book-icon Uitgawe Junie 2018

Vind vrede in die Klein-Karoo

akkreditasie
Die Klein-Karoo is ’n kalm plek waarheen jy kan ontsnap van die gedruis van die stad. Komaan, laat die doodse stilte jou gemoed lawe.
Foto’s Cyril Klopper

Die geografiese streke van Suid-Afrika is moeilik om te definieer. Waar eindig die Laeveld en waar begin die Bosveld? Is Kaapstad deel van die Weskus of begin dit eers by Saldanha?

’n Mens kan lank hieroor debatteer. Maar anders as met die meeste ander streke is die Klein-Karoo se grense duidelik.

Die noordelike grens is die Swartberg, suid lê die Lange- en Outeniquaberg, die oostelike grens is die R57 tussen Willowmore en Uniondale aan die voet van die Kougaberg, en aan die westelike grens waak die Anysberg.

Hier lê een van Kaapse Natuurbewaring se rustigste bewaarareas: Die Anysberg-natuurreservaat.

Al die veld is vrolik

Die reservaat is in 1988 gevestig en amptelik in 1990 geproklameer. Dit beslaan nagenoeg 800 km2 en lê in ’n oorgangstreek van bergfynbos en tipiese Klein-Karooveld. Die streek word geklassifiseer as ’n halfwoestyn, maar die veld lyk vir die lekeoog spekvetgroen.

Dis ’n dankbare deel van ons land, en ná die reën pronk kapok-, sosatie-, klapper-, geelmelk- en kankerbos met helderkleurige blomme.

In knap klowe knars jou skoensole op kwartsklippies en jy trap versigtig tussen noem-noems en rooihaartjies. Bo in die berge staan trotse proteas punt in die wind en erikas blom pienk-pers ruikers.

Daar is ’n paar grondpaaie wat deur die reservaat kronkel en jy kan die reservaat met ’n voertuig verken, maar vir die meeste roetes het jy ’n ryding met ’n goeie grondvryhoogte nodig.

Die bloekombome sorg vir welkome koelte. Hopelik is jou tent koel as jy van ’n lang fietsrit terugkeer.

’n Gewone sedanmotor gaan jou beperk tot die hoofpad en dan gaan jy ander planne moet maak om die res van die reservaat te verken.

Op sommige roetes – soos die Tapfontein- sirkelroete – gaan jy selfs moet oorskakel na viertrek.

Die breë vallei tussen die Anysberg in die suide en die Matjiesgoedberg in die noorde het heelwat wild.

Hier is bergkwagga, steenbok, duiker, gemsbok, rooihartbees en ’n menigte kleiner skugter diersoorte. Luiperds lê op rotskranse en tuur na prooi hier onder op die valleivloer.

Snags is die kans goed dat bakoorjakkalsies jou kampplek gaan besoek, en as jy vroegaand ’n draai gaan ry, sal jy naguiltjies in ’n warmgebakte tweespoorpad sien hurk.

As jy werklik gelukkig is, sal jy ’n rooikat se oë in die donker sien blink.

Luiperds lê op rotskranse en tuur na prooi hier onder op die valleivloer.

Voëlkykers gaan in hulle noppies wees, want hier is ongeveer 200 spesies, waaronder korhane wat op die vlaktes skoffel, feevlieëvangers in rivierlope en witkruisarende wat in die berghange nesmaak.

Reptiele word verteenwoordig deur knoppiesdop- en rooipens-skilpaaie, boomslange, Kaapse kobras, pofadders en tientalle tipes akkedissies.

Daar is ook tekens van die mens se geskiedenis in Anysberg. Murasies uit die 18de eeu vertel van Europeërs wat hierheen getrek het, en in bakkranse vind jy rotstekeninge wat getuig van die streek se oorspronklike inwoners, die /Xan San.

Dit is vanweë dié ryke geskiedenis en natuurskatte dat Anysberg tot Wêrelderfenisterrein verklaar is. 

Só kamp ’n mens

Ongelukkig kan ’n mens nié op Kaapse Natuurbewaring se webblad ’n staanplek bespreek nie (huisies wel); jy moet hulle direk bel of ’n e-pos stuur. 

Daar is vyf staanplekke, almal op ’n lappie gras onder toringhoë bloekombome. Die staanplekke is nie genommer nie en die ou wat eerste opdaag, kan eerste kies waar hy tent opslaan.

’n Maksimum van ses mense word per staanplek toegelaat en die staanplekke word van mekaar geskei deur ’n 1,8 m hoë houtheining.

