20 cm lange reguit naald met sy teflonpunt, en druk dan die ander punt daarvan teen die weerhaak.

Dié punt van die naald pas netjies oor die skerp punt van die hoek en ’n mens voer doodeenvoudig die wurm oor na die hoek.

Die naalde is in twee groottes beskikbaar: ’n dunner naald vir die Kariba-wurms, en ’n dikker een vir tuin- en bloedwurms.

Kontak: Fear None Quality Fishing Tackle  011 979 2766;  fearnone@mweb.co.zafearnoneqft.co.za