Vir ’n jong voëlkyker is daar een enkele stuk toerusting wat die beste verkyker, die langste kamera en die duurste teleskoop klop. ’n Rybewys. Ek het myne in Augustus 2000 gekry, en nie op my laat wag nie. Die middag van my verjaardag spring ek sonder veel beplanning in die ou groen BMW’tjie wat ek by my ma geërf het, en vat van Pretoria af die N1 noord.
My teiken is die statige geelkeelsandpatrys; ’n skaars Rooidata-spesie wat my nog altyd ontwyk het. Daar is na raming minder as 1 000 van dié nomade in Suid-Afrika, en om hulle raak te loop vat mooi kyk, hope geduld en geluk.
Jy kan 4 van die wêreld se 16 sandpatrysspesies in Suid-Afrika sien. Die res boer verder noord in Afrika, asook in die Midde-Ooste en Asië, met een spesie in Madagaskar. Hulle dowwe kleure en stadige bewegings maak hierdie grondvoëls besonder moeilik om raak te sien.