Die eerste staanplek, die een die naaste aan die ablusiegeriewe, het nie sy eie koelteboom nie (sý boom is eers onlangs geplant en hy’s nog skouerhoogte), maar kry wel oggend- en vroegmiddagskaduwee wat deur ’n groot ou bloekom op die staanplek langsaan verskaf word. 

Jy het wel jou eie kraan én daar’s ’n waterbak waaruit voëls bedags en jakkalsies snags kom drink. 

Die tweede, derde en vierde staanplek deel twee waterkrane, maar hulle het heeldag koelte. Die vyfde staanplek (die verste van die ablusiegeriewe af) is die ruimste, het die meeste koelte en is verder verwyder van die ander staanplekke.

Hier is jy lekker privaat.

Jy het wel jou eie kraan én daar’s ’n waterbak waaruit voëls bedags en jakkalsies snags kom drink.

Elke staanplek het sy eie bobbejaanbestande vullisdrom, piekniektafel met bankies, ’n sonsambreel en ’n kniehoogte baksteenbraaiplek. Hier is nie elektrisiteit op die staanplekke nie en jy moet jou eie braairooster en lig saambring. 

Sakkies braaihout word teen R30 per sak in die parkkantoor se winkel verkoop, maar speel eerder veilig en bring jou eie.

Skoonveld

Die ablusieblok is ’n netjiese enkelgebou wat uit vier vertrekke bestaan. Die eerste deur lei na die mansgeriewe met twee toilette, twee storte en twee wasbakke.

Die storte is ruim genoeg om droogvoetsuit en aan te trek. Volgende is ’n rolstoelvriendelike badkamer met ’n oopplanstort, toilet en wasbak. Dan volg die vrouegeriewe met dieselfde uitleg as die mans s’n.

Laastens is daar ’n lekker groot kombuis met werksoppervlakke, stoeltjies, vullisdromme, vier wasbakke, twee gasstowe en twee yskaste. Jy deel die yskaste met jou bure indien jy nie jou eie saamgebring het nie. (Yskaste, nié bure nie. – Red.)

Teenaan die ablusieblok is ’n omheinde binnehof met twee wasbakke en ’n 3 m lange wasgoedlyn.

Die gebou is in ’n uitstekende toestand.

Hier is altyd warm water, die vloere word gereeld gevee, die snippermandjies word daagliks leeggemaak en toiletpapier word verskaf. Die ligte werk met batterye wat bedags deur sonkragpanele gelaai word.

’n Paar meter van die ablusiegeriewe af is ’n groepie bome met voëlneste. Gaste wat gereeld by Anysberg kamp, vertel jy sien dikwels boomslange in die takke. Waarsku dus jou kinders dus om liewer uit die bome uit weg te bly.

Ry, gly, swem en draf

Hoewel Anysberg bekend is vir sy rustige atmosfeer, is hier heelwat doendinge.

Wanneer dit bloedig warm is – in die somer draai die kwik by 35 ºC – kan jy afkoel in ’n betonplaasdam skuins agter die kantoorgebou. Hier is ’n houtdek met ’n afdak en sonbaaibeddens. Ontspan met iets kouds in die hand terwyl jy ’n oog op die kinders hou.

Die dam se water kom uit die Anysberg wat soggens met digte mis bedek is. Dit sneeu selfs rondom Julie en Augustus in die berge. 

Langs die dam is ’n klimraam met ’n glyplank en ’n heldergroen grasperk wat deur die bergwater natgelei word.

Jy kan by die kantoorgebou aanklop en bergfietse huur teen R60 per dag. Valhelms word verskaf en die veldwagter aan diens vra dat jy een dra wanneer jy ry.

Wanneer die Anysrivier in vloed is, sal die Rooidamme sowat 1,5 km van die kampterrein af vol water loop en dan kan jy ’n kajak huur om te gaan roei. Die Anysrivier is die hoofaar in die reservaat en saam met die Touws-, Prins- en Buffelsrivier vorm dit deel van die Gouritsrivier se opvangsgebied.

Anysberg het geen wandelpaaie nie, maar dit staan jou vry om in enige rigting deur die veld koers te kies. Die grond is gelyk en die plantegroei nie só ruig dat jy sukkel om te stap nie.

Wees net bedag op slange en skerpioene, en neem asseblief genoeg water saam. 

Hoewel daar geen selfoonontvangs in die kampterrein is nie, is daar dikwels sein op die nabye rantjies en koppies sodat jy die reservaat se kantoor kan bel as jy hulp nodig het (kantoorure is 7.30 vm. tot 4 nm.).

