book-icon Uitgawe November 2017

Vergeet van raas op Rivierplaas

akkreditasie
Skaars twee uur van Kaapstad af, knus teen die oewer van die Breërivier en gekamoefleer deur ’n werkende plaas, lê ’n juweel van ’n kampterrein weggesteek.

Foto’s: Kyle Kock 

Musiek vorm ’n groot deel van ons lewe – g’n wonder ’n mens sien so baie mense met oorfone op die trein, bus en selfs by die werk nie. Elkeen van ons het spesiale liedjies vir spesifieke tye: wanneer die klubspan met rustyd agter is, wanneer jy en jou geliefde vir ’n kersligete aansit, of wanneer dit tyd is om te skoffel by die jaarlikse familiesaamtrek.

Daarom kyk ’n mens twee keer na die streng “Geen musiek”-beleid terwyl jy die bevestigingsbrief lees wat die Rivierplaas-kampterrein vir jou stuur.

Rivierplaas is die Hugo-familie se intieme kampterrein sowat 20 km suidoos van Worcester. Dis ’n werkende plaas, maar die Hugo’s het ongeveer vier dekades gelede besluit die natuurlike bos langs die rivier is ’n uitstekende plek om ’n tent staan te maak.

Hulle het dié stukkie aarde eers net vir hulleself gehou, maar dit onlangs vir die publiek oopgestel. G’n wonder hulle is heilig oor die stilte nie.

Hulle het dié stukkie aarde eers net vir hulleself gehou, maar dit onlangs vir die publiek oopgestel.

Die ontvangskantoor – wat ook diens doen as oordwinkel – sit aan jou linkerkant soos jy die plaas binnery. Dis hier waar jy die bestuurder, J.B. van Eeden, die meeste van die tyd sal aantref. 

Terwyl jy die papierwerk afhandel, kan die kinders hulle by die varkhok langsaan gaan vermaak. Met ons besoek het ’n werpsel kleintjies rustig onder ’n infrarooi lamp geslaap terwyl die groteres ’n entjie verder van hulle laat hoor het. 

Die groter varke is glad nie skaam nie; hulle staan regop teen die hokmuur om die besoekers van nader te bekyk. Hulle is amper so lief vir die aandag soos ’n tiener vir Snapchat.

J.B. verduidelik die kantoorure en bring terselfdertyd die oordreëls by jou tuis. In die stiller seisoen kan jy vir hom ’n SMS stuur en dan sal hy kom oopsluit as jy hout, ys of vuuraanstekers nodig het.

Jy kan ook hier kom aanklop vir koffie en suiker. Andersins sluit hy die winkel twee maal per dag vir ’n halfuur oop. As jy nie jou kamptafel saamgebring het nie, kan jy hier een kry vir jou staanplek. 

Omdat dit ’n werkende plaas is met varke, perde, koeie en honde, is dit ook ’n troeteldiervriendelike kampterrein. Wagter en Wollie kan saam kom kamp, maar jou diere moet goeie maniere hê; as Wagter sukkel om met vreemde diere en mense oor die weg te kom of te veel blaf, gaan jy gevra word om hom huis toe te vat.

J.B. besoek die kampterrein gereeld met sy twee honde, Lucy, ’n bruin borderkollie, en Jack, ’n staffordshireterriër. Albei is baie vriendelik en hou van aandag.

Alles op sy plek. Die afdraai word duidelik aangedui en jy gaan sukkel om dit te mis. Die skuur op die agtergrond doen ook diens as ontvangskantoor en winkel. Die staanplekke in die C-afdeling is heeldag in die koelte. Die oordbestuurder, J.B., kom loer gereeld saam met sy honde by jou in.

Geen krag, geen probleem

Die kampterrein lê parallel aan die rivieroewer, amper ’n kilometer verby die plaasopstal. Jy volg die duidelike rigtingbordjies tot hier.

Die staanplekke is in alfabetiese afdelings verdeel van A tot J en wissel in vlakke van privaatheid, grootte en die afstand na die speelplekke vir die kinders en die ablusiegeriewe.

Jy kamp sonder elektrisiteit, maar elke staanplek het sy eie vullisdrom en kraan. Onthou om jou eie drinkwater saam te bring – of koop ’n paar liter by J.B., want die water wat jy uit die krane tap, is ongesuiwerde rivierwater.

