Broccolislaai

akkreditasie
Foto: Mike Rose
Foto: Mike Rose
Dís mos hoe broccolislaai moet smaak: bros, pikant en romerig.

Dié broccolislaai het ek by Yvonne van Zyl op Vanrhynsdorp, doer aan die begin van die barre Knersvlakte, geëet. Sy het dit aangepas uit Huisgenoot Wenresepte 2000. 

Vir 6 mense

Jy benodig 

  • 2 broccolikoppe
  • 1 ui, baie fyngekap
  • 150 g cheddarkaas, in klein blokkies gesny
  • 250 g ham of spekvleis, in klein blokkies gesny (braai die spek voordat jy dit gebruik)

Vir die sous

  • 1 koppie mayonnaise
  • 100 ml kondensmelk

Só maak jy

1 Gooi ’n ketel vol kookwater oor die heel broccoli. Laat dit vir ’n paar minute staan en spoel dit dan deeglik af onder koue lopende water. Kap die broccoli baie fyn.

2 Meng die ui, kaas en ham by die broccoli.

3 Meng die sousbestanddele en roer dit deur die slaai. (Probeer ook die volgende vir die sous: Maak een knoffelhuisie met ’n mespunt sout fyn tot ’n smeer. Klits dit by 100 ml Griekse volvetjogurt en roer 100 ml goeie mayonnaise by. Klits laastens vinnig 100 ml witasyn en 50 ml strooisuiker by.)

Weg sê
Maak jou maar reg: Hierna gaan die kinders hulle neus nóg meer optrek vir flougekookte broccoli met witsous…