Buiten ’n fiets is ’n perd een van die lekkerste maniere om die reservaat te verken. Die klimraam langs die plaasdam sorg vir ure se plesier.

As jy kans sien vir iets meer spesiaals as fietsry of voetslaan, kan jy die reservaat te perd verken. Anysberg bied twee soorte begeleide perdritte: Teen R180 p.p. sal ’n gids jou op ’n 2 uur lange rit neem, maar daar is ook ’n 2 dae lange toer wat R875 kos. Jy moet vooraf met Anysberg se bestuur reël as jy wil perdry.

En dan is daar die Tapfontein-sirkelroete wat jy slegs met ’n bergfiets of viertrekryding mag aandurf. Die roete is 16 km lank en duur sowat ’n uur per motor as jy nie aftrek vir ’n piekniek of foto’s nie. 

Dis ’n smal paadjie en daar is weinig plek om af te trek vir aankomendeverkeer. Hoor dus eers by die kantoor of daar al voertuie op die roete is en of hulle kloks- of antikloksgewys ry.

Die halfpadmerk op dié roete is Tapfontein – ’n groepie van vier houthutte, ’n braaikraal en ’n sterrewag in ’n vou van die Mat jiesgoedberg.Tapfontein word bestempel as een van die donkerste plekke op aarde.

Saans is hier géén ligbesoedeling nie; selfs die maan word deur die berge versluier. Hier gaan die magdom sterre en planete jou nietig laat voel terwyl meteore en satelliete oor die hemelruim flits.

Slaap onderdak

Indien jy eerder in ’n huis as ’n tent wil slaap, is daar vyf selfsorghuisies om van te kies. Die huisies is naby die kampterrein en hulle pryse wissel van R680 p.n. vir die kleinste huisie (buite seisoen) tot R1 460 vir die grootste huis oor vakansietye en langnaweke.

Jy kan ook in een van Tapfontein se houthutte bly teen R250 p.n. per hut, maar jy móét ’n veldryer hê om daar uit te kom. 

Henriette Marais en Helgard du Plessis van Kleinmond kamp in ’n koepeltent en sleep ’n Karet agter Helgard se 2004 Land Cruiser 79 4.2D.
Hulle sê
Ons hou nie van groot oorde nie; gee ons eerder ’n stiller natuurreservaat soos Anysberg. Ek het my Karet in 1984 by die destydse Vetsak gekoop, maar ons oorweeg ’n boswa en beplan om permanent te toer en kamp.

Kortliks | Anysbergnatuurreservaat

Kampplek 5 staanplekke langs mekaar onder koeltebome. Geen elektrisiteit nie.

Ablusiegeriewe ’n Silwerskoon badkamergebou skaars 70 m van die verste staanplek af.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Besprekings 021 659 3500; bookings@capenature.co.za; capenature.co.za

Hoe lyk die pad? Die kortste roete uit Kaapstad is deur Touwsrivier en met ’n sanderige grondpad (40 km) tot by die park se westelike hek.

Van hier af is dit ’n klipperige tweespoorpaadjie (27 km) tot by die parkkantoor. Dié roete duur van Kaapstad af minstens 3 uur en is nie geskik vir ’n gewone motor nie.

’n Makliker roete is van Laingsburg af suidwaarts tot by die hoofhek. Van hier af is dit 17 km tot by die kantoor en kampplek.

Dis ’n sinkplaatpad wat jy in ’n sedanmotor kan baasraak mits jy stadig ry, maar ’n padwoonwa gaan uitmekaar skud.

Naaste dorp Laingsburg 60 km.

GPS S33.46360 E20.58883

Hiermee het ons gekamp

Toyota Hilux 2.4 GD-6 4x4 met ’n Bush Lapa Bosluis 2

Ons het die Anysberg-natuurreservaat met Bush Lapa se omgeboude Toyota Hilux besoek. Dis ’n enkelkajuitbakkie, en Bush Lapa se Bosluis 2 het slaapplek vir twee.

Die Bosluis is dus nie ’n gesinsvoertuig nie, maar puik vir ’n afgetrede paartjie wat Afrika wil verken, of vir ’n ma en haar dogter wat vir ’n meisiesnaweek wil wegbreek.

Krag 110 kW @ 3 400 r.p.m.

Wringkrag 400 Nm @ 1 600 r.p.m

Weg Ry & Sleep sê
Bring ’n teleskoop vir sterrekyk, ’n verkyker vir voëlskyk en ’n bril vir boeklees.


Hierdie artikel het oorspronklik in Junie 2018 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.