Deel

Kamp veiliger met dié 10 wenke

akkreditasie
Kamp só veiliger
Kamp só veiliger
Uit die argief: Wanneer jy gaan kamp, is dit nie te sê jy kan op jou louere rus en aanvaar alles gaan klopdisselboom loop nie. Jy bly verantwoordelik vir die veiligheid van jou mense.

Ons gaan kamp om ’n bietjie te ontsnap van die werklikhede van ons alledaagse bestaan. Om net vir ’n paar dae waardevolle tyd saam met jou geliefdes deur te bring en terselfdetyd sommer ook van die mooiste dele van ons land te ervaar. En ja, al is jy supertrots op jou blinknuwe boswa, weet ons almal dit is nie jou kosbaarste besitting nie.

Daardie eer (hoop ons) is jou gesin beskore. Maar hoe beskerm jy hulle – veral die kinders – wanneer julle gaan kamp? Ons het met ons lesers, vakansieoorde en ander kenners gesels en dié tien wenke gekry om jou geliefdes en kinders veilig en uit die moeiliheid te hou.

1. As dit donker raak, is jy terug by die wa

Dit blyk die goue reël te wees. Dis lekker om te weet jou kinders geniet hulle vakansie in ’n beskermde omgewing, maar teen die tyd dat die son sak, is almal terug by die kamp.

2. Soek die gevare

Stap deur die kampplek en soek moontlike gevare soos onveilige kragpunte, slange, skerpioene, spinnekoppe en ander ongediertes. Bring dit onder jou kinders se aandag. As dit iets is wat deur die oordbestuur reggestel kan word, gaan meld dit dadelik aan.

3. Die Rooikruis

Moet nooit sonder ’n basiese noodhulpkissie gaan kamp nie. Dit is só voor die hand liggend dat ons dit amper nie hier hoef te noem nie. Maak seker geen van die pille, salwe en ander middels het al verval nie.

4. Hou hulle besig

Ledigheid is die duiwel se oorkussing, en een van die beste maniere om jou kinders uit die kwaad te hou is om te sorg dat hulle nie verveeld raak nie. Dit kos net ’n bietjie voorbereiding. Pak goed soos bordspeletjies en boeke in vir die dae wanneer hulle nie kan buite speel nie.

5. Hoe meer, hoe beter

Waar moontlik, kamp in ’n groep saam met familie en vriende. Dit maak dit makliker om ’n ogie oor die kinders te hou. Wees egter lugtig vir gedeelde verantwoordelikhede. Moet nie aanneem iemand kyk na jou kinders nie. Vra spesifiek dat daar ’n ogie oor jou spruite gehou moet word as jy nie kan nie.

6. Swemstories

Niemand hoef vir jou te sê jy moenie jou klein kinders alleen by die swembad toelaat nie. En moet ook nie van groter kinders verwag om na jou kleintjies om te sien nie. Kinders is kinders en hulle aandag word maklik afgetrek. As jou kinders nog nie kan swem nie, mag hulle nie sonder ’n volwassene swembad toe gaan nie, klaar.

7. Trek ’n streep

Trek ’n denkbeeldige grens om jou kampplek en wys vir jou kinders presies waar hulle nié mag gaan sonder jou toestemming of sonder dat jy saamgaan nie. Só keer jy dat hulle deur die wildkamp se hek of die oord se hek uitstap.

8. Op sy nommer

Maak seker jy weet wat die telefoonnommer vir die polisie, nooddienste en oordbestuur is. In ’n noodgeval wil jy nie soek na die regte nommer nie – met die nommers byderhand kan jy waardevolle tyd spaar.

9. En ek sê Sproetjies...

Afrika se son is nie kinderspeletjies nie. Smeer jou kinders in met sonroom en maak seker hulle dra ’n hoed. Buiten die moontlike nagevolge van sonbrand is daar min dinge so onplesierig soos ’n kind wat siek is omdat hy so rooi soos ’n kreef gebrand het.

10. Praat met my

Laat jou kinders wat groot genoeg is, te alle tye ’n selfoon by hulle dra sodat hulle jou kan bel as daar ’n noodgeval is. Maak self seker hulle het lugtyd en die battery is gelaai. As jou kinders nie groot genoeg is om met ’n selfoon te werk nie, moet jy hulle liefs nie laat gaan waar jy hulle nie kan sien nie.

Ry & Sleep sê:
Niemand is lus vir ’n klomp reëls en regulasies wanneer hulle gaan kamp nie, maar as jy hierdie basiese maatreëls toepas, kan jy rustiger wees oor die veiligheid van jou kinders.