
Die ware Jakob
Jy benodig
(genoeg vir 8)
- 1 pakkie (500 g) droë wit nierboontjies, oornag geweek in koue water
- 800 g stowebeesvleis (meer vleis as bene)
- 1 ui, gekap
- 3 middelslag-wortels, gerasper
- 1 bossie sopseldery, fyngekap
- 2 lourierblare
- 2 knoffelhuisies, fyngedruk
- sowat 1½ l water
- 2 Knorr-aftrekselkapsules (stock pot)
- sout en swartpeper na smaak
- 2-3 bratwurst-worse
Só maak jy
1. Spoel die geweekte boontjies goed af en sit dit dan saam met die vleis, ui, wortel, sopseldery, lourierblare en knoffel in ’n groot potjie. Jy kan die groente en vleis eers verbruin as jy wil, maar dit is nie nodig nie.
2. Voeg die water by, sit die deksel op en verhit die pot tot kookpunt. Sodra dit goed kook, krap die kole oop onder die pot tot die hitte laag is en die pot net-net prut– hou die deksel op.
3. Loer nou en dan en skep die skuim af wat bo-op die sop vorm. Vul die vloeistof aan, indien nodig, en hou ook jou kole dop; die potjie moet vir minstens 2-3 uur aanhou prut tot die boontjies goed sag is en verkieslik begin breek.
4. Geur nou die potjie. Roer die aftrekselkapsules by en voeg sout en peper na smaak by. Druk ook van die bone sommer met ’n aartappeldrukker nóg fyner om die tekstuur te verdik en die vleis te versprei.
5. Voeg laastens die heel worse by die sop en kook dit vir ongeveer 15 minute. Skep dan die gaar wors uit en sny dit in skyfies. Skep dit dadelik terug in die sop en sit dit voor met warm brood en botter of gebraaide knoffelbroodjies.