Die meeste staanplekke is groot genoeg vir minstens een woonwa of twee middelslag-tente. As jy baie ruimte én heelwat privaatheid verkies, mik na staanplek nr. B1 of die C-staanplekke. Hier is natuurlike afskortings soos bome en struike tussen jou en jou buurman en jy kan ook groter waens en meer tente hier inpas. Op die nuwer staanplekke in die afdelings E-J is daar jong boompies of geverfde houtpale tussen jou en die staanplek langsaan.

Stuur vooraf vir J.B. ’n e-pos en vra hom om vir jou ’n staanplek aan te beveel wat aan die vereistes vir jou sleepkombinasie en jou kampvoorkeure sal voldoen. Hier is selfoonontvangs, maar nie sodanig dat jy op YouTube sal kan boer nie. Jy sal egter ’n foto van jou naweekkamphuis vir jou vriende en familie kan WhatsApp.

Elke staanplek het ’n braaidrom, met die uitsondering van A1 en B1 waar jy jou kampvuur in ’n betonvuurput maak. Die meeste van die dromme het ’n braaidriehoek, maar onthou om jou eie rooster in te pak.

Jy hoef egter nie jou eie hout saam te ry nie, want J.B. verkoop droë hout wat nie sukkel om vlam te vat nie. 

Toegerus. Die kleinspan kan na hartelus in een van drie speelparkies baljaar. Die ablusieblokke lyk almal dieselfde en dié eenvoudige ontwerp met hout en sinkplaat is doelbewus so gedoen om by Rivierplaas se tema te pas. Die geriewe is netjies en word elke dag skoongemaak. Hier is ook rolstoel­vriendelike geriewe en snags sorg LED-ligte (wat aan ’n sonpaneel gekoppel is) vir lig.

Basies, maar op sy nommer

Met ons besoek was hier een werkende ablusieblok, met ’n tweede een wat oorgedoen en so te sê klaar was. J.B. sê ’n derde blok behoort teen vandeesmaand gereed te wees vir die nuwer staanplekke in die afdelings E-J.

Die ablusieblokke lyk dieselfde en is basies en eenvoudig, maar dit is doelbewus so beplan om by Rivierplaas se tema in te pas. Dis van hout en sinkplaat gebou – op betonblaaie – en het geriewe vir mans en vroue.

Die storte is net so eenvoudig: Daar’s hake aan die agterkant van die deur vir jou handdoek en klere, en ’n smal rak vir jou skeergoed en sjampoe.

Die keramiekwasbakke het spieëls en die toilette maak gebruik van ’n riooltenk. Rolstoelvriendelike geriewe en ’n oprit by elke ablusieblok maak die lewe makliker vir gestremde kampeerders.

Die ouer ablusieblok se opwasplek is aan die buitekant met twee wasbakke vir skottelgoed of die vuil klere wat jy wil uitspoel. Die opwasplek by die nuwe geriewe is onder dak vir wanneer die weer sleg is, maar hier is een wasbak minder.

As dit tyd is om te stort – of as jy warm water nodig het vir die skottelgoed – moet jy self die donkie stook.

Elkeen van die  drie ablusieblokke het sy eie donkie aan die agterkant en die oordbestuur verskaf die hout. (Weerstaan tog maar die versoeking om van dié hout vir jou kampvuur te leen.)

Dit vat sowat 45 minute om genoeg warm water vir jou gesin te kry. Onthou om nog ’n stuk hout of twee op die vuur te gooi wanneer jy klaar is – die ou wat ná jou kom stort, sal baie dankbaar wees vir dié gawe gebaar van buurmanskap.

Tussen staanplek nr. A1 en B1 is ’n foefieslaaid, kano’s en ’n vlot wat jy gratis kan gebruik. Hier kry jy ook een van Rivierplaas se drie swemplekke.
Op eie risiko. As die avontuurlus jou pak – of jy wil net vir ’n rukkie van jou skoonma ontsnap – kan jy een van die kano’s vat en in die Breërivier gaan roei. Hou jou oë gespits vir vissermanne op die oewer en maak seker jy roei nie oor hulle lyne nie. ’n Mens is seker ook nooit te oud om die foefieslaaid te gaan probeer nie. Dié een het duidelike instruksies oor hoe en wanneer om hom te gebruik. Maak seker daar staan iemand met ’n kamera naby. Dalk is jy die volgende YouTube-ster.

