Deel

RESEP | Andrea se kaneelrolletjies

akkreditasie
Hierdie rolletjies is beslis die bietjie werk werd. Maak eers net ’n oefenbaksel vir jouself om te sien of jy die nodige selfbeheersing kan toepas en ’n paar kan oorhou vir jou gaste...

Vir 6 | Voorbereityd 30 minute plus rystyd | Gaarmaaktyd 35 minute

Jy benodig

• 4 koppies meel

13 koppie suiker

• 2¼ teelepels kitsgis

• ½ teelepel sout

• ¾ koppie karringmelk

• 90 g botter, gesmelt

• 3 groot eiers, geklits

• 1 eetlepel vanieljegeursel

• kleefwerende sproei of botter

Vir die vulsel

• ½ koppie sagte botter

• 1 koppie ligte bruinsuiker

• ½ koppie pekanneute, gekap

• 5 teelepels kaneel

Vir die roomkaasglaseersel

• ½ koppie gladde maaskaas of roomkaas (kamertemperatuur)

• ½ koppie versiersuiker

• 1 teelepel kaneel

Só maak jy

1 Plaas die droë bestanddele in ’n staanmenger met ’n K-haak en meng dit goed saam.

2 Verhit die karringmelk vir 45 sekondes in die mikrogolf (of gebruik sommer in ’n kastrolletjie).

3 Voeg die karringmelk, gesmelte botter, eiers en vanielje by die droë bestanddele en meng dit goed.

4 Sprinkel twee eetlepels meel op ’n werkoppervlak en sprinkel ook ’n bietjie meel op jou hande. Keer die deeg uit op die meel en knie dit dan vir 10 minute. Die deeg moet sag en taai wees; moet dus nie nóg meel daarby voeg nie.

5 Spuit die binnekant van ’n skoon bak met kleefwerende sproei en plaas die deeg daarin. Bedek met kleefplastiek en laat dit vir 2-3 ure op ’n warm plek rys tot dubbel die volume.

6 Sprinkel weer ’n bietjie meel op ’n skoon werkoppervlak en keer die deeg daarop uit. Knie dit vir 2 minute af. Rol dit met ’n meelbestrooide koekroller uit in ’n reghoek.

7 Meng die vulselbestanddele en smeer dit oor die deeg. Rol die deeg soos ’n rolkoek op en sny dit in skywe van 2cm dik. Spuit ’n oondbak met ’n  kleefwerende sproei en pak die rolletjies daarin.

8 Bedek dit met kleefplastiek en laat dit weer op ’n warm plek rys tot dubbel die volume (1-2 uur).

9 Voorverhit die oond tot 180 °C. Bak die rolletjies vir 30 minute tot goudbruin en deurgaar.

10 Meng die bestanddele vir die roomkaasglaseersel en drup dit oor die rolletjies. Bedien terwyl die rolletjies nog effens warm is.