Toe ek in die eerste helfte van die 1990’s op hoërskool was in die Oos-Kaap, was krieket ’n onlosmaaklike deel van elke Saterdag in die somer. Dit het geruik na natgeswete beenskutte, blinkgevryfde leerballe, sonskerm – en droë gras.
Dis nou as daar enigsins gras was, want dit was ook droogtejare. Ons het dikwels op velde gespeel waarvan die buiteveld kliphard en besaai met duwweltjies was.
Gewoonlik was die enigste toeskouer ’n ouer of twee wat in die skadu van ’n denneboom uitspan. Die klap van kolf teen bal en ’n oorentoesiastiese “Howzat!” elke dan en wan was al klank wat jy gehoor het. Dit was ’n sport wat ek saam met my beste vriende kon geniet – Jaco, Asterix, Marius, die Du Toit-broers, Jules en Handré...