Doen iets van alles

Die “Geen musiek”-beleid sorg vir ’n atmosfeer van rustigheid in die kampterrein. Jy kan net rustig onder jou stoeptent sit en na die voëltjies se gekwetter luister terwyl jy boeklees.

As jy lus is om die wêreld te verken is hier ’n staproete van 2,5 km wat jy kan aandurf. Dis ’n sirkelroete, wat beteken jy gaan nie maklik verdwaal nie, en dis ook nie té uitdagend nie. Selfs al is jy nie superfiks nie, kan jy die natuurskoon op die roete bewonder. Hou egter jou oë oop wanneer jy gaan stap, want daar is slange in hierdie geweste wat op die paadjie lê en in die son bak.

As jy ’n kranige voëlkyker is, kan jy gerus die rivier by die oorsteekplek kruis, want volgens J.B.-hulle is hier ’n verskeidenheid spesies te sien.

Tussen staanplek nr. A1 en B1 is ’n foefieslaaid, kano’s en ’n vlot wat jy gratis kan gebruik. Hier kry jy ook een van Rivierplaas se drie swemplekke. Jy kan selfs ’n lyntjie natmaak; van die staanplekke is juis met hengelaars in gedagte langs die rivier uitgelê.

Met drie speelplekke wat deur die kampterrein versprei is, is hier meer as genoeg vir die kleingoed te doen. Dit wissel van ’n eenvoudige klimraam en glyplank tussen die E- en J-kamp tot die swaaie en rondomtalie by die C-staanplekke en die natuurspeelplek by die C-afdeling waar stompe en omgevalle bome omskep is in onder meer ’n wipplank, swaaie, ’n glyplank en ander unieke speelgoed. Jou kleintjies sal hulle vir ure kan besig hou.

Jy kan selfs ’n lyntjie natmaak; van die staanplekke is juis met hengelaars in gedagte langs die rivier uitgelê.

Onthou ook om julle fietse in te pak, want hier kan julle die wêreld invaar en die plaas van hoek tot kant verken. Bring iets om jou vierpotige familielid besig te hou.

Hoewel hulle waarskynlik ’n vriend of twee ryker gaan word en die wêreld na hartelus kan verken, is dit tog goed om hom iets te gee om aan te kou. Sodoende loop jou buurman se tenttoue nie deur nie.

Onthou ook om agter Wollie skoon te maak. Maar ons hoef dit seker nie eers te sê nie.

HEEL GAAF. Teen R50 ekstra kan jy ’n tafel op jou staanplek kry. Die varke verwelkom enige besoekers aan hulle hokke met groot ywer. Hier’s lekker baie gras, en party van die staanplekke is reg langs die rivier geleë.

Rus en vrede

As jy hier kom en besef jy het die vleis en bier by die huis vergeet (Skaam jou! – Red.) gaan jy ’n goeie 20 km tot op Worcester moet ry. Maak net seker jy is vanaand voor 9 nm. terug, want dít is wanneer J.B.-hulle die hek sluit. Hier is nie hekwagte wat laatnag vir jou gaan oopsluit nie.

Ná 11 nm. mag jy ook nie meer van jou laat hoor nie. Dit beteken jy moet begin fluister, jou wadeur sagter toemaak en beslis nie daai leë wynbottel in die vullisdrom gooi nie. En, as jy musiek wil luister, jou oorfone uithaal…

Maar dis die heel beste deel van die kampervaring hier, en jy gaan vind jy mis nie eens die musiek oor die Bluetooth-luidspreker nie.

Jy oortuig jouself dalk net dat die natuurgeluide al klankbaan is en net wat jy nodig het om jou batterye vir die naweek te herlaai.

Kortliks: Rivierplaas

Kampplek 36 afgemerkte en genommerde staanplekke – die meeste gelyk met gras. Die staanplekke met die meeste koelte het die minste gras.

Ablusiegeriewe: Eenvoudig maar skoon en netjies. Jy stook ’n donkie vir warm water wanneer jy wil stort.

Kontak 084 710 0139; rivierplaas.co.za; info@rivierplaas.co.za

Hoe lyk die pad? Meestal teerpad van Worcester af, maar op die plaas is dit net grondpad.

Naaste dorp Worcester 20 km.

GPS S33.773813 E19.52121

Weg Ry & Sleep Hier kom kry jy rustigheid en vrede. Bring jou visstok en swembroek... en onthou die fietse!